Wys tans plasings met die etiket kaktus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kaktus. Wys alle plasings

Saterdag 11 Junie 2016

Rustyd vir my en die tuin


Dis winter en my tuin rus, behalwe vir die aalwyne en vetplante wat nou almal blom. Meeste van my vetplante wat in potte is, is in die huis ingebring vir die winter en net 'n paar wat ek dink gehard genoeg is, is nog buite. Vir party is dit hul eerste winter buite, so ek hou styf duimvas!


Die Crassula imperialis hier bo geniet die winter son en kan jy glo daar is 'n paadjie daar binne êrens? Dis een ding van as die tuin rus, dan rus ek ook en as ek weer kyk, het moeder natuur alles toe gegroei!

Hierdie Aalwyn (A. zebrina) het die mooiste koraalpienk blomme aan lang stingels en wanneer hulle klaar geblom het hierdie jaar, wil ek die sade versamel en nog van hulle plant. Hierdie is een van die min aalwyne wat nie omgee om in die koelte te groei nie.


Sover is al die Swaardvarings nog groen en ek hoop net nie ons kry erg ryp nie, want dan sal al my groenigheid weg wees.


Die afgelope somer het my grasperk (wat ek nog steeds beplan om te verminder!) mooi gegroei, maar die winter (en die rysmiere!) het al klaar hul merk gelos. Net duskant die kamera op die onderste foto is die grasperk vol kaal kolle waar die rysmiere hul skade aanrig. En daar's nie veel wat mens kan doen nie. Volgens die Koöperasie help gif-korrels wat gestrooi moet word nie (iets wat ek buitendien NOOIT in my tuin gebruik nie) aangesien net kontak-gif op rysmiere werk. En dis 'n onmoontlike saak, want hulle is almal diep onder die grond in hul nes. Dis 'n probleem waaraan ek nog werk...


Aalwyn (A. ferox)

Aalwyn ferox in volle blom

Aalwyn striatula se blomme

Aalwyn zebrina in volle blom

::

Saterdag 10 Oktober 2015

Kaktus- en Vetplantversorging


Al kom vetplante oorspronklik uit dorre streke en gedy oor die algemeen in arm grond, is dit nie te sê dat hulle nie water of voeding moet kry nie. Vetplante is elke tuinier se droom. Elke verskillende plant bied iets besonders: Aan die persoon wat nog moet leer om plante aan die lewe te hou, tot die huiseienaar­ wat water wil bespaar!


Hoe dikwels moet hulle water kry?
Daar is nie ’n antwoord wat in alle gevalle geld nie. Daar is ’n direkte verband tussen water, lig, temperatuur, grondtoestande en vogtigheid. Hoe sterker die lig, hoër die temperatuur en minder die vogtigheid, hoe meer dikwels is water nodig. Die meeste kaktusse en vetplante het ’n aktiewe groeiperiode vir omtrent ’n 1/3 van die jaar. Tydens dié aktiewe periode kan gereeld natgegooi word en moet misstof toegedien word. Die aktiefste tyd vir die meeste kaktusse is in die lente en vroeg-somer.
Wanneer dié periode verby gaan, moet water minder gereeld gegee word soos die winter nader kom. Hulle het baie min water in die koue maande nodig. ’n Goeie natmaak een keer per week in warm weer en een keer per maand in die rusperiode is ’n goeie wegspringplek soos u u plant se behoeftes leer ken. ’n Ander benadering is om dit deeglik nat te maak wanneer die grond heeltemal droog is. As u twyfel, moenie water gee nie.

.
Hoe dikwels moet hulle voeding kry?
Te veel misstof kan slegter wees as glad geen misstof nie. Gebruik ’n misstof wat ’n lae stikstofinhoud het teen omtrent ½ tot ¼ van die aanbevole toediening.
.

Wat is die beste grond vir kaktusse en ander vetplante?
Die meeste potplantgrondmengsels wat in die handel beskikbaar is, is te ryk aan vars organiese materie vir dié plante. Die belangrikste faktor by die kies van ’n plantmedium is dat dit voedingstowwe, water en lug na die wortels moet deurlaat en poreus genoeg is om water te laat dreineer. Baie kaktuskwekers gebruik ’n vermenging van ’n lae veenplantmengsel en puimsteen (50/50). Sand, klein klippies en vermikuliet word ook deur baie suksesvolle kwekers bygevoeg. Eksperimenteer met verskillende kombinasies om die regte kombinasie vir u toestande te verkry. ’n Bolaag van fyngemaakte graniet of fyngruis lyk goed en hou ook voordele in. Dit keer dat die bogrond vinniger as die res van die grond in die pot uitdroog, hou die basis van die plant droog en help met die egalige verspreiding van water.

.
Direkte son en lig is nie dieselfde nie!
Vetplante het lig nodig, maar hulle groei beter as hulle nie in die middagson bak nie. In die natuur sal u jong plante aantref onder ’n bos, boom of iets anders wat gefilterde lig deurlaat. As nuwe groei aan u plant bleekgroen en ekstra lank is, het dit meer lig nodig. As die kant van u plant wat na die ligbron wys, geel, bruin, rooi of ingekeep is, kry dit te veel lig.

.
Vetplante hou nie van dooie lug nie. Voorsien goeie lugsirkulasie vir u plante.


::