Vrydag 08 Desember 2017
Totsiens aan my Gauteng se reën
Hoor daar, buite val dit.
Een, twee, ewe skielik
Alomvattend neerslag;
Spat vinnig en egalig.
Druppels trippel op die teerpad,
Somersblareblare nat,
Vloei af met strate na
Verstopte dreingate.
Tip-tap teen die dakke.
Druppend van ‘n boom se takke.
Nat, pap, water tap,
Trap jy in die sop.
By my heers die lus om maar net
By die huis te bly en dus
By niemand hoef te maak of ek
By hulle tuis voel nie.
Binne is dit droog, sug
Voor die kaggelvuur, sit
Net vir ‘n ruk en tuur
En hoor hoe kraak die hout.
Die motreën is aanhoudend, word
Soms onderskat, pla sommiges,
Maar bied vir my ten minste
‘n Verskoning om te rus.
Die reënweer bring ook mense nader:
Onder sambrele, afdakke
Of komberse, rondom vure,
‘n Kans vir nader skuur.
My Gauteng se reën stel
My nooit teleur om, as
My gedagtes wandel,
My gemoedsvure te blus.
Vir my is dit totsiens aan Gauteng se wonderlike somerreëns. Ons het ons kleinhoewe verkoop na 42 jaar en verhuis na die Noordkus (KwaZulu Natal, Suid Afrika) in so 'n week of wat. Dit was moeilik vir my om vaarwel aan my tuin te sê, maar daar lê nou wonderlike moontlikhede voor my om iets nuuts te leer - Natal se bome, veld-grasse, blomme, diertjies en Natal se voëls - ek sien uit na ure se voëls kyk, op die strand loop en ek sal soveel as moontlik foto's neem om te wys. Sien julle later!