Wys tans plasings met die etiket somer. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket somer. Wys alle plasings

Vrydag 01 Februarie 2019

Daar is nuwe lewe in die tuin!


Dis vroeg-somer en al wat 'n hoender en 'n voël is, is broeis! Kiep sit al vir twee weke op 'n kamma-eier (ek verwyder al die eiers aangesien ek nie nog hoenders wil hê nie en gee vir hulle 'n golfbal wanneer broeisgeit hulle tref!)


'n Paar weke terug het ek opgelet dat die Fiskaallaksman op haar nes sit en hierdie keer het ek die nes  fyn dop gehou om te sien wanneer die die kleintjies uitkom. 'n Week of so terug het ek uiteindelik die kleintjies gesien. Eintlik meer gehoor as gesien, die geraas wat hulle maak om gevoer te word is oordowend! En Mama Fiskaal het haar hande vol hierdie seisoen, sy het sommer drie!

Lekker rustig na 'n vet sprinkaan, gee hierdie enetjie glad nie om dat ek so naby is nie!

Magie vol, ogies toe!


My Janfrederik (Cape Robin-chat - (Cossypha caffra) het laat-September 2 eiers gelê en vanoggend was ek vreeslik opgewonde toe ek sien sy dra maalvleis wat ek op die voertafel sit aan na die nes. Terwyl sy weg was, het ek gou nader gesluip en 'n paar foto's geneem en daasy! twee van die pragtigste, kleinste Janfrederikkies!


Nou's dit net 'n geval van hoop die Fiskaallaksman sien nie die kleintjies nie, maar gelukkig voorsien ek genoeg kos vir haar en haar kleintjies and hopelik het sy nie nodig om in enige neste te gaan rondkrap nie!


Die Lyster (Karoo Thrush) is ook besig om grasse op te dra na die takke in die Wit Karee en die Mynahs sit ook op eiers binne in die nok van die grasdakkie bo-oor my hek - 'n doring in my vlees, want hulle verwyder al die gras, maak gate oral en bowendien rand hulle al wat 'n klein voëltjie is in die tuin aan. Volgende op my lys is om die grasdakkie te laat regmaak en toe te span met ogiesdraad, hopelik sal hulle trek en 'n nuwe tuiste vind!



My twee Bosduiwe (Speckled pigeon - Columba guinea of African rock pigeon) het alreeds laat-winter twee kleintjies gehad en hulle is nog steeds hier rond saam met die ouers maar sal binnekort vertrek en hul eie area gaan uitsoek. Meer as een paartjie in 'n tuin is moeilikheid soek - hulle is uiters morsige voëls, soos alle duiwe, en dis 'n daaglikse taak om die stoep skoon te maak. Maar ek voel vreeslik geseënd dat ek twee het wat my tuin (eintlik my dak!) gekies het en hier bly.
 

Dinsdag 27 September 2016

Die winter is verby!

'n skets van Lobelias in 'n hangmandjie - Geínspireer deur een van Cathy Johnson se sketse
.
Na die koue, lang winter, is dit tyd dat die natuur weer lewe kry. Die kort dae is nou langer en die perskebloeisels en groen gras begin oorneem. Van Lente was daar omtrent geen sprake nie en nou is dit Somer. Somer is buite-wees tyd. Sorgelose ure. Lang slenterstappe in die skemer se soeltes en ‘n braai onder gesellige sterre. Somer is groei – my kappertjies wat begin blom, vinkneste word gebou, klein voëltjies wat leer vlieg. 

Baie van my Kappertjies het dit deur die winter gemaak!

Nuwe lewe in die tuin! Die Rooiborsduif het 3 babatjies so vroeg in die seisoen.

Maar Somer het ook sy slegte kant. Dis ‘n tyd van lastige vlieë en muskiete, veral muskiete wat my hoenders byt en hoenderpokkies veroorsaak. Ek haat gifstowwe, maar vir muskiete en rotte het ek geen genade nie. Baie maal styg my irritasie vlakke saam met die temperatuur – enige iets hier oor 28℃ en ek sluit myself toe in my ateljee met die lugverfrisser op ‘n sterk 16℃. Stappies in die veld word gereël vir vroeg-oggend of skemer en die strand besoek ek net in die winter, wanneer die temperatuur gewoonlik so ‘n matige 23℃ is.
Maar wanneer alles eers begin blom en groen word, dan is die somer die moeite werd!