Saterdag 08 Desember 2018

Selderywortel en -slaai


Het jy al ooit die wortels van Seldery gesien? Ek het nog nooit nie! Dink net, al wat ons ooit van hierdie wonderlike plant sien, is die stam en die blare (tensy jy gereeld Seldery in jou groentetuin uittrek!).



Seldery (Apium graveolens) se saad bevat baie medisinale eienskappe. Seldery werk uitstekend vir nek-, spier- en rugspasmas. Dit is ook ‘n goeie tonikum en stimulant en verlig winderigheid. Dit is baie ryk aan vitamien C, daarom is dit baie goed vir algemene gesondheid en om die liggaamweerstand op te bou en te versterk. Gooi maar ‘n ekstra stingeltjie in jou slaai gedurende die somer, of in jou sop in wintertyd – dit kan jou net goed doen! Seldery bevat baie min kilojoules, en jy mag dalk net meer kilojoules verbrand deur dit te kou! Seldery bevat vitamien B6 en dieet vesel. Dit kan jou stresvlakke verlaag en verbeter die algemene bloedvloei in jou liggaam. Dus help dit ook om jou bloeddruk te beheer. Eet seldery as ’n happie saam met maaskaas of bedien saam met jou gunsteling slaai.

Seldery- Tuna- en Komkommerslaai

BESTANDDELE
3 selderystokkies, in skyfies gesny
½ komkommer, sagte binnekant verwyder en in skyfies gesny
1 blikkie heelpitmielies, dreineer
½ ui, gekap
100 g groenbone
2 blikkies tuna, dreineer
250 ml laevet of vetvrye gewone jogurt
15 ml mayonnaise
30 ml vars pietersielie, gekap
10 ml suurlemoensap
1 knoffelhuisie, gekneus
sout en peper

METODE
Meng die seldery, komkommer, mielies en ui saam. Gooi die groenbone in kookwater en laat staan vir 3 minute, dreineer en spoel dadelik met koue water. Voeg by die res van die slaai en skep die tuna bo-oor. Meng die jogurt, mayonnaise, pietersielie, suurlemoensap en knoffel saam. Geur met sout en peper en bedruip die slaai. Bedien 6.

Jy kan ook seldery van oorskiet kweek :Sny die onderkant van die steel af en sit dit in 'n bakkie met 'n bietjie warm water in direkte sonlig. Na sowat 'n week sal die blare verdik en langs die steel opgroei. Jy kan dit dan in die grond plant.

 Seldery botaniese skets

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...