Dinsdag 27 September 2016

Die winter is verby!

'n skets van Lobelias in 'n hangmandjie - Geínspireer deur een van Cathy Johnson se sketse
.
Na die koue, lang winter, is dit tyd dat die natuur weer lewe kry. Die kort dae is nou langer en die perskebloeisels en groen gras begin oorneem. Van Lente was daar omtrent geen sprake nie en nou is dit Somer. Somer is buite-wees tyd. Sorgelose ure. Lang slenterstappe in die skemer se soeltes en ‘n braai onder gesellige sterre. Somer is groei – my kappertjies wat begin blom, vinkneste word gebou, klein voëltjies wat leer vlieg. 

Baie van my Kappertjies het dit deur die winter gemaak!

Nuwe lewe in die tuin! Die Rooiborsduif het 3 babatjies so vroeg in die seisoen.

Maar Somer het ook sy slegte kant. Dis ‘n tyd van lastige vlieë en muskiete, veral muskiete wat my hoenders byt en hoenderpokkies veroorsaak. Ek haat gifstowwe, maar vir muskiete en rotte het ek geen genade nie. Baie maal styg my irritasie vlakke saam met die temperatuur – enige iets hier oor 28℃ en ek sluit myself toe in my ateljee met die lugverfrisser op ‘n sterk 16℃. Stappies in die veld word gereël vir vroeg-oggend of skemer en die strand besoek ek net in die winter, wanneer die temperatuur gewoonlik so ‘n matige 23℃ is.
Maar wanneer alles eers begin blom en groen word, dan is die somer die moeite werd!


Saterdag 17 September 2016

Dis heerlike lente! ♪ ♪ ♪ ♪♪♪

Dis heerlike lente! ♪ ♪ ♪ ♪♪♪ Die winter's verby!


En uiteindelik is my tuin wakker! Die eerste tekens dat winter aan’t einde was, was die Clivias wat begin blom het, gevolg deur omtrent al die vetplantjies, elkeen so bly dat dit lente is!

Pleiospilos nelli – blom vir die eerste maal sedertdien ek dit in Februarie 2015 aangeskaf het.

 Al wat 'n vetplantjie is, sing van plesier!

Dit Rotstert-kaktus (Rattail cactus - Aporocactus flagelliformis) bars somtrent uit sy nate uit met nuwe blomme

Die pragtige blom van Aporocactus flagelliformis

 Mammillaria kaktus met sy ring-kroon blommetjies

Een van my Echeveria imbricata doen 'n ongewone ding hierdie jaar - haar blommetjies is geel in plaas van oranje en 'n nuwe "babatjie" sit aan 'n lang stingel in plaas van langs die plant. Dit word "sporting" genoem en die Engelse verduideliking is as volg : A sport in the plant world is a genetic mutation that results from a faulty chromosomal replication. The results of the mutation are a segment of the plant that is distinctly different from the parent plant in both appearance (phenotype) and genetics (genotype). The genetic change is not a result of unusual growing conditions; it is an accident, a mutation. In many cases the new trait can be handed down to the organism’s offspring.

Ek gaan die babatjie pluk en dit plant en hopelik sal ek dan nog Echeverias met geel blomme hê!  


Dinsdag 12 Julie 2016

Aloe ferox (Bitter aalwyn)


Aloe ferox, die Kaapse aalwyn, is ‘n inheemse plant van Suider Afrika. Dit word in die Suid Kaap, Oos Kaap en suidelike gedeelstes van KwaZulu/Natal, Vrystaat en Lesotho aangetref. Hier in Gauteng groei hulle taamlik goed indien hulle in vol son is en daar nie sterk ryp in die winter is nie, wanneer dit hul blomtyd is.

Die plant blom vanaf Mei tot September en is ’n stadige groeier met ’n enkel stam en dik, doringrige, vlesige blare en buisvormige, oranje-rooi blomme. Dit is ’n uitstekende struik vir die rotstuin en verkies vol son en matige water. Die sap van die blare word vir medisyne en skoonheidsprodukte gebruik. 

Die blaar van die Aloe ferox plant bevat twee verskillende sappe, nl. geel bitter sap en wit aalwynjel. Albei die sappe is heilsaam vir die liggaam en word uitwendig sowel as inwendig gebruik. Die bitter sap is direk onder die groen skil geleë en is in werklikheid nog deel van die skil. Wanneer ‘n blaar van die plant afgesny word vloei hierdie geel bitter sap spontaan uit die blaar uit. Wanneer die bitter sap gekonsentreer word, word bitter kristalle of bitter poeier gevorm. Die binneste vlesige deel van die blaar is jellierig en bestaan uit ‘n wit slymerige sap wat aalwynjel genoem word. Aalwynjel is nie bitter nie.


Die saad word deur voëls en die wind versprei en groei maklik net waar dit val. In die onderste foto lyk dit of ek al die aalwyne so in 'n ry geplant het, maar ek het 'n spesmaas sade van my ander drie groot aalwyne na links het hierheen gespoel, dalk met reënwater, aangesien dit effens afdraend is. Binnekort sal ek hulle moet uitdun en 'n sonnige plekkie vir hulle soek.

.
My ander drie Aalwyne verlede winter

Vroeë Koloniste is deur die Khoi geleer dat die sap van die blare gebruik kan word as ’n wond-beskermer. Die blare se sap is ook gebruik om brandplekke te behandel, en om inwendige en uitwendige parasiete by honde en beeste te verwyder. Afrika-stamme wend die sap aan as behandeling vir sere. Die sap is ’n sterk purgeermiddel vir beide mens en dier. A heerlike konfyt kan ook van die blare gemaak word. Vandag word die Bitter-aalwyn in verskeie vorme gevind, onder andere in pille en smeermiddels. Dit is kommersieel belangrik as ’n lakseermiddel, en word gebruik in talle gewilde mengsels.




Saterdag 11 Junie 2016

Rustyd vir my en die tuin


Dis winter en my tuin rus, behalwe vir die aalwyne en vetplante wat nou almal blom. Meeste van my vetplante wat in potte is, is in die huis ingebring vir die winter en net 'n paar wat ek dink gehard genoeg is, is nog buite. Vir party is dit hul eerste winter buite, so ek hou styf duimvas!


Die Crassula imperialis hier bo geniet die winter son en kan jy glo daar is 'n paadjie daar binne êrens? Dis een ding van as die tuin rus, dan rus ek ook en as ek weer kyk, het moeder natuur alles toe gegroei!

Hierdie Aalwyn (A. zebrina) het die mooiste koraalpienk blomme aan lang stingels en wanneer hulle klaar geblom het hierdie jaar, wil ek die sade versamel en nog van hulle plant. Hierdie is een van die min aalwyne wat nie omgee om in die koelte te groei nie.


Sover is al die Swaardvarings nog groen en ek hoop net nie ons kry erg ryp nie, want dan sal al my groenigheid weg wees.


Die afgelope somer het my grasperk (wat ek nog steeds beplan om te verminder!) mooi gegroei, maar die winter (en die rysmiere!) het al klaar hul merk gelos. Net duskant die kamera op die onderste foto is die grasperk vol kaal kolle waar die rysmiere hul skade aanrig. En daar's nie veel wat mens kan doen nie. Volgens die Koöperasie help gif-korrels wat gestrooi moet word nie (iets wat ek buitendien NOOIT in my tuin gebruik nie) aangesien net kontak-gif op rysmiere werk. En dis 'n onmoontlike saak, want hulle is almal diep onder die grond in hul nes. Dis 'n probleem waaraan ek nog werk...


Aalwyn (A. ferox)

Aalwyn ferox in volle blom

Aalwyn striatula se blomme

Aalwyn zebrina in volle blom

::

Woensdag 17 Februarie 2016

Wat 'n tuin nodig het

'n Tuin benodig geduld, werk en aandag. Plante groei nie net met ambisie en goeie bedoelings nie. Hulle floreer omdat iemand tyd aan hulle bestee het.

Om 'n tafel in die tuin te dek is 'n daad wat die tuin vier, wat wys dat jy haar skoonheid waardeer en dat jy dankbaar is vir haar oorvloed.

Daar is ietsie uiters bevredigend omtrent 'n bos wortels met die blare nog aan. Dalk is dit die gedagte van hulle uit die grond trek...


::