Wys tans plasings met die etiket aalwyne. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket aalwyne. Wys alle plasings

Saterdag 11 Junie 2016

Rustyd vir my en die tuin


Dis winter en my tuin rus, behalwe vir die aalwyne en vetplante wat nou almal blom. Meeste van my vetplante wat in potte is, is in die huis ingebring vir die winter en net 'n paar wat ek dink gehard genoeg is, is nog buite. Vir party is dit hul eerste winter buite, so ek hou styf duimvas!


Die Crassula imperialis hier bo geniet die winter son en kan jy glo daar is 'n paadjie daar binne êrens? Dis een ding van as die tuin rus, dan rus ek ook en as ek weer kyk, het moeder natuur alles toe gegroei!

Hierdie Aalwyn (A. zebrina) het die mooiste koraalpienk blomme aan lang stingels en wanneer hulle klaar geblom het hierdie jaar, wil ek die sade versamel en nog van hulle plant. Hierdie is een van die min aalwyne wat nie omgee om in die koelte te groei nie.


Sover is al die Swaardvarings nog groen en ek hoop net nie ons kry erg ryp nie, want dan sal al my groenigheid weg wees.


Die afgelope somer het my grasperk (wat ek nog steeds beplan om te verminder!) mooi gegroei, maar die winter (en die rysmiere!) het al klaar hul merk gelos. Net duskant die kamera op die onderste foto is die grasperk vol kaal kolle waar die rysmiere hul skade aanrig. En daar's nie veel wat mens kan doen nie. Volgens die Koöperasie help gif-korrels wat gestrooi moet word nie (iets wat ek buitendien NOOIT in my tuin gebruik nie) aangesien net kontak-gif op rysmiere werk. En dis 'n onmoontlike saak, want hulle is almal diep onder die grond in hul nes. Dis 'n probleem waaraan ek nog werk...


Aalwyn (A. ferox)

Aalwyn ferox in volle blom

Aalwyn striatula se blomme

Aalwyn zebrina in volle blom

::

Vrydag 17 Julie 2015

Bloedrooi die aalwyn in winter

W&N waterverf van 'n aalwyn in my tuin

Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.


En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!

Foto vanaf die internet

::

Saterdag 25 April 2015

Jou wintertuin


Junie is ‘n luilekker maand in die tuin. Jy kan ontspan en konsentreer om die lewegewende sonstrale toe te laat om jou winterlyf salig op te warm. Daar is minder om te doen as gewoonlik, so geniet die anderse skoonheid van hierdie koue maand. ‘n Tuin is egter ‘n lewende organisme wat steeds sekere onderhoudstake verg. Gebruik die rusfase tot jou voordeel deur juis nou geharde en semi-geharde plante te plant. Met die flouerige sonnetjie word waterverlies tot ‘n minimum beperk, asook oorplantingskok. Net so is dit nou die tyd om plante wat op die verkeerde plek geplant is, te verplant.

Dit is ook die perfekte tyd om onwettige indringerplante in jou tuin te identifiseer en uit te roei. Neem voorbeelde na jou tuinsentrum vir identifikasie en doen navraag oor moontlike inheemse plaasvervangers.

Kleur is ‘n onderwerp wat altyd hierdie tyd van die jaar na vore kom en gewoonlik in die vorm van ‘n gekerm oor die vaal, kleurlose en droewige winter. Ons almal sit en wag met reuse verwagting op die lente, want dan gaan ons beter voel. Alles wat die winter ‘n wonderlike, spesiale tyd maak word vernietig deur die onjuiste siening dat dit vaal en dood is.


Aalwyne is ongetwyfeld dié plante wat die meeste aandag in die winter trek. Hulle kan die rol vervul van statige fokusplante, potplante of kleurvolle grondbedekkers. Die verskeidenheid is groot en met hul stylvolle, argitektoniese voorkoms is daar plek in van die modernste kontemporêre ontwerpe tot inheemse natuurtuine. Aalwyne is gehard en bestand teen droogte.

 Petunias (P. × atkinsiana, ook bekend as P. hybrida)

Gesiggies - (Familie Violaceae, genus Viola)

Viooltjies (Familie Violaceae, genus Viola)
Petunias kan in massas in warm sonnige beddings geplant word. Hulle floreer in die kouer, droër maande en blom so sterk dat hul blare nie eers sigbaar is nie. Gesiggies en viooltjies is gemaak vir nou. Hulle is dankbaar, gehard en veelsydig.


Die Agapant is ongetwyfeld een van ons inheemse botaniese skatte. Dit is na alle uithoeke van die aarde uitgevoer, maar kom net in Suider-Afrika in die natuur voor, waar dit wild groei in al ons provinsies, behalwe die Noord-Kaap, sowel as in Lesotho, Swaziland en Mosambiek. Plant hulle nou en hulle sal jou die hele somer lank beloon met hul pragtige blomme.


BUDDLEJA SALVIFOLIA/SALIEHOUT/SAGEWOOD
Immergroen boom tot 8m hoog met grys blare. Trosse pers/wit blomme in die laatwinter wanneer daar niks anders is nie. Dit lok geweldig baie insekte, voëƒls en skoenlappers. Vra nie baie water nie, groei goed in son of skadu. NB: aggressiewe wortelstelsel, plant ver van geboue en plaveisels.


Plant ’n confettibos (Coleonema pulchellum)
Mei tot September is ’n ideale tyd om die confetti-bos (Coleonema pulchellum) met sy pragtige pastelblomme te plant. Die nektar lok skoenlappers, bye en ander klein insekte, wat op hul beurt dan ook allerhande pragtige voëltjies lok. Confettibosse weerstaan ligte tot matige ryp en die herfs is die beste tyd om hulle te plant. Kies 'n sonnige plek waar die grond goed dreineer.

.