Wys tans plasings met die etiket janfrederik. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket janfrederik. Wys alle plasings

Vrydag 01 Februarie 2019

Daar is nuwe lewe in die tuin!


Dis vroeg-somer en al wat 'n hoender en 'n voël is, is broeis! Kiep sit al vir twee weke op 'n kamma-eier (ek verwyder al die eiers aangesien ek nie nog hoenders wil hê nie en gee vir hulle 'n golfbal wanneer broeisgeit hulle tref!)


'n Paar weke terug het ek opgelet dat die Fiskaallaksman op haar nes sit en hierdie keer het ek die nes  fyn dop gehou om te sien wanneer die die kleintjies uitkom. 'n Week of so terug het ek uiteindelik die kleintjies gesien. Eintlik meer gehoor as gesien, die geraas wat hulle maak om gevoer te word is oordowend! En Mama Fiskaal het haar hande vol hierdie seisoen, sy het sommer drie!

Lekker rustig na 'n vet sprinkaan, gee hierdie enetjie glad nie om dat ek so naby is nie!

Magie vol, ogies toe!


My Janfrederik (Cape Robin-chat - (Cossypha caffra) het laat-September 2 eiers gelê en vanoggend was ek vreeslik opgewonde toe ek sien sy dra maalvleis wat ek op die voertafel sit aan na die nes. Terwyl sy weg was, het ek gou nader gesluip en 'n paar foto's geneem en daasy! twee van die pragtigste, kleinste Janfrederikkies!


Nou's dit net 'n geval van hoop die Fiskaallaksman sien nie die kleintjies nie, maar gelukkig voorsien ek genoeg kos vir haar en haar kleintjies and hopelik het sy nie nodig om in enige neste te gaan rondkrap nie!


Die Lyster (Karoo Thrush) is ook besig om grasse op te dra na die takke in die Wit Karee en die Mynahs sit ook op eiers binne in die nok van die grasdakkie bo-oor my hek - 'n doring in my vlees, want hulle verwyder al die gras, maak gate oral en bowendien rand hulle al wat 'n klein voëltjie is in die tuin aan. Volgende op my lys is om die grasdakkie te laat regmaak en toe te span met ogiesdraad, hopelik sal hulle trek en 'n nuwe tuiste vind!



My twee Bosduiwe (Speckled pigeon - Columba guinea of African rock pigeon) het alreeds laat-winter twee kleintjies gehad en hulle is nog steeds hier rond saam met die ouers maar sal binnekort vertrek en hul eie area gaan uitsoek. Meer as een paartjie in 'n tuin is moeilikheid soek - hulle is uiters morsige voëls, soos alle duiwe, en dis 'n daaglikse taak om die stoep skoon te maak. Maar ek voel vreeslik geseënd dat ek twee het wat my tuin (eintlik my dak!) gekies het en hier bly.
 

Vrydag 11 Januarie 2019

Ietsie vir Vrydag


Dae lank dreig dit nou al om te reën,
wolke hang swaar en somber aan die hemelruim,
daar is ‘n gevoel van beklemming en verwagting.

Teen aand skemer duik en swenk die swaeltjies
deur die grys lug
en blom die poulelies wit
as ‘n belofte dat dit gaan reën.

As die donder rammel in die verte
en ons ‘n lug vertoning aanskou,
is dit asof dit ‘n agtergrond is
vir die konsert van die Jan Frederik
waar hy op die tuinmuur dans
en met sy lyfie wikkel en bewe
as die eerste groot druppels plonsend val.