Wys tans plasings met die etiket herfs. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket herfs. Wys alle plasings

Vrydag 21 Junie 2024

Herfsaande

 


Werk jy ooit in die aand in jou tuin? Hier by die kus doen ek dit gereeld, want partymaal is dit gans te warm vir my gedurende die dag, veral in die somer.

Foto vannaand om 7-uur geneem met iPhone 11 Pro

Vannaand, terwyl ek besig was om die tuin bietjie nat te spuit, het dit my opgeval hoe lewenslustig die plante in die aand lyk. Die rede hoekom ek nat gespuit het, is omdat die plante heeltemal verlep gelyk het vanmiddag.  Dit was vandag besonders warm vir 'n Herfs-dag. Maar vannaand het hulle vars gelyk en op aandag gestaan vir die koeler luggie.


Nog 'n rede om in die aande tyd in die tuin te spandeer, is die pragtige geluidw van die krieke en rietpaddas, selfs die vlermuise soos hulle laag oor die tuin swiep. En dis ook die tyd wanneer allerhande snaakse goeters hul verskyning maak, soos die mol wat ek eergisteraand in die tuin rond gejaag het - wou hom nie seermaak nie, wou net hê dat hy moet trek na anderkand my heining! Dis ook 'n goeie tyd om slakke bymekaar te maak en anderkant die heining los te laat.


Aangesien dit al amper einde-Mei is, is dit streng gesproke seker al Winter, maar hier by die kus ken ons mos nie "winter" nie. 'n Paar 20°C dae met warm kouse en dis ons Winter-ondervinding. Selfs die Swaeltjies kies nie die pad in April nie, hulle dans dwarsdeur die jaar oor die suikerriet anderkant my heining. Dis net sekere plante en bome, soos die Koraalboom (Erythrina lysistemonwat Winter aankondig met blaarlose takke en pragtige rooi blomme.




Fotos vanaf Sanbi


Soggens is sagter
en die neute word donkerder
en die bessies het 'n ronder gesig.
Die roos is nie meer in die stad nie.
Maple dra 'n geel sjaal.
Die platteland 'n skarlakenrooi rok,
En ek, om nie te verouder nie,
Ek sal 'n juweel dra.

Die Somer is Verby
--Emily Dickensen


Donderdag 07 April 2022

En saggies sluip herfs in...








Herfs hier by die kus is heeltemal anders as op die Hoëveld. Die verskuiwing van kleur is minder merkbaar hier. Daar is nie die geel van herfs-Stinkhoutblare nie, of die diep oranjes van perskeboomblare nie, Palm- en Piesangbome bly heeljaar deur groen, so ook die gras (wat hier op die kus  in elk geval maar nie te watwonders is nie!) en die Koraalbome vervang hulle groen blare met helder rooi blomme.


'n Vroeë Herfsoggend wat belowe om snik-warm te wees.

'n Pragtige Herfs-sonsondergang







Glinster (Tradescantia pallida) ook bekend as "liefde vir die mens", blom te pragtig in die Herfs. Dit is 'n plant wat baie omgewings en situasies goed weerstaan. Nie inheems aan Suid Afrika nie, maar hulle kan bykans by alle soorte klimaat en grond aanpas, solank dit blootgestel word aan direkte lig.


Glinster of Tradescantia pallida in my herfs-tuin.

Maar wees versigtig waar jy hierdie pragtige plant in jou tuin sit, want dit is taamlik indringerig en dit kan die leefruimte van ander plante binnedring. Maar dit is nogal 'n eksotiese dekoratiewe plant wat die moeite werd is om te hê.

:::

Maandag 30 Maart 2015

Afrikanertjies en baie reën in herfs


As jy kleur vir jou tuin soek, tot diep in herfs, plant hierdie "plesierige" Afrikanertjies. Hulle beloon jou met oneindige  kleur en genot en hoe meer jy pluk, hoe meer blom hulle. Afrikanertjies is die langasems van die blomme-, kruie-, of groentetuin. Lank na die tuin leeg is van somerblomme, skyn Afrikanertjies se helder geel en oranje gesiggies nog oral.


Dit word gesê dat Afrikanertjies (ook bekend as Marigolds) goggas weghou van plante in jou groentetuin en ek strooi opgesnipperde blomme en blare gereeld in my hoenderhok om insekte weg te hou en wanneer mens daarop trap, gee dit die heerlikste geur af. Die blomme en blare maak 'n wonderlike potpourri wanneer jy dit uitdroog. Prop sakkies vol en hang in jou hangkas.

Maar het jy geweet Afrikanertjies is ook eetbaar? Die blomblare is heerlik in 'n kasserol, brode en omelette en is baie kleurvol en smaakvol in rys en sop. Die blomblare gee ook wonderlike kleur aan slaaie.




Afrikanertjies hou van baie water en son maar sal nie kwaad raak as jy so bietjie van hulle vergeet nie. Hierdie geharde plantjies sal jou nog steeds beloon met hul skoonheid. 'n Ekstra bonus is dat jy nooit weer sonder kleur in jou tuin sal wees nie. Die saadjies wat aan die einde van herfs afval op die grond, beloon jou met pragtige kleur in lente. Jy kan ook al die saadknoppies afpluk en in 'n bottel hou om weer te saai net waar jy dit wil hê in die lente.








.