Saterdag 29 Desember 2018

Wouter en Antionette se Kwikstertjie - 'n mooi verhaal

Die jaar staan einde se kant toe en ek het gedink dis van pas om die jaar af te sluit met 'n pragtige verhaal oor Wouter en Antionette se Kwikstertjie. Geniet!

Kyk net die oulike dingetjie!

In Februarie 2017 het ek 'n ePos van "Wouter" gekry, waarin hy vertel van 'n Kwikstertjie (Motacilla capensis) wat hy en sy vrou Antionette, groot gemaak het en hul worsteling oor wat om met die pragtige dingetjie te doen. Dis 'n storie wat ek al te goed ken - dis hartverskeurend om 'n wilde voëltjie in 'n hok te sien hunker na vryheid, maar die gedagte van om hom te laat gaan, is net so 'n hartseer gedagte. Hier is Wouter se storie :

"Goeiemôre Maree

Ek het so 2 maande gelede ‘n babatjie kwikkie gevang wat tussen ons voordeur en veiligheidsdeur kom skuil het. Dit was laat die aand na ‘n erge storm en hy (sy?) moes uit die nes geval het. Ons het hom grootgemaak en hy is te pragtig. Hy gaan elke dag saam met Antionette werk toe en hy is te dierbaar.

Ons kan hom nie vrylaat nie, want hy sal verseker nie oorleef nie. So lief as wat ons vir hom is wonder ons of hy nie beter af sal wees buite in ‘n groot hok saam met ander kwikkies nie.

Jy weet nie dalk van iemand wat kwikkies aanhou en hom sal aanneem nie? Dit gaan verskriklik moeilik wees, maar dit is dalk die regte ding om te doen.    

PS: Ons het 2 African Greys wat dink hulle is mense, die huis behoort aan hulle en ons is net daar om hulle te versorg en te bederf. Buite voer ons al die ander “aangenome” kinders – mossies, hadida’s, kwikkies, bont houtkappers, mynah’s, vinke, duiwe, tiptolle, pieke….    Ons het al getel dat daar, behalwe vir al die ander voëls, meer as 30 duiwe op ‘n slag kom eet het."



Ek het onmiddellik op die foon gespring en hom gebel (sy telefoonnommer was in die ePos) en ons het lank gesels oor ons liefde vir voëltjies en hoe hulle in ons harte inkruip. "Chippies" (ek dink dis Kwikkie se naam, want hul pappegaai kan 'n lekker happie van hom maak!) vlieg en baljaar heeldag in die geslote slaapkamer rond en spandeer net die nag in sy hokkie. Gaan ook gereeld saam met Antionette werk toe. Wat vir my heeltemal wonderlik klink. 

Kwikkies, en ander wilde voëltjies wat hans groot gemaak is, is heeltemal kapabel om na hulself om te sien indien hulle vry gelaat word, maar Wouter se bekommernis is dat Chippies mak is, nie bang vir mense is nie, en aangesien die bure so naby is (met honde en katte!), is hy bang Chippies sal in hul tuin land en opgevreet word. Wat heel waarskynlik wel sal gebeur. 

My raad aan Wouter is om Kwikkie te hou en dinge net te los soos dit is. Dis al lewe wat Kwikkie ken. Om buite in 'n hok te gaan met ander voëls is veel erger as vrylaat (en dis teen die wet om ons inheemse voëlsoorte in hokke aan te hou); dis nie 'n lewe vir 'n voëltjie nie. Binnenshuis het hy tenminste 'n bietjie vryheid en Wouter en Antionette se geselskap. 'n Ander alternatief is die dieretuin. Dalk het hulle groot voëlhokke of, as hy daar vrygelaat word, is dit 'n groter spasie waar daar tenminste nie honde of katte is nie. 

Ons is almal geneig om die 'toekoms' van 'n diertjie te wil bepaal, maar partymaal is dit goed om net te vertrou dat hul 'n gelukkige, al is dit dalk kort, vry lewe gehad het.

Sterkte met jul besluit Wouter!
 
(PS : Ek weet van iemand met 'n wildsplaas nie ver van julle nie, dis dalk ook iets om in gedagte te hou. Laat net weet, ek gee jou Louis se telefoonnommer.)



Dinsdag 25 Desember 2018

Kersfees in Afrika 2018


Kleinglansspreeu aan Tweeti die Kokketiel, "Het jy gehoor, Tweeti? Maree het vir ons presente gekoop! Maalvleis, mealworms (is dit graanwurms...?) wilde voëltjiesaad, gemengde saad, appels, piesangs en grondboontjiebotter!"

Tweeti: "Nou kom dan, laat ons begin!"

  • 'n Geseënde Kersfees en 'n wonderlike 2018 vir al my blog-vriende!



Saterdag 08 Desember 2018

Selderywortel en -slaai


Het jy al ooit die wortels van Seldery gesien? Ek het nog nooit nie! Dink net, al wat ons ooit van hierdie wonderlike plant sien, is die stam en die blare (tensy jy gereeld Seldery in jou groentetuin uittrek!).



Seldery (Apium graveolens) se saad bevat baie medisinale eienskappe. Seldery werk uitstekend vir nek-, spier- en rugspasmas. Dit is ook ‘n goeie tonikum en stimulant en verlig winderigheid. Dit is baie ryk aan vitamien C, daarom is dit baie goed vir algemene gesondheid en om die liggaamweerstand op te bou en te versterk. Gooi maar ‘n ekstra stingeltjie in jou slaai gedurende die somer, of in jou sop in wintertyd – dit kan jou net goed doen! Seldery bevat baie min kilojoules, en jy mag dalk net meer kilojoules verbrand deur dit te kou! Seldery bevat vitamien B6 en dieet vesel. Dit kan jou stresvlakke verlaag en verbeter die algemene bloedvloei in jou liggaam. Dus help dit ook om jou bloeddruk te beheer. Eet seldery as ’n happie saam met maaskaas of bedien saam met jou gunsteling slaai.

Seldery- Tuna- en Komkommerslaai

BESTANDDELE
3 selderystokkies, in skyfies gesny
½ komkommer, sagte binnekant verwyder en in skyfies gesny
1 blikkie heelpitmielies, dreineer
½ ui, gekap
100 g groenbone
2 blikkies tuna, dreineer
250 ml laevet of vetvrye gewone jogurt
15 ml mayonnaise
30 ml vars pietersielie, gekap
10 ml suurlemoensap
1 knoffelhuisie, gekneus
sout en peper

METODE
Meng die seldery, komkommer, mielies en ui saam. Gooi die groenbone in kookwater en laat staan vir 3 minute, dreineer en spoel dadelik met koue water. Voeg by die res van die slaai en skep die tuna bo-oor. Meng die jogurt, mayonnaise, pietersielie, suurlemoensap en knoffel saam. Geur met sout en peper en bedruip die slaai. Bedien 6.

Jy kan ook seldery van oorskiet kweek :Sny die onderkant van die steel af en sit dit in 'n bakkie met 'n bietjie warm water in direkte sonlig. Na sowat 'n week sal die blare verdik en langs die steel opgroei. Jy kan dit dan in die grond plant.

 Seldery botaniese skets

Sondag 05 Augustus 2018

Inheemse Blou

Gladiolus carinatus
Blou Afrikaner 
(foto vanaf Mahendran Moodley)

Inheems aan Suid Afrika, meesal langs die kus vanaf sentrale Namaqualand (Noord-Kaap) suidwaarts tot Kaapstad en vanaf daar ooswaarts to by Knysna omgewing. Dit kom ook voor in berggebiede binnelands  vanaf die Weskus. Groei meesal in goed gedreineerde, sanderige grond. Ook bekend as Sandpypie of Blou pypie.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...