Wys tans plasings met die etiket waterbesparing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket waterbesparing. Wys alle plasings

Saterdag 05 September 2015

Eenvoudig en moeite vry


Tuine wat voortdurend aandag verg, word deesdae al skaarser namate mense se vrye tyd kosbaarder word. ’n Groot grasperk, oordadige blombeddings en ’n netjiese, formele uitleg verg nougesette aandag aan detail. Daar is rande om te sny, heinings om te knip, blare om te hark, dooie blomme om uit te breek, struike om te snoei, jaarplante om te saai en uit te plant, bolle om te lig en rose wat bespuit en gesnoei moet word. Ek het my grasperk gedeelte met die helfte verminder, paadjies en nog beddings aangebring  en ook van die meeste uitheemse en moeite-vergende blomme en plante ontslae geraak. Om elke jaar bolle te lig en in die lente weer te plant, is nie vir my beskore nie! Net so om plante aan te hou wat elke winter met "frost covers" toe gemaak moet word.


Ek het deesdae ook nie veel sin daaraan om plante wat gepamperlang moet word, aan te hou nie. Die Pachypodium lameri in die middel van bostaande foto was eers in 'n pot, elke jaar 'n groter pot, wat ek jaar na jaar elke winter en elke lente in en uit gedra het om dit teen die ryp te beskerm, totdat ek eendag genoeg gehad het en hom in 'n vol-son kol in die tuin geplant het. Hy het pragtig gevorder vir 'n paar seisoene totdat een partikulêre ysige winter een te veel was vir hom. Hierdie pragtige plant is vanaf Madagaskar en sal hier in Suid Afrika alleenlik in 'n ryp-vrye tuin aard.


Waterbesparing is ook nog ’n rede om jou tuin so te ontwerp dat dit die minimum onderhoud verg en wat gebruik maak van inheemse plante en materiale en strukture wat die minste moeite vereis. Aalwyne en sekere vetplante is baie geskik vir hierdie doel - verg min water en aandag en beloon mens elke jaar met die pragtigste kleur in die tuin.



Daar is selfs skadu-liewende aalwyne wat uitstekend sal groei in half-skadu, soos die pragtige A. zebrina hierbo. Hulle Koraal-pienk blomme lyk pragtig in die skaduwee.



'n Paar interessante wel-geplaasde strukture, potte en groot klippe sal ook interessantheid aan die tuin verleen sonder veel onderhoud of moeite.




Hierdie groot swamme het vanself langs my tuinpaadjie langs die groot klip opgekom en na 'n paar weke was hulle kliphard, soos pottebakkers-sampioene!

(Wikipedia sê 'n Swam of skimmel is enige lid van 'n groot groep eukariotiese organismes wat mikro-organismes soos gis en muf, asook die bekender sampioene insluit. Swamme vorm die koninkryk Fungi, 'n biologiese koninkryk wat apart is van die plante en diere. Een groot verskil tussen plante en swamme, is dat swamme se selle selwande het wat chitien bevat, terwyl plante se selwande sellulose bevat. Hierdie en ander verskille dui daarop dat swamme 'n aparte groep verwante organismes is, die sogenaamde Eumycota of "ware swamme"; 'n groep wat 'n gemeenskaplike voorouer deel. Swamme word dwarsdeur die wêreld aangetref en die meeste is onopvallend vanweë hul klein grootte en strukture, die manier waarop sommige hulself kamoefleer en as simbiote van plante, diere en ander swamme. Hulle kan opvallend word wanneer hulle "vrugte" dra: sogenaamde "sporokarpe", soos sampioene of muf. Swamme vertolk 'n belangrike rol in die ontbinding van organiese stowwe en het fundamentele rolle in die herwinning en verdeling van voedingstowwe in die natuur.)


Hou jou tuin eenvoudig en moeite vry en vol interessanthede en jy sal nooit daardie skuldige gevoel van "O! Ek verwaarloos my tuin!" kry nie!

.

Saterdag 03 Januarie 2015

Balsemkopiva - Bulbine frutescens


‘n Inheemse en pragtige en vrolike plant vir jou tuin wat oulike randplante asook houer plante maak is Bulbine frutescens of Balsemkopiva. Die plantjie groei maklik en alhoewel ek myne as saailinge gekoop het, kan jy eenvoudig ‘n stukkie in die grond druk en omtrent drie weke later het jy ‘n nuwe plantjie.


Balsemkopiva plantjies benodig nie baie water nie, hulle is waterslim plante en hulle oorleef ook taamlike swaar ryp redelik maklik. Hulle kan oorleef op baie droë gebiede en hou van vol son. Boonop lok hulle baie bye en skoenlappers na jou tuin. 


Dis ‘n eg Suid Afrikaanse plantjie met baie medisinale waarde. Die blaarsap word gebruik vir onder andere sere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope en insek bytplekke. Met tuinwerk is dit onvermydelik om soms skrape en steke op te doen, dan pluk ek sommer 'n blaartjie (of stengel) en smeer die sap aan die wond.


Daar is nie nóg ’n medisinale plant wat so veeldoelig soos die kopieva (Bulbine frutescens) is nie. Geen huishouding behoort daarsonder te wees nie. Dié krui is ’n ongelooflike kuur vir enige velkwaal. Dit kan gebruik word om velkwale soos ekseem, byt- en steekplekke, sproete, aknee, velvlekkies, liddorings, bloublasie-wonde, brandwonde, sonbrand, gebarste lippe en bedsere te behandel. Dit bevat ook antibiotika en dien as bloedstelpmiddel en ligte ontsmettingsmiddel. Selfs wintershande en bruin vlekkies op die hande kan met bulbine-produkte behandel word.

Die pragtige blomme van Bulbine


Balsemkopiva vertoon pragtig in enige pot solank as dit in vol son is. Alhoewel droogte-bestand, groei Balsemkopiva baie weliger as dit baie water kry.

 Bulbine vertoon pragtig teen 'n aftergrond van Afrikaners 

Kappertjies groei welig sommer so tussen die Bulbine 

As jy bulbine wil plant, koop ’n plantjie by jou naaste kwekery. Maar dit is vreeslik maklik om te plant en as jy 'n steggie van 'n vriendin kan kry, steek dit in 'n pot of in jou tuin in 'n sonnige plekkie en jy sal nooit weer daarsonder wees nie! Dit stoot gereeld klein plantjies uit en binnekort sal jou plant 'n groot bos wees, sommer so 'n halwe meter in omtrek.

.

Dinsdag 30 Desember 2014

Waterbesparing in Suid-Afrika


Water is 'n skaars hulpbron en moet te alle tye bespaar word, veral in Suid-Afrika, wat as 'n waterarm land beskou word. Die verstedeliking en die gevolglike bevolkingsaanwas in stedelike en veral metropolitaanse gebiede plaas druk op die beperkte varswaterbronne. Dat die hoeveelheid varswaterbronne in die toekoms sal moet vermeerder, is 'n gegewe. Die mikpunt van 'n doeltreffende dorps- of stadsraad is om die hoeveelheid waterverbruik laag genoeg te hou sodat 'n skielike watertekort nie die inwoners oorval nie, en dat genoeg tyd gegun word om 'n alternatiewe waterbron te soek of te bou.

'n Onlangse studie wat deur die Departement van Waterwese en Bosbou gedoen is beweer dat, teen die jaar 2030, gaan Suid-Afrika in 'n ernstige waterkrisis gedompel wees. Dit maak dus heeltemal sin dat ons ten alle tye moet probeer om water te bespaar, en een van die belangrikste maniere waarop ons dit kan doen, is om inheemse en droogte-bestande plante in ons tuine te plant.

Balsem Kopiva (Bulbine frutescence)

Kruie, vetplante en kaktusse is uiters geskik vir ons klimaatstoestande en daar is baie inheemse soorte om van te kies. Hulle gebruik minimale water en party het ook min versorging nodig. Bowendien het meeste van hulle, soos die Balsem kopiva hier bo, medisinale waarde - die blaarsap word gebruik vir, onder andere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope, insek bytplekke en is wonderlik vir skrape en snytjies wat jy opdoen terwyl jy in die tuin werk. 


As jy die spasie het, is dit ook 'n goeie idee om 'n dammetjie in jou tuin te maak waarheen jy reënwater kan lei en die dam dan te gebruik vir besproeiing vir die tuin. Myne is met sement uitgelê en ek herlei al die dak water van ons huis soontoe. Ek het 'n klein swembad pomp geïnstalleer en 'n tuinslang aan die 'outlet' gekoppel en met die draai van 'n kraan kan ek die hele tuin natspuit teen omtrent geen onkoste nie.


Die klank van water is altyd kalmerend en gee 'n verfrissende, koel gevoel aan enige tuin in die somer. So dink vandag aan 'n paar maniere om water te bespaar en jy sal verbaas wees hoeveel jy eintlik kan doen!

.