Dinsdag 30 Desember 2014

Waterbesparing in Suid-Afrika


Water is 'n skaars hulpbron en moet te alle tye bespaar word, veral in Suid-Afrika, wat as 'n waterarm land beskou word. Die verstedeliking en die gevolglike bevolkingsaanwas in stedelike en veral metropolitaanse gebiede plaas druk op die beperkte varswaterbronne. Dat die hoeveelheid varswaterbronne in die toekoms sal moet vermeerder, is 'n gegewe. Die mikpunt van 'n doeltreffende dorps- of stadsraad is om die hoeveelheid waterverbruik laag genoeg te hou sodat 'n skielike watertekort nie die inwoners oorval nie, en dat genoeg tyd gegun word om 'n alternatiewe waterbron te soek of te bou.

'n Onlangse studie wat deur die Departement van Waterwese en Bosbou gedoen is beweer dat, teen die jaar 2030, gaan Suid-Afrika in 'n ernstige waterkrisis gedompel wees. Dit maak dus heeltemal sin dat ons ten alle tye moet probeer om water te bespaar, en een van die belangrikste maniere waarop ons dit kan doen, is om inheemse en droogte-bestande plante in ons tuine te plant.

Balsem Kopiva (Bulbine frutescence)

Kruie, vetplante en kaktusse is uiters geskik vir ons klimaatstoestande en daar is baie inheemse soorte om van te kies. Hulle gebruik minimale water en party het ook min versorging nodig. Bowendien het meeste van hulle, soos die Balsem kopiva hier bo, medisinale waarde - die blaarsap word gebruik vir, onder andere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope, insek bytplekke en is wonderlik vir skrape en snytjies wat jy opdoen terwyl jy in die tuin werk. 


As jy die spasie het, is dit ook 'n goeie idee om 'n dammetjie in jou tuin te maak waarheen jy reënwater kan lei en die dam dan te gebruik vir besproeiing vir die tuin. Myne is met sement uitgelê en ek herlei al die dak water van ons huis soontoe. Ek het 'n klein swembad pomp geïnstalleer en 'n tuinslang aan die 'outlet' gekoppel en met die draai van 'n kraan kan ek die hele tuin natspuit teen omtrent geen onkoste nie.


Die klank van water is altyd kalmerend en gee 'n verfrissende, koel gevoel aan enige tuin in die somer. So dink vandag aan 'n paar maniere om water te bespaar en jy sal verbaas wees hoeveel jy eintlik kan doen!

.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...