Wys tans plasings met die etiket aalwyn. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket aalwyn. Wys alle plasings

Dinsdag 12 Julie 2016

Aloe ferox (Bitter aalwyn)


Aloe ferox, die Kaapse aalwyn, is ‘n inheemse plant van Suider Afrika. Dit word in die Suid Kaap, Oos Kaap en suidelike gedeelstes van KwaZulu/Natal, Vrystaat en Lesotho aangetref. Hier in Gauteng groei hulle taamlik goed indien hulle in vol son is en daar nie sterk ryp in die winter is nie, wanneer dit hul blomtyd is.

Die plant blom vanaf Mei tot September en is ’n stadige groeier met ’n enkel stam en dik, doringrige, vlesige blare en buisvormige, oranje-rooi blomme. Dit is ’n uitstekende struik vir die rotstuin en verkies vol son en matige water. Die sap van die blare word vir medisyne en skoonheidsprodukte gebruik. 

Die blaar van die Aloe ferox plant bevat twee verskillende sappe, nl. geel bitter sap en wit aalwynjel. Albei die sappe is heilsaam vir die liggaam en word uitwendig sowel as inwendig gebruik. Die bitter sap is direk onder die groen skil geleë en is in werklikheid nog deel van die skil. Wanneer ‘n blaar van die plant afgesny word vloei hierdie geel bitter sap spontaan uit die blaar uit. Wanneer die bitter sap gekonsentreer word, word bitter kristalle of bitter poeier gevorm. Die binneste vlesige deel van die blaar is jellierig en bestaan uit ‘n wit slymerige sap wat aalwynjel genoem word. Aalwynjel is nie bitter nie.


Die saad word deur voëls en die wind versprei en groei maklik net waar dit val. In die onderste foto lyk dit of ek al die aalwyne so in 'n ry geplant het, maar ek het 'n spesmaas sade van my ander drie groot aalwyne na links het hierheen gespoel, dalk met reënwater, aangesien dit effens afdraend is. Binnekort sal ek hulle moet uitdun en 'n sonnige plekkie vir hulle soek.

.
My ander drie Aalwyne verlede winter

Vroeë Koloniste is deur die Khoi geleer dat die sap van die blare gebruik kan word as ’n wond-beskermer. Die blare se sap is ook gebruik om brandplekke te behandel, en om inwendige en uitwendige parasiete by honde en beeste te verwyder. Afrika-stamme wend die sap aan as behandeling vir sere. Die sap is ’n sterk purgeermiddel vir beide mens en dier. A heerlike konfyt kan ook van die blare gemaak word. Vandag word die Bitter-aalwyn in verskeie vorme gevind, onder andere in pille en smeermiddels. Dit is kommersieel belangrik as ’n lakseermiddel, en word gebruik in talle gewilde mengsels.




Sondag 23 Augustus 2015

Lente en Aalwyne

 "Aalwyn" potloodskets en waterverf in my Tuin-joernaal - Maree (Aloe ferox) Bitter Aalwyn 

Die Lente is definitief hier. Die Aalwyne het pragtig geblom hierdie winter, en elke winter stel hulle my nooit teleur nie met hulle pragtige blomme wat hou tot diep in die lente. Hulle is waarlik 'n lewens-redder vir al die voëls na die dorre winter, veral die Swart Suikerbekkie (Black Sunbird), wat vroeg-winter al van die heerlike nektar gebruik maak. Ek het hierdie skets van een van my aalwyne verlede maand in my Tuin-joernaal gedoen nadat ek opgemerk het hoe die bye ook om die blomme saamdrom om te drink. Die plant verskaf die meeste nektar na einde-winter se kant toe.

Vroeg-winter en die aalwyne begin net blom

Middel-winter en almal is in volle blom

Einde-winter en die blomme is vet en vol nektar

Lente en die Aalwyne is nou vol saad, 'n ware bewys dat lente uiteindelik hier is!

::

.

Vrydag 17 Julie 2015

Bloedrooi die aalwyn in winter

W&N waterverf van 'n aalwyn in my tuin

Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.


En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!

Foto vanaf die internet

::

Vrydag 30 Januarie 2015

Medisyne uit jou tuin - Aloe ferox


Aloe ferox, die Kaapse aalwyn, is ‘n inheemse plant van Suider Afrika. Dit word in die Suid Kaap, Oos Kaap en suidelike gedeelstes van KwaZulu/Natal, Vrystaat en Lesotho aangetref.

Die blaar van die Aloe ferox plant bevat twee verskillende sappe, nl. geel bitter sap en wit aalwynjel. Albei die sappe is heilsaam vir die liggaam en word uitwendig sowel as inwendig gebruik. Die bitter sap is direk onder die groen skil geleë en is in werklikheid nog deel van die skil. Wanneer ‘n blaar van die plant afgesny word vloei hierdie geel bitter sap spontaan uit die blaar uit.  Wanneer die bitter sap gekonsentreer word, word bitter kristalle of bitter poeier gevorm. Die binneste vlesige deel van die blaar is jellierig en bestaan uit ‘n wit slymerige sap wat aalwynjel genoem word. Aalwynjel is nie bitter nie.

In Suid Afrika blom die aalwyne in die winter. 'n Interessante feit is dat hul geneties ingestel is om in die Noordelike Halfrond gedurende hulle somer blom, wat dan natuurlik winter is hier in Suid Afrika.


Talle mense gebruik aalwyn vir spysverterings klagtes soos bv. sooibrand, spastiese dikderm, koliek, maagsere, hardlywigheid ens., blaasontsteking, chroniese moegheidsindroom, diabetes, geelsig, hoë bloeddruk, hoofpyn, kanker, lewerontsteking, oor-, neus-, en keelontstekings, lusteloosheid, mondsere, onreëlmatige menstruasie, ontsteking van die prostaat, psoriase, slaaploosheid, tandvleisontsteking, vaginale ontsteking, depressie, asma, brongitis, emfiseem, sonbrand, hooikoors, aknee, hepatitis, sinusitis, krampe in bene, swaminfeksies soos bv. atleetvoet, onderaktiewe skildklier, artritis, rekmerke, dermatitis, hitte uitslag, brandboudjies, absesse, insekbyte, aambeie, skaafplekke, gordelroos, lewervlekke, skilfers, haarverlies, waterpokkies, littekens, vratjies, verstuitings en verrekkings, cholesterol en nog vele meer.



Aloe ferox is nie toksies of gewoonte vormend nie.

Geen nadelige newe-effekte is bekend nie. Uitsonderlike gevalle van allergie kom wel voor.
Aloe ferox jel is VEILIG vir swanger vroue, sogende moeders, babas (wat al vrugtesap drink) en persone met ingewandsirritasies.



Aalwyne word in die veld geoes. Daar in die veld word ‘n gat in die grond gemaak. Hierdie gat word met ‘n plastiek vel uitgevoer. Vier tot agt onderste blare van ‘n volwasse plant word naby die stam afgesny. Twee tot driehonderd blare word in ‘n sirkel om die gat opgestapel. Die afgesnyde kante van die blare word binnewaarts gerig sodat die geel bitter sap wat uit die blare vloei, in die gat opgevang word. Na ‘n paar uur word verskeie sulke opgaargate se inhoud versamel. Om bitter kristalle te verkry, word die bitter sap in ‘n metaal drom gegiet. Die drom word oor ‘n oop vuur verhit. Die sap word voortdurend geroer terwyl dit verhit word, totdat die volume daarvan as gevolg van verdamping gehalveer het. Die warm sap word dan in ‘n tinblik oorgegiet waar dit tot ‘n soliede kristal stol waar dit afkoel. Hierdie soliede harde blok kan dan in kleiner kristalle van die verskeie groottes gebreek en gesplinter word. Die bitter sap kan ook gedroog word om ‘n geel fyn bitter poeier te verkry.
(Inligting vanaf 'Aloe ferox Africa'



Aalwyne het groot, dik, blare wat wissel in kleur van grys tot heldergroen. Die blare het 'n wasagtige tekstuur en is goed aangepas vir die dorre klimaat waarin aalwyne aangetref word. Die klein, buisagtige blomme van die aalwyn is geel, oranje of rooi en groei in groepe.

Die aalwyn of alwee (Aloe) is 'n eensaadlobbige vetplant en die saad word maklik deur voëls en die wind versprei. Ek het 'n hele paar wat sommer vanself langs een van die paadjies in my tuin opgekom het.







Hierdie aalwyn vertoon ook mooi as 'n aksentplant in die somer.

.