Woensdag 23 September 2015

Verbaas en gelukkig!


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is... Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.


Jy sou dalk lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.


Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter. 


Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...



My amper 40-jaar oue perskeboom weier om op te gee - nuwe bloeisels dui op nog baie lewe in hierdie ou dame. Verlede jaar het die regterkantste tak mee gegee onder die gewig van al haar vrugte en dit lyk of sy weer hierdie somer haar bes gaan probeer!

.

Saterdag 05 September 2015

Eenvoudig en moeite vry


Tuine wat voortdurend aandag verg, word deesdae al skaarser namate mense se vrye tyd kosbaarder word. ’n Groot grasperk, oordadige blombeddings en ’n netjiese, formele uitleg verg nougesette aandag aan detail. Daar is rande om te sny, heinings om te knip, blare om te hark, dooie blomme om uit te breek, struike om te snoei, jaarplante om te saai en uit te plant, bolle om te lig en rose wat bespuit en gesnoei moet word. Ek het my grasperk gedeelte met die helfte verminder, paadjies en nog beddings aangebring  en ook van die meeste uitheemse en moeite-vergende blomme en plante ontslae geraak. Om elke jaar bolle te lig en in die lente weer te plant, is nie vir my beskore nie! Net so om plante aan te hou wat elke winter met "frost covers" toe gemaak moet word.


Ek het deesdae ook nie veel sin daaraan om plante wat gepamperlang moet word, aan te hou nie. Die Pachypodium lameri in die middel van bostaande foto was eers in 'n pot, elke jaar 'n groter pot, wat ek jaar na jaar elke winter en elke lente in en uit gedra het om dit teen die ryp te beskerm, totdat ek eendag genoeg gehad het en hom in 'n vol-son kol in die tuin geplant het. Hy het pragtig gevorder vir 'n paar seisoene totdat een partikulêre ysige winter een te veel was vir hom. Hierdie pragtige plant is vanaf Madagaskar en sal hier in Suid Afrika alleenlik in 'n ryp-vrye tuin aard.


Waterbesparing is ook nog ’n rede om jou tuin so te ontwerp dat dit die minimum onderhoud verg en wat gebruik maak van inheemse plante en materiale en strukture wat die minste moeite vereis. Aalwyne en sekere vetplante is baie geskik vir hierdie doel - verg min water en aandag en beloon mens elke jaar met die pragtigste kleur in die tuin.



Daar is selfs skadu-liewende aalwyne wat uitstekend sal groei in half-skadu, soos die pragtige A. zebrina hierbo. Hulle Koraal-pienk blomme lyk pragtig in die skaduwee.



'n Paar interessante wel-geplaasde strukture, potte en groot klippe sal ook interessantheid aan die tuin verleen sonder veel onderhoud of moeite.




Hierdie groot swamme het vanself langs my tuinpaadjie langs die groot klip opgekom en na 'n paar weke was hulle kliphard, soos pottebakkers-sampioene!

(Wikipedia sê 'n Swam of skimmel is enige lid van 'n groot groep eukariotiese organismes wat mikro-organismes soos gis en muf, asook die bekender sampioene insluit. Swamme vorm die koninkryk Fungi, 'n biologiese koninkryk wat apart is van die plante en diere. Een groot verskil tussen plante en swamme, is dat swamme se selle selwande het wat chitien bevat, terwyl plante se selwande sellulose bevat. Hierdie en ander verskille dui daarop dat swamme 'n aparte groep verwante organismes is, die sogenaamde Eumycota of "ware swamme"; 'n groep wat 'n gemeenskaplike voorouer deel. Swamme word dwarsdeur die wêreld aangetref en die meeste is onopvallend vanweë hul klein grootte en strukture, die manier waarop sommige hulself kamoefleer en as simbiote van plante, diere en ander swamme. Hulle kan opvallend word wanneer hulle "vrugte" dra: sogenaamde "sporokarpe", soos sampioene of muf. Swamme vertolk 'n belangrike rol in die ontbinding van organiese stowwe en het fundamentele rolle in die herwinning en verdeling van voedingstowwe in die natuur.)


Hou jou tuin eenvoudig en moeite vry en vol interessanthede en jy sal nooit daardie skuldige gevoel van "O! Ek verwaarloos my tuin!" kry nie!

.

Sondag 23 Augustus 2015

Lente en Aalwyne

 "Aalwyn" potloodskets en waterverf in my Tuin-joernaal - Maree (Aloe ferox) Bitter Aalwyn 

Die Lente is definitief hier. Die Aalwyne het pragtig geblom hierdie winter, en elke winter stel hulle my nooit teleur nie met hulle pragtige blomme wat hou tot diep in die lente. Hulle is waarlik 'n lewens-redder vir al die voëls na die dorre winter, veral die Swart Suikerbekkie (Black Sunbird), wat vroeg-winter al van die heerlike nektar gebruik maak. Ek het hierdie skets van een van my aalwyne verlede maand in my Tuin-joernaal gedoen nadat ek opgemerk het hoe die bye ook om die blomme saamdrom om te drink. Die plant verskaf die meeste nektar na einde-winter se kant toe.

Vroeg-winter en die aalwyne begin net blom

Middel-winter en almal is in volle blom

Einde-winter en die blomme is vet en vol nektar

Lente en die Aalwyne is nou vol saad, 'n ware bewys dat lente uiteindelik hier is!

::

.

Woensdag 29 Julie 2015

Blousyselbos - Vergeet-my-nie (Plumbago)

Daar is ’n koel kalmte aan die massas floksieagtige, sagte blou blommetjies van Plumbago auriculata (blousyselbos) wat wild oor grensdrade en oor mure spoel. Kan daar ’n mooier heiningplant of meer ontspanne struik wees wat so geil blom in ’n warm somer tuin?


Een van my gunsteling plante, die Blousyselbos (Plumbago auriculata) in sy blou vorm, wat ek nie meer het nie, hierdie foto is in my vorige tuin geneem. Dis ‘n bosserige struik en blom vanaf laat-lente tot herfs en maak ’n uitstekende heiningplant. Dit groei beste in ’n sonnige tot semi-skaduposisie en is baie ’water wise’ en voëlvriendelik. Dit word ook gereeld besoek deur skoenlappers en is een van die gasteplante vir die gewone Blou Skoenlapper (Cyclyrius pirithous). Hulle sê die plant weerstaan semi-koue en is ryp-gehard, maar my ondervinding was dat die ryp dit elke jaar tot die grond afgemaai het. Gelukkig herstel dit gou en het elke jaar net groter en groter geword.

Daai stekelrige en harerige gedeeltes wat jy daar sien tussen die blomme is verskriklik taai en hemel verhoed dat jy tussen dit deurkruip (soos ek baie maal gedoen het om die ou gedeeltes uit te snoei), want jy kom daaruit met omtrent die hele bos wat aan jou vassit!

Die Blousyselbos is inheems aan Suid Afrika en kom voor in die Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal asook in Gauteng en aanliggende dele van die Vrystaat en NoordWes Provinsie. Was voorheen bekend as Plumbago Capensis.

As informele heiningplante vir groot tuine is hulle beslis ’n goeie keuse. Die struike sal sonder inmenging van ’n tuinier met groot gemak ’n volwasse hoogte van meer as 3m bereik en 3m breed word. Met minder ruimte en ’n skerp snoeiskêr kan jy die lieflike inheemse blousyselbos ook in klein tuine plant en ’n lae skerp geknipte heining kweek, ’n netjiese spesimen-struik vorm wat ’n onooglike plekkie moet afskerm, of jou selfs oorgee aan die siersnoeikuns en hulle oplei in die vorm van hoogstamboompies. Hulle is ewe mooi in potte as hulle netjies gesnoei word, gereeld met ’n vloeibare misstof bemes word en baie water kry wanneer dit warm is.

Die plant se loof is fyn en saggroen. Die blomme is poeierblou of wit en herinner aan die outydse, suikersoet en taai floksies in Ouma se somertuin waarvan ons as kinders altyd die soet nektar uitgesuig het en oorbelle gemaak het.


DIE BLOM
Ons weet almal van ’n tuin v-o-l blomme,
elkeen sy eie kleur, sy eie geur.
Nou, ons elkeen soek die perfekte blom,
maar ken jy die een,
wat saam met jou huis toe kom?
Sagkens soek,
ek moet versigtig wees ek sien jou raak,
dit moet! jy wees.
Alles wat ek in ’n blom kon kry vind ek in jou,
kom saam my! Doudruppeltjies klein,
en druppeltjies fyn op jou blare,
mooipraat, pyn.
Om jou wortels met my hande gegrawe jou losgemaak,
uit die aarde,
outhede begrawe.
In ’n pot goud jou weer geplant.
Altyd!, sal ek jou water gee vir wind en onkruid,
sal ek sê nee!
Want in ’n huis van glas is waar jy sal bly
vir ewig en altyd, ek en jy!
- Jan Allerman


.

Vrydag 17 Julie 2015

Bloedrooi die aalwyn in winter

W&N waterverf van 'n aalwyn in my tuin

Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.


En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!

Foto vanaf die internet

::