Maandag 08 Julie 2024

Hoekom het ek nie rose in my tuin nie?


Blomme vorm 'n belangrike deel van plantlewe en bly nog een van die groot wonders van die natuur. Rose is een van daardie mooi, romantiese blomsoorte wat baie gewild is en wat harte reg oor die wêreld daagliks verbly. Selfs 'n siek mens kan liries raak oor rose, want die geure en kleure is baie besonders.

"Icebergs" uit my vorige tuin

'n Vriendin van my het verlede winter die pragtigste rose in haar tuin gehad. Ek het ook eens op 'n tyd rose in my tuin gehad. Hoekom het ek nie nou rose in my tuin nie? Ek weet dis 'n besluit wat ek op een of ander tyd geneem het, maar kan nou skaars onthou hoekom...


Ek verkies 'standaard' of 'floribunda' rose, soos Icebergs. Dit het minimale versorging nodig, anders as die 'T-hybrids', wat 'n hele ander storie van versorging is. Icebergs is Suid Afrika se mees populêre roos omdat hule so prolifies blom. Daar is selfs variateite wat net met 'n paar uur son 'n dag kan klaarkom. Iceberg is 'n floribunda rooskultivaar ontwikkel in Duitsland in 1958. Dis ook bekend as 'Korbin', Fée des Neiges en Schneewittchen.

"Johannesburg Gold" uit my vorige tuin

Ek het wel van die T-hybrids gehad en ek onthou al die gesnoeiery en versorging elke lente. Al die gesprei vir luise en allerhande rooi roes. Dalk is dit een van die redes waarom ek besluit het om nie meer rose te plant nie...

Ek het selfs 'n paar Johannesburg Gold's gehad, wat baie raar en vreeslik gewild was in die 70's toe dit net uitgekom het. Maar as dit nie genoeg water kry nie, val die blare sommer af, iets wat my nie veel aangestaan het nie!

'n Pienk Floribunda uit my vorige tuin

O ja, nou onthou ek hoekom ek nie rose in hierdie tuin van my geplant het nie - ek het besluit op alleenlik inheemse plante en bome. En alhoewel ek aanneem daar is dalk inheemse rose, ek weet regtig nie genoeg omtrent rose om daarop te kommentaar nie, so ek het besluit aalwyne, vygies en Spekbome is vir my!



Nieteenstaande die feit dat Spekbome droogtebestand is, kom hulle tot hulle volle reg wanneer hulle genoeg water kry.

::



.

Dinsdag 02 Julie 2024

Die geluid van liefde in die lug



Wanneer daar insekte en voëltjies in jou tuin is, is daar liefde in die lug! In die insekwêreld word klanke en geure dikwels gebruik om ’n maat te vind—wat nie ’n maklike taak is as jou lewensduur net ’n paar weke is en daar maar min voornemende maats in die omgewing is nie.

Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei.

Wyfiepouoogmotte vind ’n maat deur ’n reuk af te skei wat so sterk is dat ’n mannetjie byna 11 kilometer daarvandaan die wyfie kan vind. Sy sensitiewe voelers kan ’n enkele molekule van die reuk waarneem.
Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak!

Drolpeer - Dombeya rotundifolia - foto vanaf Veldwagter

Halleria lucida langs 'n ou stomp en Vuurpyle

Maar dit gaan nie net oor die gebruik van gifstowwe nie. Ons kan heelwat doen om ons tuine meer aanloklik vir die veervolk te maak. Daar is heelwat plante wat veral skoenlappers kan terug lok tuin toe, soos die Koraalboom (Erythrina lystemon), die Notsung, ook genoem Fuschia, (Halleria lucida), en die Drolpeer (Dombeya rotundifolia). 

‘n Goeie keuse vir tussen klippe of op ‘n rotstuin is die Crassula perfoliata. Ander plante is die Sonbekkiebos (Metarungia longistrobus), Fynblaarrooihout (Ochna serrulata), en die Wilde-pynappel (Eucomis Comosa, Eucomis autumnalis en die Eucomis humilis).


Al die vuurpyle (Kniphofia) variëteite, Makhaya bella, Freylinia tropica, Juncus effesus en selfs die Varkoor hou van skaduwee en baie water.


En water in jou tuin is absoluut noodsaaklik vir die insekte en voëls om hulle daaglikse takies te doen, soos jou grond omskoffel, oorvloedige blaartjies op te vreet en sommer maar net baie lewe in jou tuin te skep!

Geniet die skoenlappers wat terugkom en onthou -- ‘n ruspe is net ‘n skoenlapper wat nog nie vlerke gekry het nie!

- Sommige van die inligting vanaf 'Kormorant' 

.

Vrydag 21 Junie 2024

Herfsaande

 


Werk jy ooit in die aand in jou tuin? Hier by die kus doen ek dit gereeld, want partymaal is dit gans te warm vir my gedurende die dag, veral in die somer.

Foto vannaand om 7-uur geneem met iPhone 11 Pro

Vannaand, terwyl ek besig was om die tuin bietjie nat te spuit, het dit my opgeval hoe lewenslustig die plante in die aand lyk. Die rede hoekom ek nat gespuit het, is omdat die plante heeltemal verlep gelyk het vanmiddag.  Dit was vandag besonders warm vir 'n Herfs-dag. Maar vannaand het hulle vars gelyk en op aandag gestaan vir die koeler luggie.


Nog 'n rede om in die aande tyd in die tuin te spandeer, is die pragtige geluidw van die krieke en rietpaddas, selfs die vlermuise soos hulle laag oor die tuin swiep. En dis ook die tyd wanneer allerhande snaakse goeters hul verskyning maak, soos die mol wat ek eergisteraand in die tuin rond gejaag het - wou hom nie seermaak nie, wou net hê dat hy moet trek na anderkand my heining! Dis ook 'n goeie tyd om slakke bymekaar te maak en anderkant die heining los te laat.


Aangesien dit al amper einde-Mei is, is dit streng gesproke seker al Winter, maar hier by die kus ken ons mos nie "winter" nie. 'n Paar 20°C dae met warm kouse en dis ons Winter-ondervinding. Selfs die Swaeltjies kies nie die pad in April nie, hulle dans dwarsdeur die jaar oor die suikerriet anderkant my heining. Dis net sekere plante en bome, soos die Koraalboom (Erythrina lysistemonwat Winter aankondig met blaarlose takke en pragtige rooi blomme.




Fotos vanaf Sanbi


Soggens is sagter
en die neute word donkerder
en die bessies het 'n ronder gesig.
Die roos is nie meer in die stad nie.
Maple dra 'n geel sjaal.
Die platteland 'n skarlakenrooi rok,
En ek, om nie te verouder nie,
Ek sal 'n juweel dra.

Die Somer is Verby
--Emily Dickensen


Saterdag 15 Junie 2024

Wanneer laas...?

.
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.
Hier buite was dit effens toegetrek met ‘n ligte en aangename briesie.
.
Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie.
.
Hoekom nie?
.
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?
.
Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons aangaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.
.
Wanneer was die laaste maal dat jy ‘n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe ‘n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel…?
.
 .
.
Hoekom dit nie vandag doen nie?
.

Donderdag 01 Junie 2023

‘n Eko-vriendelike tuin


Wanneer laas kon jy ‘n skoenlapper se pragtige kleure bewonder? Of 'n by waar hy naarstigtelik besig is om stuifmeel bymekaar te maak? Lanklaas? Waarskynlik, want deesdae word alles mos bespuit met al wat gif is. Selfs heuningbye word bedreig.

Help 'n by in nood!

Waarvan ons en ons nageslag gaan lewe as heuningbye en skoenlappers van die aarde af verdwyn, is ‘n ope vraag. Naas water en suurstof, is bye en skoenlappers onmisbaar vir oorlewing, want daar is niks wat die bestuiwingsfunksie so kan vervul nie, en niemand kan daardie funksie by hulle oorneem nie. Die goeie nuus is dat ons kan tuinmaak om skoenlappers en bye te lok. Omdat die huidige habitats en voedselbronne minder word, moet ons bestaande bye-vriendelike plante beskerm en in stand hou deur meer bye-vriendelike plante aan te plant.


Hoewel bloekombome indringers kan wees, is hulle baie belangrik as 'n voedselbron vir ons inheemse bye. Die doel is om, deur goeie bestuur, bloekombome te behou as voedselbron vir ons bye. Grondeienaars moet die spesies en ligging van bloekombome op hul plase identifiseer. Dié sonder bloekombome kan dit oorweeg om sekere nie-genoteerde spesies (bv.E. ficifolia of E. gomphocephala) te plant waar hulle nie waterbronne bedreig of 'n indringingsgevaar stel nie.


In ‘n eko-vriendelike tuin is daar nie plek vir insektedoders nie. Of dit nou ‘n kontakdoder of ‘n sistemiese middel is, los dit. Aan die begin sal dit dalk moeilik wees, want die natuurlike vyande sou lankal die wyk geneem het omdat daar nie kos is nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek insekdoders in my tuin gebruik het nie. Nou die oggend sit ek en luister na die voëlgeluide. Ek besef toe dis omdat ek nie meer gif spuit nie dat hier meer goggas is, en omdat hier meer goggas is, is hier meer voëltjies, want hier is genoeg kos om te oorleef en kleintjies groot te maak.


Sondag 11 Desember 2022

'n Nuwe ontdekking -- Seweweeksvaring



Gedurende die afgelope winter het 'n pragtige varing ewe skielik haar verskyning in 'n skaduwee-hoekie in my tuin gemaak en ek het sommer besluit om 'n spesiale hoekie met 'n voëlbad te maak vir al my geveerde vriendjies.


Dit was nie lank voor die voëltjies die hoekie ontdek het nie. Hierdie hoekie is reg buite my slaapkamer venster en ek kan ure sit en dophou hoe hulle bad en stry onder mekaar vir die beste plekkie.


Die Gewone waternaeltjie (dalk Pennywort?) het ook vanself tussen die plaveisel opgekom en maak 'n pragtige grondbedekking so tussen die plaveisel.


Die Seweweeksvaring (Rumohra adiantiformis) is 'n varingspesie wat in Suid-Afrika inheems is aan die Wes-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. Dit groei byvoorbeeld op die grond in die woud van Knysna, maar ook in die fynbos en die bosveld

Die plant groei nie hoër as 50cm nie en het 'n voorkeur vir vogtige plekkies. Onder natuurlike groeitoestande ontwikkel die seweweeksvaring slegs beperkte hoeveelhede sori op blare, terwyl groot hoeveelhede sori ontwikkel wanneer die varing onder skadunet verbou word.



Met al die reën wat ons die afgelope weke gehad het, het die varing so baie gegroei dat ek een plaveiselblok moes verwyder om haar meer spasie te gee. En net oorkant hierdie een is daar nog twee varinkies wat pos gevat het. Hopelik kan ek 'n gepaste plekkie vir hulle ook kry.


Wonder hoekom dit juis Seweweeksvaring genoem word ...?


Engels : Leather-leaf Fern


::



Donderdag 07 April 2022

En saggies sluip herfs in...








Herfs hier by die kus is heeltemal anders as op die Hoëveld. Die verskuiwing van kleur is minder merkbaar hier. Daar is nie die geel van herfs-Stinkhoutblare nie, of die diep oranjes van perskeboomblare nie, Palm- en Piesangbome bly heeljaar deur groen, so ook die gras (wat hier op die kus  in elk geval maar nie te watwonders is nie!) en die Koraalbome vervang hulle groen blare met helder rooi blomme.


'n Vroeë Herfsoggend wat belowe om snik-warm te wees.

'n Pragtige Herfs-sonsondergang







Glinster (Tradescantia pallida) ook bekend as "liefde vir die mens", blom te pragtig in die Herfs. Dit is 'n plant wat baie omgewings en situasies goed weerstaan. Nie inheems aan Suid Afrika nie, maar hulle kan bykans by alle soorte klimaat en grond aanpas, solank dit blootgestel word aan direkte lig.


Glinster of Tradescantia pallida in my herfs-tuin.

Maar wees versigtig waar jy hierdie pragtige plant in jou tuin sit, want dit is taamlik indringerig en dit kan die leefruimte van ander plante binnedring. Maar dit is nogal 'n eksotiese dekoratiewe plant wat die moeite werd is om te hê.

:::

Maandag 17 Junie 2019

Wag nog 'n bietjie...

Ek het nog nie 'n nuwe tuin nie... 


Dit is nou 18 maande sedert ons uit Gauteng Natal toe verhuis het waar ons tydelik by my dogter in Ballito woon (totdat ons kan besluit of ons hier wil posvat of nie) en ek het tot dusver nog nie veel met my hande in die aarde gevroetel nie, behalwe om 'n paar steggies vetplante te leen, steel en persent te kry nie. Potjies kan ek darem saam met my vat wanneer ons trek (hopelik binnekort!), aangesien ons tog besluit het om ons hier op hierdie pragtige Noordkus te vestig.

Strelitzia reginae

Strelitzia nicolai

'n ry Koorsbome met ons straat af - Fever Tree (Vachellia xanthophloea)

En alles is vreemd vir my - die voëls, die plante, die blomme en die bome-sonder-name. Tog herken ek baie bekendes wat ek al telkemale in my Gauteng-tuin probeer groei het, sonder sukses, soos die Koorsboom (Fever tree), Strelitzia nicolai en Strelitzia reginae en die Natal fig (Ficus natalensis). Van gras is daar geen sprake hier nie - die grasperke is kol-kol kalerig en glad nie weelderig soos Gauteng se kikuyu gras nie, wat hier heeltemal verbode is, want omtrent alles wat hier groei of geplant word is inheems.


Nou wat doen ek dan heeldag, hoor ek jou vra? Soggens word ek gegroet deur 'n pragtige uitsig oor die see. Na ek gebad en aangetrek het, is dit tyd vir ontbyt of middag-ete by een van die talle wonderlike restaurante hier in Ballito, 'n paar nodige inkopies by Woollies of die Spar en dan terug huis toe.



 Die koffie-winkel in ons plaaslike Spar


Op 'n hittige somers-dag (en in die winter!) is dit heerlik om in of langs die swembad te ontspan en dan bietjie later binnenshuis by die lugverfrisser met 'n spannende boek. Ek het by die biblioteek aangesluit en is vinnig besig om hulle Afrikaanse seksie heeltemal deur te lees!

Umhlali biblioteek in Salt Rock 

 
'n Gunsteling plekkie vir 'n heerlike ete en iets koels om te drink is die Salt Rock Hotel met sy pragtige tuine en uitsig oor die see. Hier kan ek vir ure rondstap en na al die verskillende soorte plante kyk en navraag doen by die tuinier wat altyd daar êrens rond besig is.


En alhoewel die Bougainvilleas nie inheems aan ons land is nie, groei hierdie subtropiese plant hier by die kus in kleure van diep pers deur rooi deur oranje en salm pienk dat die stof so staan!



En so twee of drie maal 'n week stap ek en my man op die strand of die promenade saam met ons hondjie Jacko


en ek kan vir ure op die rotse sit en kyk na die golwe en dolfyne wat verby baljaar. In November is dit ook Walvis-tyd dan is almal op die uitkyk vir hierdie wonderlike besoekers aan ons strande.


Rolbal by Umhlali Country Club is volgende op die spyskaart net sodra ons in ons nuwe plekkie ingetrek het. Ek weet eintlik nie hoekom ek wag nie, want noudat dit winter is, en heelwat koeler is, is dit die perfekte tyd om daarmee te begin. Ek moet bieg dat somer hier op die Noordkus vir my gans te warm is en ek bring dan baie tyd binne by die lugverfrisser deur!