Saterdag 11 Junie 2016

Rustyd vir my en die tuin


Dis winter en my tuin rus, behalwe vir die aalwyne en vetplante wat nou almal blom. Meeste van my vetplante wat in potte is, is in die huis ingebring vir die winter en net 'n paar wat ek dink gehard genoeg is, is nog buite. Vir party is dit hul eerste winter buite, so ek hou styf duimvas!


Die Crassula imperialis hier bo geniet die winter son en kan jy glo daar is 'n paadjie daar binne êrens? Dis een ding van as die tuin rus, dan rus ek ook en as ek weer kyk, het moeder natuur alles toe gegroei!

Hierdie Aalwyn (A. zebrina) het die mooiste koraalpienk blomme aan lang stingels en wanneer hulle klaar geblom het hierdie jaar, wil ek die sade versamel en nog van hulle plant. Hierdie is een van die min aalwyne wat nie omgee om in die koelte te groei nie.


Sover is al die Swaardvarings nog groen en ek hoop net nie ons kry erg ryp nie, want dan sal al my groenigheid weg wees.


Die afgelope somer het my grasperk (wat ek nog steeds beplan om te verminder!) mooi gegroei, maar die winter (en die rysmiere!) het al klaar hul merk gelos. Net duskant die kamera op die onderste foto is die grasperk vol kaal kolle waar die rysmiere hul skade aanrig. En daar's nie veel wat mens kan doen nie. Volgens die Koöperasie help gif-korrels wat gestrooi moet word nie (iets wat ek buitendien NOOIT in my tuin gebruik nie) aangesien net kontak-gif op rysmiere werk. En dis 'n onmoontlike saak, want hulle is almal diep onder die grond in hul nes. Dis 'n probleem waaraan ek nog werk...


Aalwyn (A. ferox)

Aalwyn ferox in volle blom

Aalwyn striatula se blomme

Aalwyn zebrina in volle blom

::
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...