Sondag 11 Desember 2022

'n Nuwe ontdekking -- Seweweeksvaring



Gedurende die afgelope winter het 'n pragtige varing ewe skielik haar verskyning in 'n skaduwee-hoekie in my tuin gemaak en ek het sommer besluit om 'n spesiale hoekie met 'n voëlbad te maak vir al my geveerde vriendjies.


Dit was nie lank voor die voëltjies die hoekie ontdek het nie. Hierdie hoekie is reg buite my slaapkamer venster en ek kan ure sit en dophou hoe hulle bad en stry onder mekaar vir die beste plekkie.


Die Gewone waternaeltjie (dalk Pennywort?) het ook vanself tussen die plaveisel opgekom en maak 'n pragtige grondbedekking so tussen die plaveisel.


Die Seweweeksvaring (Rumohra adiantiformis) is 'n varingspesie wat in Suid-Afrika inheems is aan die Wes-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. Dit groei byvoorbeeld op die grond in die woud van Knysna, maar ook in die fynbos en die bosveld

Die plant groei nie hoër as 50cm nie en het 'n voorkeur vir vogtige plekkies. Onder natuurlike groeitoestande ontwikkel die seweweeksvaring slegs beperkte hoeveelhede sori op blare, terwyl groot hoeveelhede sori ontwikkel wanneer die varing onder skadunet verbou word.



Met al die reën wat ons die afgelope weke gehad het, het die varing so baie gegroei dat ek een plaveiselblok moes verwyder om haar meer spasie te gee. En net oorkant hierdie een is daar nog twee varinkies wat pos gevat het. Hopelik kan ek 'n gepaste plekkie vir hulle ook kry.


Wonder hoekom dit juis Seweweeksvaring genoem word ...?


Engels : Leather-leaf Fern


::



Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...