Wys tans plasings met die etiket kruie in die tuin. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kruie in die tuin. Wys alle plasings

Saterdag 08 Desember 2018

Selderywortel en -slaai


Het jy al ooit die wortels van Seldery gesien? Ek het nog nooit nie! Dink net, al wat ons ooit van hierdie wonderlike plant sien, is die stam en die blare (tensy jy gereeld Seldery in jou groentetuin uittrek!).



Seldery (Apium graveolens) se saad bevat baie medisinale eienskappe. Seldery werk uitstekend vir nek-, spier- en rugspasmas. Dit is ook ‘n goeie tonikum en stimulant en verlig winderigheid. Dit is baie ryk aan vitamien C, daarom is dit baie goed vir algemene gesondheid en om die liggaamweerstand op te bou en te versterk. Gooi maar ‘n ekstra stingeltjie in jou slaai gedurende die somer, of in jou sop in wintertyd – dit kan jou net goed doen! Seldery bevat baie min kilojoules, en jy mag dalk net meer kilojoules verbrand deur dit te kou! Seldery bevat vitamien B6 en dieet vesel. Dit kan jou stresvlakke verlaag en verbeter die algemene bloedvloei in jou liggaam. Dus help dit ook om jou bloeddruk te beheer. Eet seldery as ’n happie saam met maaskaas of bedien saam met jou gunsteling slaai.

Seldery- Tuna- en Komkommerslaai

BESTANDDELE
3 selderystokkies, in skyfies gesny
½ komkommer, sagte binnekant verwyder en in skyfies gesny
1 blikkie heelpitmielies, dreineer
½ ui, gekap
100 g groenbone
2 blikkies tuna, dreineer
250 ml laevet of vetvrye gewone jogurt
15 ml mayonnaise
30 ml vars pietersielie, gekap
10 ml suurlemoensap
1 knoffelhuisie, gekneus
sout en peper

METODE
Meng die seldery, komkommer, mielies en ui saam. Gooi die groenbone in kookwater en laat staan vir 3 minute, dreineer en spoel dadelik met koue water. Voeg by die res van die slaai en skep die tuna bo-oor. Meng die jogurt, mayonnaise, pietersielie, suurlemoensap en knoffel saam. Geur met sout en peper en bedruip die slaai. Bedien 6.

Jy kan ook seldery van oorskiet kweek :Sny die onderkant van die steel af en sit dit in 'n bakkie met 'n bietjie warm water in direkte sonlig. Na sowat 'n week sal die blare verdik en langs die steel opgroei. Jy kan dit dan in die grond plant.

 Seldery botaniese skets

Sondag 05 Maart 2017

Kruiekenner Margaret Roberts oorlede

Vanaf Maroela Media. Saterdag, 4 Maart 2017. 'n Groot verlies vir Suid Afrika en die kruiebedryf. My medelye aan familie en vriende.




Sondag 26 Februarie 2017

Kruie in die tuin


Ek het nie 'n kruietuin nie. Wel, nie 'n gedeelte spesiaal vir kruie nie. Wens ek het een gehad. Maar ek het darem 'n paar "kruie" hier en daar, soos Bulbine frutescens, 'n wonderlike vetplant wat vir baie doeleindes gebruik kan word. Die vars blare is vol van 'n jellie-agtige sap wat uitstekend is vir brande, blase, veluitslag, insektebyte, gekraakte lippe, aknee en koorsblare. Breek net 'n blaartjie af en smeer die jellie aan die geaffekteerde plekke.

Afrikanertjies in 'n bedding in my tuin

Afrikaners (Marigold - Tagetes erecta familie) is nog 'n blomplant wat geklassifiseer word is a krui; die blomme kan in slaaie gebruik word en die blomme en blare werk goed in potpourri-sakkies om insekte weg te hou. Kakiebos, wat ook familie van die Afrikaner is, is onmisbaar as 'n insekverdrywer. Ek trek nooit Kakiebos uit wanneer ek hulle in die tuin sien nie, ek is mal oor die reuk van die blare en die wortels beskerm die grond teen allerhande skadelike insekte.

Kakiebos in my tuin - ruik jy hoe heerlik dit ruik?!

Kappertjies tussen my Hydrangeas

En natuurlik kan g'n tuin sonder Kappertjies wees nie! Die kleurvolle eenjariges is maklik om te groei en heeltemal verniet na jou eerste plantjies geplant is, want as jy nie die blomme pluk nie, maak die plant honderde saadbolletjies wat jy kan vergader om te plant in die jare wat volg. Ek hou myne in a bottel en elke jaar plant ek dosyne, wat net nog meer sade maak.

Die blare, wat 'n effense peperige smaak het, is heerlik in slaaie en so ook die blomme. Maal die gekapte blare saam met sout, chillies en knoffel tot dit 'n smeer vorm. Voeg by souse of ander disse vir 'n heerlike smaak. Die blare is hoog in Vitamin C en is ook 'n sterk antibakteriese middel. Was die Kappertjie blomme en voeg by slaaie of poedings - dit bevat 'n heerlike soet nektar binne in.

'n Lavenetlbossie in my tuin

Laventel is ook ‘n wonderlike plant om in jou tuin te hê. Behalwe die feit dat dit pragtig blom en heerlik ruik, is daar soveel dinge waarvoor dit gebruik kan word. Ek het op hierdie oulike insekweerder resep afgekom van Naomi op suidersterre.co.za :

Bestandele
Droë laventel takkies met blommetjies.
Wit asyn.

Metode 
Breek die blommetjies van die laventel takkies af en gooi in `n bottel. Gooi dan genoeg wit asyn in die bottel om die blommetjies toe te maak en die bottel vol te maak. Laat staan eenkant vir twee weke om te trek. (Ek sit sommer van die takkies ook by wanneer ek myne maak.)

Gooi die mengsel deur `n lap om die aftreksel te kry.

Gebruik `n stukkie watte of `n kurk prop om die mengsel op die areas te plaas waar jy die muskiete wil weghou.

Laventel kan ook self opgehang word om insekte weg te hou. (Bind dit vas met ‘n mooi pers lint en hang aan jou bed se kopstuk.)


Almal van ons sukkel maar van tyd tot tyd met lastige insekte in en om die huis. Maar om op ’n natuurlike manier van dié plae ontslae te raak, is nog die beste :

• Sprinkel pepermentolie vir insekte in die huis.
• Gebruik pietersieliesap of gekneusde pietersielieblare om lastige insekte weg te hou.
• Vars óf gedroogde koljander ontmoedig insekte.
• Gedroogde gousblomblare, gemeng met kakiebos, is ’n uitstekende insekweerder.
• Sit droë salieblare in jou kaste om insekte uit te hou.
• Prakseer ’n doeltreffende inseksproei uit vlierblaaraftreksel.
• Hang sakkies droë koorskruid in jou kaste.
• Maak ’n insekweerder van kappertjiesaadaftreksel.
• Kneus marjoleinblare om insekte af te weer.
• Gooi takkies roosmaryn op die kaggel of braaivleisvuur.
• Maak ’n inseksproei van ’n gekneusde knoffelhuisie, ’n klein, gekapte ui, 1,25 liter water en 12,5 ml skottelgoedseep. Laat ’n uur lank trek voor gebruik.
• Plant sitronellamalvas, laventel en salie, of inderdaad enige plant met ’n skerp geur.


‘n Kruietuin is nie alleen ‘n aangename stokperdjie wat vir ons geld spaar nie, dit is ook goed vir ons algemene welstand. Buiten dat kruie die beste smake in al jou gunsteling disse na vore bring, is kruie ook propvol antioksidante en noodsaaklike voedingstowwe.

So, volgende op my lys is 'n kruietuin propvol Roosmaryn, Tiemie, Basiel, Pietersielie, Salie, Kruisement, Knoffel en Gemmer, net 'n paar van my gunsteling kruie.