Donderdag 09 April 2015

Hoekom het ek nie rose in my tuin nie?


Blomme vorm 'n belangrike deel van plantlewe en bly nog een van die groot wonders van die natuur. Rose is een van daardie mooi, romantiese blomsoorte wat baie gewild is en wat harte reg oor die wêreld daagliks verbly. Selfs 'n siek mens kan liries raak oor rose, want die geure en kleure is baie besonders.

"Icebergs" uit my vorige tuin

'n Vriendin van my het verlede winter die pragtigste rose in haar tuin gehad. Ek het ook eens op 'n tyd rose in my tuin gehad. Hoekom het ek nie nou rose in my tuin nie? Ek weet dis 'n besluit wat ek op een of ander tyd geneem het, maar kan nou skaars onthou hoekom...


Ek verkies 'standaard' of 'floribunda' rose, soos Icebergs. Dit het minimale versorging nodig, anders as die 'T-hybrids', wat 'n hele ander storie van versorging is. Icebergs is Suid Afrika se mees populêre roos omdat hule so prolifies blom. Daar is selfs variateite wat net met 'n paar uur son 'n dag kan klaarkom. Iceberg is 'n floribunda rooskultivaar ontwikkel in Duitsland in 1958. Dis ook bekend as 'Korbin', Fée des Neiges en Schneewittchen.

"Johannesburg Gold" uit my vorige tuin

Ek het wel van die T-hybrids gehad en ek onthou al die gesnoeiery en versorging elke lente. Al die gesprei vir luise en allerhande rooi roes. Dalk is dit een van die redes waarom ek besluit het om nie meer rose te plant nie...

Ek het selfs 'n paar Johannesburg Gold's gehad, wat baie raar en vreeslik gewild was in die 70's toe dit net uitgekom het. Maar as dit nie genoeg water kry nie, val die blare sommer af, iets wat my nie veel aangestaan het nie!

'n Pienk Floribunda uit my vorige tuin

O ja, nou onthou ek hoekom ek nie rose in hierdie tuin van my geplant het nie - ek het besluit op alleenlik inheemse plante en bome. En alhoewel ek aanneem daar is dalk inheemse rose, ek weet regtig waar nie genoeg omtrent rose om daarop te kommentaar nie, het ek besluit aalwyne, vygies en Witstinkhoutbome is vir my!

.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...