Wys tans plasings met die etiket tuin. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket tuin. Wys alle plasings

Saterdag 15 Junie 2024

Wanneer laas...?

.
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.
Hier buite was dit effens toegetrek met ‘n ligte en aangename briesie.
.
Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie.
.
Hoekom nie?
.
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?
.
Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons aangaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.
.
Wanneer was die laaste maal dat jy ‘n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe ‘n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel…?
.
 .
.
Hoekom dit nie vandag doen nie?
.

Donderdag 07 April 2022

En saggies sluip herfs in...








Herfs hier by die kus is heeltemal anders as op die Hoëveld. Die verskuiwing van kleur is minder merkbaar hier. Daar is nie die geel van herfs-Stinkhoutblare nie, of die diep oranjes van perskeboomblare nie, Palm- en Piesangbome bly heeljaar deur groen, so ook die gras (wat hier op die kus  in elk geval maar nie te watwonders is nie!) en die Koraalbome vervang hulle groen blare met helder rooi blomme.


'n Vroeë Herfsoggend wat belowe om snik-warm te wees.

'n Pragtige Herfs-sonsondergang







Glinster (Tradescantia pallida) ook bekend as "liefde vir die mens", blom te pragtig in die Herfs. Dit is 'n plant wat baie omgewings en situasies goed weerstaan. Nie inheems aan Suid Afrika nie, maar hulle kan bykans by alle soorte klimaat en grond aanpas, solank dit blootgestel word aan direkte lig.


Glinster of Tradescantia pallida in my herfs-tuin.

Maar wees versigtig waar jy hierdie pragtige plant in jou tuin sit, want dit is taamlik indringerig en dit kan die leefruimte van ander plante binnedring. Maar dit is nogal 'n eksotiese dekoratiewe plant wat die moeite werd is om te hê.

:::

Vrydag 01 Februarie 2019

Daar is nuwe lewe in die tuin!


Dis vroeg-somer en al wat 'n hoender en 'n voël is, is broeis! Kiep sit al vir twee weke op 'n kamma-eier (ek verwyder al die eiers aangesien ek nie nog hoenders wil hê nie en gee vir hulle 'n golfbal wanneer broeisgeit hulle tref!)


'n Paar weke terug het ek opgelet dat die Fiskaallaksman op haar nes sit en hierdie keer het ek die nes  fyn dop gehou om te sien wanneer die die kleintjies uitkom. 'n Week of so terug het ek uiteindelik die kleintjies gesien. Eintlik meer gehoor as gesien, die geraas wat hulle maak om gevoer te word is oordowend! En Mama Fiskaal het haar hande vol hierdie seisoen, sy het sommer drie!

Lekker rustig na 'n vet sprinkaan, gee hierdie enetjie glad nie om dat ek so naby is nie!

Magie vol, ogies toe!


My Janfrederik (Cape Robin-chat - (Cossypha caffra) het laat-September 2 eiers gelê en vanoggend was ek vreeslik opgewonde toe ek sien sy dra maalvleis wat ek op die voertafel sit aan na die nes. Terwyl sy weg was, het ek gou nader gesluip en 'n paar foto's geneem en daasy! twee van die pragtigste, kleinste Janfrederikkies!


Nou's dit net 'n geval van hoop die Fiskaallaksman sien nie die kleintjies nie, maar gelukkig voorsien ek genoeg kos vir haar en haar kleintjies and hopelik het sy nie nodig om in enige neste te gaan rondkrap nie!


Die Lyster (Karoo Thrush) is ook besig om grasse op te dra na die takke in die Wit Karee en die Mynahs sit ook op eiers binne in die nok van die grasdakkie bo-oor my hek - 'n doring in my vlees, want hulle verwyder al die gras, maak gate oral en bowendien rand hulle al wat 'n klein voëltjie is in die tuin aan. Volgende op my lys is om die grasdakkie te laat regmaak en toe te span met ogiesdraad, hopelik sal hulle trek en 'n nuwe tuiste vind!



My twee Bosduiwe (Speckled pigeon - Columba guinea of African rock pigeon) het alreeds laat-winter twee kleintjies gehad en hulle is nog steeds hier rond saam met die ouers maar sal binnekort vertrek en hul eie area gaan uitsoek. Meer as een paartjie in 'n tuin is moeilikheid soek - hulle is uiters morsige voëls, soos alle duiwe, en dis 'n daaglikse taak om die stoep skoon te maak. Maar ek voel vreeslik geseënd dat ek twee het wat my tuin (eintlik my dak!) gekies het en hier bly.
 

Donderdag 20 Oktober 2016

Kaalvoet in die reën


Na die eerste heerlike reën van die seisoen, is dit vandag 'n pragtige blou, koel somersdag en my gedagtes gaan terug na my jong dae in die laat 1950's toe ons as kinders na elke reënbui buite in die waterpoele gaan speel het, kaalvoet en sonder sorge. Uitbundig gelag en mekaar met die water bespat en dit het nie saak gemaak dat ons vol modder geword het of dat ons klere besmeer was nie (daar was mos ordentlike "Surf" in daardie dae) - en in daardie dae is ons gedurig aangemoedig om buite te gaan speel.
.


En eintlik het ons nie 'n ander keuse gehad nie - geen TV, geen rekenaars en geen selfone of X-box nie, ons moes ons self vermaak. Hop-skotch, kennetjie, leap frog, draadkarretjies wat ons self gemaak het en rond gestoot het op "dorpstrate" wat ons in die sand gemaak het, vlieërs gevlieg, bome geklim en gespeel ons is Tarzan, veldblommetjies bymekaar gemaak om huistoe te vat vir Ma is maar 'n paar van die goed waarmee ons onsself besig gehou het.



En dis hoe ek vroeg vanoggend gevoel het, lus om kaalvoet in die poele water te plas. Of 'n vlieër in die sterk briesie te vlieg. Ek het my pantoffels in die huis gelos en kaalvoet oor die gras geloop na die reënmeter om te sien hoeveel ons gehad het. Gisteraand se stormagtige 28mm reën het die aarde goed gedoen, en my siel ook. Dis sommer asof al die spinnerakke weg gewas is tesame met die verskriklike hitte wat ons die afgelope weke ondervind het. Die dor aarde verdor sommer jou menswees ook, maak dat jy lus is vir niks. Ek kon aan niks kom nie en was net so verlep soos my Krismisrose. Maar nou staan hulle almal weer regop, verfris na daai hemelse water en

Ek wil dans
kaalvoet in die reën.
wil die druppels tel
een vir een.
Die reuk van grond nat,
water wat teen die ruite spat.
Die weer se gedonder,
God se wonder.
Dan raak dit binne stil,
en laat die prag
die leemte vul.
Weg al die kommer
en seer
dan breek die strale deur.
Aangehuppel
oor die laaste druppel.
Dit lag binne my
skoongewas en vry!
-

Donderdag 22 Oktober 2015

Skep 'n water-vriendelike tuin


Dit is belangrik om te besef dat ‘n waterwystuin wat nou aangeplant word nie net in die afsienbare toekoms nie, maar ook oor 40 of 50 jaar voordele sal inhou wanneer water selfs nóg skaarser sal wees.

Die uitdaging vir ons almal is om water in ons tuine optimaal te benut as ‘n leefwyse. Die beste manier om dit te doen, is om die reuseverskeidenheid inheemse blomme van ons omgewing tot ons voordeel te benut

Grondwaterretensie is lewensnoodsaaklik vir 'n plant se vermoë om water te gebruik. Probeer om 'n grondbenattingsmiddel te
gebruik om die grond te help om water wat gegee word, te behou en te absorbeer.

Grondvoorbereiding
Grondbedekking en komposverryking hou die volgende voordele in:

bewaar grondvog en verminder die verdamping van water
voorkom gronderosie en water wat wegloop, en behou maksimum water
verminder onkruid en bespaar só water
absorbeer hitte en hou die grond daaronder koel
verminder temperatuurskommelinge
verbeter die grondtoestand en voedingstowwe tydens die verrotting van kompos
Strooi, bassnippers, gruis, klippies, blootgestelde aggregaat, neutdoppe en blare is ook materiaal wat as deklaag vir grond
gebruik kan word.

Gryswater of water wat in die huis weggegooi word, word dikwels gemors. Dit kan liewer in die tuin gebruik word. Baie mense het maniere uitgedink om badwater en reënwater op te vang en dit vir tuingebruik te herwin.

Minder water gaan deur verdamping verlore wanneer tuine vroegoggend natgemaak word. Sekere plante ontwikkel
swamme wanneer dit saans natgemaak word - soos skimmel op rose en jakobregoppe, en roes op grasperke.

Carex ‘Frosted Curls’ is ’n ideale grassie om te koop.  Polle raak so 40 tot 60 cm hoog.  Verkies volson of spikkelskadu en nie te veel water nie, maar moet nooit die plante laat uitdroog nie.  Hierdie grassies maak oulike water-wyse grondbedekkers wat 'n sagte golwende kontras vorm met harde tuin paadjies.  Ook ideale vuller-plante.


Woensdag 23 September 2015

Verbaas en gelukkig!


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is... Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.


Jy sou dalk lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.


Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter. 


Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...



My amper 40-jaar oue perskeboom weier om op te gee - nuwe bloeisels dui op nog baie lewe in hierdie ou dame. Verlede jaar het die regterkantste tak mee gegee onder die gewig van al haar vrugte en dit lyk of sy weer hierdie somer haar bes gaan probeer!

.

Saterdag 05 September 2015

Eenvoudig en moeite vry


Tuine wat voortdurend aandag verg, word deesdae al skaarser namate mense se vrye tyd kosbaarder word. ’n Groot grasperk, oordadige blombeddings en ’n netjiese, formele uitleg verg nougesette aandag aan detail. Daar is rande om te sny, heinings om te knip, blare om te hark, dooie blomme om uit te breek, struike om te snoei, jaarplante om te saai en uit te plant, bolle om te lig en rose wat bespuit en gesnoei moet word. Ek het my grasperk gedeelte met die helfte verminder, paadjies en nog beddings aangebring  en ook van die meeste uitheemse en moeite-vergende blomme en plante ontslae geraak. Om elke jaar bolle te lig en in die lente weer te plant, is nie vir my beskore nie! Net so om plante aan te hou wat elke winter met "frost covers" toe gemaak moet word.


Ek het deesdae ook nie veel sin daaraan om plante wat gepamperlang moet word, aan te hou nie. Die Pachypodium lameri in die middel van bostaande foto was eers in 'n pot, elke jaar 'n groter pot, wat ek jaar na jaar elke winter en elke lente in en uit gedra het om dit teen die ryp te beskerm, totdat ek eendag genoeg gehad het en hom in 'n vol-son kol in die tuin geplant het. Hy het pragtig gevorder vir 'n paar seisoene totdat een partikulêre ysige winter een te veel was vir hom. Hierdie pragtige plant is vanaf Madagaskar en sal hier in Suid Afrika alleenlik in 'n ryp-vrye tuin aard.


Waterbesparing is ook nog ’n rede om jou tuin so te ontwerp dat dit die minimum onderhoud verg en wat gebruik maak van inheemse plante en materiale en strukture wat die minste moeite vereis. Aalwyne en sekere vetplante is baie geskik vir hierdie doel - verg min water en aandag en beloon mens elke jaar met die pragtigste kleur in die tuin.



Daar is selfs skadu-liewende aalwyne wat uitstekend sal groei in half-skadu, soos die pragtige A. zebrina hierbo. Hulle Koraal-pienk blomme lyk pragtig in die skaduwee.



'n Paar interessante wel-geplaasde strukture, potte en groot klippe sal ook interessantheid aan die tuin verleen sonder veel onderhoud of moeite.




Hierdie groot swamme het vanself langs my tuinpaadjie langs die groot klip opgekom en na 'n paar weke was hulle kliphard, soos pottebakkers-sampioene!

(Wikipedia sê 'n Swam of skimmel is enige lid van 'n groot groep eukariotiese organismes wat mikro-organismes soos gis en muf, asook die bekender sampioene insluit. Swamme vorm die koninkryk Fungi, 'n biologiese koninkryk wat apart is van die plante en diere. Een groot verskil tussen plante en swamme, is dat swamme se selle selwande het wat chitien bevat, terwyl plante se selwande sellulose bevat. Hierdie en ander verskille dui daarop dat swamme 'n aparte groep verwante organismes is, die sogenaamde Eumycota of "ware swamme"; 'n groep wat 'n gemeenskaplike voorouer deel. Swamme word dwarsdeur die wêreld aangetref en die meeste is onopvallend vanweë hul klein grootte en strukture, die manier waarop sommige hulself kamoefleer en as simbiote van plante, diere en ander swamme. Hulle kan opvallend word wanneer hulle "vrugte" dra: sogenaamde "sporokarpe", soos sampioene of muf. Swamme vertolk 'n belangrike rol in die ontbinding van organiese stowwe en het fundamentele rolle in die herwinning en verdeling van voedingstowwe in die natuur.)


Hou jou tuin eenvoudig en moeite vry en vol interessanthede en jy sal nooit daardie skuldige gevoel van "O! Ek verwaarloos my tuin!" kry nie!

.

Woensdag 29 Julie 2015

Blousyselbos - Vergeet-my-nie (Plumbago)

Daar is ’n koel kalmte aan die massas floksieagtige, sagte blou blommetjies van Plumbago auriculata (blousyselbos) wat wild oor grensdrade en oor mure spoel. Kan daar ’n mooier heiningplant of meer ontspanne struik wees wat so geil blom in ’n warm somer tuin?


Een van my gunsteling plante, die Blousyselbos (Plumbago auriculata) in sy blou vorm, wat ek nie meer het nie, hierdie foto is in my vorige tuin geneem. Dis ‘n bosserige struik en blom vanaf laat-lente tot herfs en maak ’n uitstekende heiningplant. Dit groei beste in ’n sonnige tot semi-skaduposisie en is baie ’water wise’ en voëlvriendelik. Dit word ook gereeld besoek deur skoenlappers en is een van die gasteplante vir die gewone Blou Skoenlapper (Cyclyrius pirithous). Hulle sê die plant weerstaan semi-koue en is ryp-gehard, maar my ondervinding was dat die ryp dit elke jaar tot die grond afgemaai het. Gelukkig herstel dit gou en het elke jaar net groter en groter geword.

Daai stekelrige en harerige gedeeltes wat jy daar sien tussen die blomme is verskriklik taai en hemel verhoed dat jy tussen dit deurkruip (soos ek baie maal gedoen het om die ou gedeeltes uit te snoei), want jy kom daaruit met omtrent die hele bos wat aan jou vassit!

Die Blousyselbos is inheems aan Suid Afrika en kom voor in die Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal asook in Gauteng en aanliggende dele van die Vrystaat en NoordWes Provinsie. Was voorheen bekend as Plumbago Capensis.

As informele heiningplante vir groot tuine is hulle beslis ’n goeie keuse. Die struike sal sonder inmenging van ’n tuinier met groot gemak ’n volwasse hoogte van meer as 3m bereik en 3m breed word. Met minder ruimte en ’n skerp snoeiskêr kan jy die lieflike inheemse blousyselbos ook in klein tuine plant en ’n lae skerp geknipte heining kweek, ’n netjiese spesimen-struik vorm wat ’n onooglike plekkie moet afskerm, of jou selfs oorgee aan die siersnoeikuns en hulle oplei in die vorm van hoogstamboompies. Hulle is ewe mooi in potte as hulle netjies gesnoei word, gereeld met ’n vloeibare misstof bemes word en baie water kry wanneer dit warm is.

Die plant se loof is fyn en saggroen. Die blomme is poeierblou of wit en herinner aan die outydse, suikersoet en taai floksies in Ouma se somertuin waarvan ons as kinders altyd die soet nektar uitgesuig het en oorbelle gemaak het.


DIE BLOM
Ons weet almal van ’n tuin v-o-l blomme,
elkeen sy eie kleur, sy eie geur.
Nou, ons elkeen soek die perfekte blom,
maar ken jy die een,
wat saam met jou huis toe kom?
Sagkens soek,
ek moet versigtig wees ek sien jou raak,
dit moet! jy wees.
Alles wat ek in ’n blom kon kry vind ek in jou,
kom saam my! Doudruppeltjies klein,
en druppeltjies fyn op jou blare,
mooipraat, pyn.
Om jou wortels met my hande gegrawe jou losgemaak,
uit die aarde,
outhede begrawe.
In ’n pot goud jou weer geplant.
Altyd!, sal ek jou water gee vir wind en onkruid,
sal ek sê nee!
Want in ’n huis van glas is waar jy sal bly
vir ewig en altyd, ek en jy!
- Jan Allerman


.