Sondag 11 Desember 2022

'n Nuwe ontdekking -- Seweweeksvaring



Gedurende die afgelope winter het 'n pragtige varing ewe skielik haar verskyning in 'n skaduwee-hoekie in my tuin gemaak en ek het sommer besluit om 'n spesiale hoekie met 'n voëlbad te maak vir al my geveerde vriendjies.


Dit was nie lank voor die voëltjies die hoekie ontdek het nie. Hierdie hoekie is reg buite my slaapkamer venster en ek kan ure sit en dophou hoe hulle bad en stry onder mekaar vir die beste plekkie.


Die Gewone waternaeltjie (dalk Pennywort?) het ook vanself tussen die plaveisel opgekom en maak 'n pragtige grondbedekking so tussen die plaveisel.


Die Seweweeksvaring (Rumohra adiantiformis) is 'n varingspesie wat in Suid-Afrika inheems is aan die Wes-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. Dit groei byvoorbeeld op die grond in die woud van Knysna, maar ook in die fynbos en die bosveld

Die plant groei nie hoër as 50cm nie en het 'n voorkeur vir vogtige plekkies. Onder natuurlike groeitoestande ontwikkel die seweweeksvaring slegs beperkte hoeveelhede sori op blare, terwyl groot hoeveelhede sori ontwikkel wanneer die varing onder skadunet verbou word.



Met al die reën wat ons die afgelope weke gehad het, het die varing so baie gegroei dat ek een plaveiselblok moes verwyder om haar meer spasie te gee. En net oorkant hierdie een is daar nog twee varinkies wat pos gevat het. Hopelik kan ek 'n gepaste plekkie vir hulle ook kry.


Wonder hoekom dit juis Seweweeksvaring genoem word ...?


Engels : Leather-leaf Fern


::



Donderdag 07 April 2022

En saggies sluip herfs in...








Herfs hier by die kus is heeltemal anders as op die Hoëveld. Die verskuiwing van kleur is minder merkbaar hier. Daar is nie die geel van herfs-Stinkhoutblare nie, of die diep oranjes van perskeboomblare nie, Palm- en Piesangbome bly heeljaar deur groen, so ook die gras (wat hier op die kus  in elk geval maar nie te watwonders is nie!) en die Koraalbome vervang hulle groen blare met helder rooi blomme.


'n Vroeë Herfsoggend wat belowe om snik-warm te wees.

'n Pragtige Herfs-sonsondergang







Glinster (Tradescantia pallida) ook bekend as "liefde vir die mens", blom te pragtig in die Herfs. Dit is 'n plant wat baie omgewings en situasies goed weerstaan. Nie inheems aan Suid Afrika nie, maar hulle kan bykans by alle soorte klimaat en grond aanpas, solank dit blootgestel word aan direkte lig.


Glinster of Tradescantia pallida in my herfs-tuin.

Maar wees versigtig waar jy hierdie pragtige plant in jou tuin sit, want dit is taamlik indringerig en dit kan die leefruimte van ander plante binnedring. Maar dit is nogal 'n eksotiese dekoratiewe plant wat die moeite werd is om te hê.

:::

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...