Vrydag 08 Desember 2017

Totsiens aan my Gauteng se reën


Hoor daar, buite val dit.

Een, twee, ewe skielik

Alomvattend neerslag;

Spat vinnig en egalig.

Druppels trippel op die teerpad,

Somersblareblare nat,

Vloei af met strate na

Verstopte dreingate.

Tip-tap teen die dakke.

Druppend van ‘n boom se takke.

Nat, pap, water tap,

Trap jy in die sop.

By my heers die lus om maar net

By die huis te bly en dus

By niemand hoef te maak of ek

By hulle tuis voel nie.

Binne is dit droog, sug

Voor die kaggelvuur, sit

Net vir ‘n ruk en tuur

En hoor hoe kraak die hout.

Die motreën is aanhoudend, word

Soms onderskat, pla sommiges,

Maar bied vir my ten minste

‘n Verskoning om te rus.

Die reënweer bring ook mense nader:

Onder sambrele, afdakke

Of komberse, rondom vure,

‘n Kans vir nader skuur.

My Gauteng se reën stel

My nooit teleur om, as

My gedagtes wandel,

My gemoedsvure te blus.


Vir my is dit totsiens aan Gauteng se wonderlike somerreëns. Ons het ons kleinhoewe verkoop na 42 jaar en verhuis na die Noordkus (KwaZulu Natal, Suid Afrika) in so 'n week of wat. Dit was moeilik vir my om vaarwel aan my tuin te sê,  maar daar lê nou wonderlike moontlikhede voor my om iets nuuts te leer - Natal se bome, veld-grasse, blomme, diertjies en Natal se voëls - ek sien uit na ure se voëls kyk, op die strand loop en ek sal soveel as moontlik foto's neem om te wys. Sien julle later!

Dinsdag 03 Oktober 2017

Tolbos | Tumbleweed


Ground Lily, Tumbleweed, Karoo Lily (Boophone disticha)
Order: Asparagales.
Familie: Amaryllidaceae

Kom voor dwarsdeur die Karoo en die somer reënval gebiede van Suid Afrika, die Oos Kaap, Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, Noord Cape, Noord Wes en die Wes Kaap.Blomtyd is gedurende November tot Desember.

‘n Tolbos is ‘n strukturele part van die bo-grondse anatomie van ‘n klomp spesies of plante, ‘n diaspoor wat, as dit volgroei en droog is, vanself loskom van die wortel of stam en dan rol dit weg in die wind. Hierdie rond-waaiende tolbossies het meeste van ons al gesien oral in ons land.



Tolbossies kom gewoonlik voor in droë gedeeltes en vlaktes waar daar baie wind is. Daarom kan hulle so heerlik voortrol en dit bly tog maar eintlik mooi. Behalwe die saad en wortelstelsel van die tolbossie is die weefselstruktuur dood. Hierdie dooie weefsel is nodig vir die struktuur om te degradeer en dan te skei sodat die tolbos “blom” kan ontsnap en die sade dan kan versprei gedurende die rond waai in die wind. Die saad wat so ontsnap ontkiem vinnig sodra dit in ‘n vogtige, nat gebied val.

Baie tolbos spesies is baie wild en ru en is ‘n onkruid. Tolbossies is in verskeie families geklassifiseer selfs onder die Amaranthaccae, Amaryllidaceae, Asteraceae en vele meer. In sommige van hierdie families kom pragtige tolbossies voor wat regtig in verskillende ligte kleure te sien is. Gewoonlik is dit wit, roospienk tot ligte pers. Die tolbossie is vol speke met klein blommetjies op die punte.

Sommige spesies het lang lelie-agtige, spiesvormige, harde regopstaande blare, met die steel van die tolbos wat in die middel van die twee rye blare verskyn. Die steel van die tolbossie is kort en redelik dik. Daar is ook spesies wat lyk of hulle sulke gekrulde blare vanuit die grond maak en ook sekere vorms wat lyk soos ‘n voëltjienessie (net groot).

Foto vanaf Wikipedia

In sekere droë gebiede van die wêreld is tolbossies ‘n verklaarde onkruid want van hulle gebruik tot 167 liters water uit die grond en is tolbosse ‘n kompetisie vir koring. Sommige tolbossies groei in barste wat in sement voorkom en dis moeilik om hulle weer uit te roei. Al is die tolbossie ook so mooi om na te kyk en eintlik so ‘n wonderlike ronde harde speekbal vol klein blommetjies, is dit nogtans ‘n plant wat nie saam met gesaaides akkordeer nie.
- Die Vryburger


Saterdag 09 September 2017

Afrikaners is plesierig!


En hulle IS werklikwaar plesierig! Hierdie Afrikanertjies in my tuin (Tarlton, Gauteng, Suid Afrika) laat my altyd glimlag wanneer ek tussen hulle rondloop, want daar is g’n onkruid in die omgewing nie!

My pa het nog altyd ’n hand met ’n plant gehad. As kind was ek dikwels om sy voete waar hy gesaai, geplant en gesnoei het. Meesal was dit 'n groentetuin, maar Kappertjies en Afrikaners was 'n moet tussen die groent, want "dit hou die peste weg", het my pa altyd gesê.

Een van my herinneringe uit my kinder­jare is juis saam met hom in die tuin waar hy jaarliks Afrikanertjies so al om die rand van ’n bedding slaai geplant het. Ek moet eerlik wees, dié blommetjies was nie vir my gunstelinge nie, die Krismisrose teen die heining was vir my mooi­er en die statige varkore wat geil naby die kraan, waar dit permanent nat was, geblom het, was van my gunstelinge. Dié helder oranje en geel blom­me­tjies het boonop nie lekker ge­ruik nie en in my kindergemoed was blom­me ver­onderstel om lekker te ruik en lang stele te hê wat jy diep kan afsny om in ’n blompot staan te maak. Wat my wel van afri­ka­ner­tjies gefassineer het, was die lang dun saadjies wat ek aan die einde van elke seisoen saam met my pa uit die af­ge­leef­de blomme bymekaargemaak en in ’n plastieksakkie gebêre het om in die nuwe seisoen te saai.

Vandag is Afrikaners van my heel-gunsteling blomme. Ek is nou lief vir die reuk wanneer ek die blare tussen my vingers kneus en wens ek kon die reuk bottel. Gelukkig hou dit nogal lank as mens dit laat droog word, in a lappie toewerk en dan tussen die vingers kneus. Hou alle vismotte weg, gewaarborg!

Afrikanertjies hou van baie water en son maar sal nie kwaad raak as jy so bietjie van hulle vergeet nie. Hierdie geharde plantjies sal jou nog steeds beloon met hul skoonheid. 'n Ekstra bonus is dat jy nooit weer sonder kleur in jou tuin sal wees nie. Die saadjies wat aan die einde van herfs afval op die grond, beloon jou met pragtige kleur in lente.

 En boonop lok dit skoenlappers en bye na jou tuin! Wat n bonus!

Strooikussing ideaal vir jou tuinstel 


Beskikbaar in Klein, Medium en Groot.

Dinsdag 18 Julie 2017

Nentabos (Kalanchoe rotundifolia)


Dis winter. Geen ekskuus nie, ek weet, maar die enigste blomme in my tuin op die oomblik is my Nenta-bosse (Kalanchoe rotundifolia) - dit blyk hulle hou van die koue, my hele tuin is vol blommende Nenta-bossies.


Kalanchoe rodundifolia is inheems aan Suider Afrika en kom wydverspreid voor in Suid Afrika en Zimbabwe. Dit groeie beste in ligte skaduwee en alhoewel hulle droogte-bestand is, blom hulle mooier as hulle meer water kry.

Die pragtige blomme van die Nentabos

Nentabos met Echeverias in die agtergrond

Propagasie van die Nentabos is besonders maklik. Dit kan óf gedoen word deur die saad óf deur stoksnysels of van die blare in potjies of direk in die grond te steek. Die sade is verskriklik fyn so moet bymekaar gemaak word voordat deur die wind versprei word waar hulle onmiddellik posvat en honderde plantjies uitstoot. 

Die sade van die Nentabos

My moederplant waarvan ek al vele voortplantings gedoen het. Pluk net 'n paar blaartjies of sny 'n stokkie af en druk in die grond. Deur die plant gereeld te snoei veroorsaak ook dat dit meer van 'n bos vorm. Hulle kan tot 1m hoog word en neig om om te val as daar baie blomme is.

'n Paar nuwe steggies en blare sal binnekort gereed wees om in die tuin te plant.

Stuur 'n Groetekaartjie of 'n

Poskaart aan 'n vetplantliefhebber!


Saterdag 17 Junie 2017

Kruie kraai koning

Foto vanaf Kruie Kraai Koning

Nadat ek gister 'n program op KykNet gesien het oor Antoinette Pienaar en Oom Johannes (al in sy 90's) wat in die Groot Karoo met kruie handel dryf, is ek totaal geïnspireer om weer 'n kruietuin te probeer aan die gang kry.

Foto vanaf Kruie Kraai Koning

Ek het hul webwerf, Kruie Kraai Koning, besoek en op wonderlike inligting oor kruie en hul genesende eienskappe afgekom. Ons almal wéét mos van kruie en wat hulle kan verrig, maar dis wonderlik om kruie te ontdek wat almal reg hier in Suid Afrika groei en dit nogal in Afrikaans.

Antoinette se storie begin toe sy in 2001 op kleinneef Jacques Pienaar se plaas Theefontein ogepdaag het, ernstig verswak nadat sy serebrale malaria in Wes-Afrika opgedoen het. Dokters het aan haar gesê om maar reg te maak vir ‘n vroeë dood omdat haar lewer en niere baie skade opgedoen het.

Hier het sy vir Oom Johannes Willemse ontmoet en by Oom Johannes het sy geleer van veldkuns, veldkruie, kruiepreparate voorberei en lewe soos die ou mense gelewe het. Sy het eerstehands ondervind hoe die kruie haar organe versterk het en is nou volkome gesond. "Konvensionele medikasie neem in baie gevalle die werking van die geaffekteerde orgaan oor, maar kruie versterk die orgaan sodat hy self die werk kan doen. Kruie werk op fisiese sowel as emosionele vlak in die liggaam en verlig daarom ook simptome wat saam met post-traumatiese stres gaan,” sê Antoinette.


Ek self het 'n paar weke terug verkoue opgedoen met 'n geniesery en gehoesery wat na 'n week in longontsteking ontaard het. Right, dokter toe, kry die nodige antibiotika en iets vir die hoesery. Die antibiotika was baie sterk, dieselfde wat hulle sou toegedien het indien ek hospitaal toe is (het vir dokter gevra, asseblief, net nie die hospitaal nie!) Na 'n week was die antibiotika klaar en ek het nog nie beter gevoel nie. Kort-kort weer ernstig siek gevoel, kort-kort nog na asem gesnak en die hoesbuie was definitief iets om oor huistoe te skryf! Nog 'n week later was ek  ernstig bekommerd en het gewonder of ek weer moet terug dokter toe, veral aangesien ek nie meer so jonk is nie (het hierdie jaar 71 geword). En dan? Nog meer antibiotika? Nog meer hoesmedisyne? Dit het net nie vir my reg gevoel nie. Ek het daaraan gedink om Dischem toe te gaan en verskeie vitamines en gesondheidsrate aan te skaf, maar ek vertrou ook nie sommer allerhande sintetiese en chemiese goeters nie.

Ek het besluit om intussen, tot ek tot 'n besluit kan kom, baie water te drink en het 12 bakkies plein jogurt gekoop, een vir elke dag vir die volgende twee weke. Joghurt bevat mos natuurlike goeie bakterieë (lewende kulture) wat jou liggaam help om te herstel na die verlies van natuurlike bakterieë vernietig deur die antibiotika. Binne 'n week het ek beter begin voel - my asemhaling het terug gekeer na normaal (behalwe as ek êrens heen gehardloop het!), ek het nie meer "siek" gevoel nie en die hoesery het baie verminder.

Ek het ook op Kruie Kraai Koning se webwerf afgekom op 'n boereraat vir longontsteking en dis nou juis dít wat my laat besluit het om, vir die toekoms, 'n kruietuin te plant. Dit maak vir my heeltemal sin om die natuurlike roete van genesing te kies. Ek het ook groot geword in 'n gesin met 'n apteker vir 'n pa. Seer mangels is nie verwyder nie maar behandel met Rooi Aluin, wat dit laat krimp het en gesond gemaak het, oorpyn was behandel met lou-warm kasterolie en elke Vrydagaand was dit 'n eetlepel kasterolie-tyd. Vir 'n hoofpyn is ons gesê om water te drink en vars lug buite te gaan soek. Ek kan glad nie eers een doktersbesoek as 'n kind onthou nie (behalwe vir 'n gebreekte arm toe ek uit 'n boom geval het!). En dwarsdeur my twintigs, dertigs, en veertigs tot nou het ek nog nooit sommer pille gedrink nie. As gevolg voel ek dat my immuunstelsel baie sterk en gesond is en kon die longontsteking baie erger gewees het.

Foto vanaf Kruie Kraai Koning

Raat vir Brongitis, longontsteking en emfiseem

Neem vier takkies wilde-als, lengte vanaf die pols tot wysvinger, en een takkie wynruit, ook vanaf die pols tot die wysvinger. 
Neem nieshout, skraap een teelepel se waarde splinters met ‘n messie af. 
Plaas alles in een liter water, voeg 1 1/2 koppies suiker by en kook die mengsel op ‘n matige hitte vir 45 minute. 
Laat die stroopmengsel afkoel en gooi dit dan af in ‘n glasbottel wat jy in die yskas hou. 
Neem ‘n kelkie (Engelse “tot”) drie keer per dag. 

Gebruik die mengsel soos nodig. 

Groei wilde-als en wynruit in jou tuin, die plante is by sommige kwekerye beskikbaar.

Ek weet baie mense dink "self-medikasie" is gevaarlik en dat mens nie sommer alles moet glo wat jy hoor of lees nie, maar natuurlik sal ek elke plant se veiligheid en genesings-eienskappe deeglik navors voordat ek dit plant of gebruik.

En dalk sal ek een van Antoinette en Oom Johannes se "werkswinkels" bywoon - Die werkswinkels en verblyf vind plaas in the Groot Karoo, op Juriesfontein, 'n buurplaas van Theefontein. Die plaas is 'n uur se ry van Beaufort-Wes af, op 'n goeie grondpad. Antoinette en oom Johannes sal begin deur te vertel van die kruie wat op die vlaktes en in die klowe groei, waar hulle voorkom en hoe hulle medisinaal gebruik kan word. Daar sal aandag gegee word aan hoe die liggaam en die organe fisies weerspieël wat emosioneel in die mens gebeur en hoe die kruie nie net fisiese verligting gee nie, maar ook op emosionele vlak genesing bring. Dan sal hulle uitbrei en kortliks vertel van medisinale tuinkruie en hoe ‘n mens jou eie apteek in jou agterplaas kan plant. Dae 2 en 3 offer nog meer inligting en inspirasie voor almal mekaar groet en met hernuwe energie terugkeer na ons huise.

Sien jou daar!


'n Lys van Kruie om te plant (vir my eie inligting):
  • Bergpatat help met gewigsverlies omdat dit die metabolisme stabiliseer.
  • Bitterbos help om die lewer te ontgif en kan met sukses gebruik word vir mense wat lewerkanker, hepatitis en lewerkwale het.
  • Dasbos en Balderjan help om nn verkoue uit te sweet.
  • Dasbos en Karmedip help met blaasontsteking en ander blaasprobleme, asook prostaatprobleme aangesien dit verseker dat die blaas behoorlik geledig word.
  • Dasbos en Klipgruis ontgif die liggaam en help met nierprobleme omdat dit die waterbalans in die liggaam reguleer.
  • Dasbos en Renostertop versterk die longe in pasiënte met tuberkulose (TB).
  • Dawidjie-wortel help met die geheue.
  • Dermpoeier bestaan uit 14 verskillende soorte wortels wat op ‘n maalklip gemaal word en help met toestande soos spastiese dikderm, geïrriteerde dermsindroom, maagsere en hardlywigheid.
  • Gifbolblare versnel die genesing van wonde en bedsere.
  • Grashout verlig winde op die maag.
  • Kalmoes help mense wat wil ophou rook deur rooklus meer hanteerbaar te maak.
  • Kaneelbol stabiliseer bloedkondisies soos bloedduk, bloedsomloopprobleme en spatare, en cholesterol.
  • Kankerbossie en Karmedip verlig die simptome van blaaskanker, prostaatkanker en kanker van die pankreas.
  • KANKERBOSSIE, DIE KONING VAN KRUIE
    Kankerbossie is die kruie met die meeste streeksname, dit word in die Karoo Willekeur, Kalkoentjies of Gansies genoem,  in die Overberg word dit Keurtjies genoem en in die Weskus word dit Jantjie Berend. As n mens met ouer mense praat en vra watter kruie hulle die meeste gebruik het, is die antwoord meestal ‘Keurtjies’.

    Meeste kruie wat 'n mens gebruik, word gebruik vir 'n 3-maande periode, dan los 'n mens dit vir 3 tot 4 maande om die liggaam tyd te gee om die genesing verder te vat. Dit bly vir my interessant dat die moderne mens klaarblyklik vergeet het dat die menselike liggaam so ontwerp is, dat die liggaam homself keer op keer self kan genees. Dis hier waar Kankerbossie inkom, dit hou die immuunstelsel sterk en as dit sterk is, word al die organe ondersteun. Hierdie krui is al een wat jy jaar in, jaar uit kan drink, elke dag.

    Daar is onlangs baie navorsing gedoen oor Sutherlandia frutescence en wetenskaplikes het onteenseglik bewys dat Kankerbossie die immuunstelsel versterk en dat dit die hoof-kruie is om voorkomend kan drink. Mans hoef nie te wag om 40 jaar oud te word om Kankerbossie saam met Karmedip te drink om n gesonde prostaat te verseker nie en vrouens kan Kankerbossie saam met Katjie-3-Blaar gebruik om te help met die geweldige simptome van menopouse.

    Dis wetenskaplik bewys dat Kankerbossie TB en HIV pasiënte help met hulle geweldige gewigs-verlies, want dit help om pasiënte 'n eetlus te gee, asook met die bou van spiere, na 'n lang siekbed. Hierdie kruie help ook met angstigheid, die vloek van die moderne eeu, omdat dit die Kortisol vlakke in die liggaam verhoog. Kankerbossie het ook anti-inflammatoriese en anti-oksidant komponente en kan ook verligting gee vir mense met tipe 2 Diabetes. Hierdie kruie moet langdurig gebruik word, mens kan dit nie net vir 3 weke gebruik en dan tot die gevolgtrekking kom ‘dat die kruie nie werk nie’.

    As ‘n mens kruie gebruik, is 'n mens deel van die proses van jou genesing, want jy moet toegewyd wees om te onthou om dit daagliks te gebruik, dit gereeld voor te berei en ook emosioneel betrokke te word met jou fisiese herstel. Toe ek begin kruie gebruik, het ek begin leer om te luister na my liggaam en besef elkeen van ons ken ons liggame die beste en deur bewus te wees van hoe jou liggaam werk, so kan jy voorkomend te werk gaan.

  • Katjiedrieblaar help met hormoonbalans, premenstruale-sindroom (PMS), menopouse en warmgloede. Kan met groot sukses gebruik word in die plek van hormoonvervangingsterapie. In kombinasie met kankerbossie kan dit gebruik word om die immuniteit van kankerpasiënte te verbeter.
  • Kraalbos versterk die kopvel sodat dit verhoed dat hare uitval en die teruggroei van hare stimuleer. Dit verbeter ook algemene kondisie van hare.
  •  Knoffel – Koning in jou tassie van winter-doepas
    Die winter is die tyd dat die imuunstelsel oortyd moet werk om al die verkoues, griep en brongitis hok te slaan en hier is organiese knoffel 'n uitstekende bondgenoot. Rou knoffel, knoffel in sop, knoffel saam met Dasbos en Klipkruie help om die liggaam sterk te hou deur die wintermaande.

    Die meeste knoffel wat mens in supermarkte koop, word ingevoer uit China uit, waar dit baie keer geneties gemanupileer word om min of meer almal dieselfde te lyk en bestraal word om te voldoen aan invoer vereistes. In die Karoo, naby die klein dorpie Loxton, is Johan Scholtz al n paar jaar besig om organiese knoffel te verbou. Ek het dit onlangs begin gebruik en ek kon nie die verskil glo nie! Die knoffel smaak anders, “lewendig”, sou ‘n mens dit kon noem. Ek is baie gelukkig dat ek so naby die knoffellandery woon, want ek sal van nou af sorg dat ek nie sonder hierdie bondgenoot is nie. Johan se tel nr is 0533 813 905 en sy e-pos adres is elandshcoltz@gmail.com.

    Onder Boererate, is daar ‘n resep vir gout en artritis, waar ‘n mens 1kg knoffel gebruik en hier is ‘n geleentheid om organiese knoffel te gebruik. Trouens, dit is noodsaaklik om organiese knoffel te gebruik, as jy knoffel medisinaal gebruik.

  • Kruitjie-roer-my-niet verlig tenniselmboog, heupprobleme en verstuite gewrigte. Dit is uiters giftig en moet slegs uitwending en met groot versigtigheid gebruik word.
  • Lukwartboomblare en Rooivergeetwortels verbeter suikervlakke in diabetes-leiers wie terselftertyd ‘n gesonde dieetprogram volg.
  • Manskruie verminder impotensie.
  • Manskruie en Vrouekruie kan help vir mense wat sukkel om swanger te raak.
  • Oogbossie help met oogprobleme soos oë wat baie water, asook met katarakte.
  • Oondbos verlig hoofpyn, gewoonlik in kombinasie met ander kruie wat waarskynlik die hoofpyn veroorsaak.
  • Rooivergeetwortels en Jakkalsbos help met hartprobleme, veral na hartomlynings aangesien dit bloed versterk en die orgaan help om trauma te hanteer.
  • Velpoeier help met ekseem, psoriase, gordelroos en kopluis.
  • Vlak-grashout is ‘n vinnige maar sterk manier om van ‘n verkoue ontslae te raak.
  • Wildepampoen verlig rugpyn.
  • WynruitWilde-als en Nieshout genees longkwale, asma en brongitis.
(Vanaf Kruie Kraai Koning)

Dinsdag 06 Junie 2017

Pienk en pers verwondering


My Krismisroosblomme het verbete geklou dwarsdeur die winter maar skielik was hulle definitief op hul laaste. Ek het die laaste paar blomme gepluk, in bietjie water gesit, nog ander opgehang om droog te word en ‘n paar in ‘n mandjie gepak om ook droog te word.


Al ooit gesit en wonder hoe kry jy die blomkleure van krismisrose (Hydrangeas) na jou sin (pienk of blou)? Die kenners sê blom kleur word beïnvloed deur die grond:

1) Suurgrond gee donkerblou blomme – Dit kan aangehelp word deur 'Shake and Grow Blue' toe te dien of eierdoppe in die grond te werk.

2) Alkaliese grond gee pienk/rooi blomme – Dit kan aangehelp word deur 'Shake and Grow Pink' of landboukalk toe te dien. Onthou net dat die grond toestand nie “oornag” verander kan word nie, so begin dus reeds in die winter maande met jou toediening. (Wit blomme se kleur kan nie verander word na pienk of blou nie.)

Maar nou verstaan ek nie hoe is dit dan dat ek beide pienk en pers blomme aan een bos het nie!

::

Sondag 05 Maart 2017

Kruiekenner Margaret Roberts oorlede

Vanaf Maroela Media. Saterdag, 4 Maart 2017. 'n Groot verlies vir Suid Afrika en die kruiebedryf. My medelye aan familie en vriende.




Sondag 26 Februarie 2017

Kruie in die tuin


Ek het nie 'n kruietuin nie. Wel, nie 'n gedeelte spesiaal vir kruie nie. Wens ek het een gehad. Maar ek het darem 'n paar "kruie" hier en daar, soos Bulbine frutescens, 'n wonderlike vetplant wat vir baie doeleindes gebruik kan word. Die vars blare is vol van 'n jellie-agtige sap wat uitstekend is vir brande, blase, veluitslag, insektebyte, gekraakte lippe, aknee en koorsblare. Breek net 'n blaartjie af en smeer die jellie aan die geaffekteerde plekke.

Afrikanertjies in 'n bedding in my tuin

Afrikaners (Marigold - Tagetes erecta familie) is nog 'n blomplant wat geklassifiseer word is a krui; die blomme kan in slaaie gebruik word en die blomme en blare werk goed in potpourri-sakkies om insekte weg te hou. Kakiebos, wat ook familie van die Afrikaner is, is onmisbaar as 'n insekverdrywer. Ek trek nooit Kakiebos uit wanneer ek hulle in die tuin sien nie, ek is mal oor die reuk van die blare en die wortels beskerm die grond teen allerhande skadelike insekte.

Kakiebos in my tuin - ruik jy hoe heerlik dit ruik?!

Kappertjies tussen my Hydrangeas

En natuurlik kan g'n tuin sonder Kappertjies wees nie! Die kleurvolle eenjariges is maklik om te groei en heeltemal verniet na jou eerste plantjies geplant is, want as jy nie die blomme pluk nie, maak die plant honderde saadbolletjies wat jy kan vergader om te plant in die jare wat volg. Ek hou myne in a bottel en elke jaar plant ek dosyne, wat net nog meer sade maak.

Die blare, wat 'n effense peperige smaak het, is heerlik in slaaie en so ook die blomme. Maal die gekapte blare saam met sout, chillies en knoffel tot dit 'n smeer vorm. Voeg by souse of ander disse vir 'n heerlike smaak. Die blare is hoog in Vitamin C en is ook 'n sterk antibakteriese middel. Was die Kappertjie blomme en voeg by slaaie of poedings - dit bevat 'n heerlike soet nektar binne in.

'n Lavenetlbossie in my tuin

Laventel is ook ‘n wonderlike plant om in jou tuin te hê. Behalwe die feit dat dit pragtig blom en heerlik ruik, is daar soveel dinge waarvoor dit gebruik kan word. Ek het op hierdie oulike insekweerder resep afgekom van Naomi op suidersterre.co.za :

Bestandele
Droë laventel takkies met blommetjies.
Wit asyn.

Metode 
Breek die blommetjies van die laventel takkies af en gooi in `n bottel. Gooi dan genoeg wit asyn in die bottel om die blommetjies toe te maak en die bottel vol te maak. Laat staan eenkant vir twee weke om te trek. (Ek sit sommer van die takkies ook by wanneer ek myne maak.)

Gooi die mengsel deur `n lap om die aftreksel te kry.

Gebruik `n stukkie watte of `n kurk prop om die mengsel op die areas te plaas waar jy die muskiete wil weghou.

Laventel kan ook self opgehang word om insekte weg te hou. (Bind dit vas met ‘n mooi pers lint en hang aan jou bed se kopstuk.)


Almal van ons sukkel maar van tyd tot tyd met lastige insekte in en om die huis. Maar om op ’n natuurlike manier van dié plae ontslae te raak, is nog die beste :

• Sprinkel pepermentolie vir insekte in die huis.
• Gebruik pietersieliesap of gekneusde pietersielieblare om lastige insekte weg te hou.
• Vars óf gedroogde koljander ontmoedig insekte.
• Gedroogde gousblomblare, gemeng met kakiebos, is ’n uitstekende insekweerder.
• Sit droë salieblare in jou kaste om insekte uit te hou.
• Prakseer ’n doeltreffende inseksproei uit vlierblaaraftreksel.
• Hang sakkies droë koorskruid in jou kaste.
• Maak ’n insekweerder van kappertjiesaadaftreksel.
• Kneus marjoleinblare om insekte af te weer.
• Gooi takkies roosmaryn op die kaggel of braaivleisvuur.
• Maak ’n inseksproei van ’n gekneusde knoffelhuisie, ’n klein, gekapte ui, 1,25 liter water en 12,5 ml skottelgoedseep. Laat ’n uur lank trek voor gebruik.
• Plant sitronellamalvas, laventel en salie, of inderdaad enige plant met ’n skerp geur.


‘n Kruietuin is nie alleen ‘n aangename stokperdjie wat vir ons geld spaar nie, dit is ook goed vir ons algemene welstand. Buiten dat kruie die beste smake in al jou gunsteling disse na vore bring, is kruie ook propvol antioksidante en noodsaaklike voedingstowwe.

So, volgende op my lys is 'n kruietuin propvol Roosmaryn, Tiemie, Basiel, Pietersielie, Salie, Kruisement, Knoffel en Gemmer, net 'n paar van my gunsteling kruie.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...