Wys tans plasings met die etiket vuurpyle. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket vuurpyle. Wys alle plasings

Dinsdag 02 Julie 2024

Die geluid van liefde in die lug



Wanneer daar insekte en voëltjies in jou tuin is, is daar liefde in die lug! In die insekwêreld word klanke en geure dikwels gebruik om ’n maat te vind—wat nie ’n maklike taak is as jou lewensduur net ’n paar weke is en daar maar min voornemende maats in die omgewing is nie.

Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei.

Wyfiepouoogmotte vind ’n maat deur ’n reuk af te skei wat so sterk is dat ’n mannetjie byna 11 kilometer daarvandaan die wyfie kan vind. Sy sensitiewe voelers kan ’n enkele molekule van die reuk waarneem.
Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak!

Drolpeer - Dombeya rotundifolia - foto vanaf Veldwagter

Halleria lucida langs 'n ou stomp en Vuurpyle

Maar dit gaan nie net oor die gebruik van gifstowwe nie. Ons kan heelwat doen om ons tuine meer aanloklik vir die veervolk te maak. Daar is heelwat plante wat veral skoenlappers kan terug lok tuin toe, soos die Koraalboom (Erythrina lystemon), die Notsung, ook genoem Fuschia, (Halleria lucida), en die Drolpeer (Dombeya rotundifolia). 

‘n Goeie keuse vir tussen klippe of op ‘n rotstuin is die Crassula perfoliata. Ander plante is die Sonbekkiebos (Metarungia longistrobus), Fynblaarrooihout (Ochna serrulata), en die Wilde-pynappel (Eucomis Comosa, Eucomis autumnalis en die Eucomis humilis).


Al die vuurpyle (Kniphofia) variëteite, Makhaya bella, Freylinia tropica, Juncus effesus en selfs die Varkoor hou van skaduwee en baie water.


En water in jou tuin is absoluut noodsaaklik vir die insekte en voëls om hulle daaglikse takies te doen, soos jou grond omskoffel, oorvloedige blaartjies op te vreet en sommer maar net baie lewe in jou tuin te skep!

Geniet die skoenlappers wat terugkom en onthou -- ‘n ruspe is net ‘n skoenlapper wat nog nie vlerke gekry het nie!

- Sommige van die inligting vanaf 'Kormorant' 

.

Sondag 06 Januarie 2019

Swart Suikerbekkie (Chalcomitra amethystina)

Al ooit gesien hoe ’n glinsterende suikerbekkie ’n dowwe winterveld kan laat sprankel? As alles stof-bruin en vaal is, skitter suikerbekkies in ’n kaleidoskopiese vertoning in die son. En dit alles te dankie aan Vuurpyle (Red Hot Poker - Kniphofia) in jou tuin. Wanneer jy Vuurpyle plant, verseker jy pragtige kleur in jou tuin en kos vir die voëltjies gedurende daai tyd van die jaar wanneer hulle dit die nodigste het, winter.



Suikerbekkies is nou wel klein, maar hulle is sekerlik van die kleurvolste voëltjies in ons tuine. Baie algemeen in my tuin, is die Swart Suikerbekkie (voorheen bekend as Black Sunbird en nou Amethyst Sunbird). Sy naam sê hoe hy op ‘n afstand lyk – oënskynlik pikswart. As die son op ‘n helder dag reg val – en beter nog, as jy van naby of deur ‘n verkyker na hom kyk - sal jy egter sien dat daar die mooiste kleure op die mannetjie se kroon en onder sy keel “weggesteek” is. Die vere op sy kroon is ‘n helder glansgroen en hy het ‘n pragtige glanspers keel.


My Swart Suikerbekkies is verskriklik skaam en versigtig -- ek het nog nooit die perfekte foto van hulle gekry nie. En die mannetjie is meer ontwykend as die vroutjie -- sy vlieg nie so gou weg soos hy nie.

Die wyfie is vaal-grys met spikkels en 'n swart keel. Onvolwassenes lyk soos die wyfie.

Plant struike wat blomme met nektar het as jy suikerbekkies na jou tuin wil lok. Jy sal veral gereelde besoekers kry as jy plante het wat gedurende die winter blom (bv. wilde dagga; aalwyn; kanferfoelie, vuurpyle). En dan weet ons almal dat suikerbekkies lief is vir nektar, maar moenie verbaas wees as jy, teen die verwagting in, een sien wat ‘n vlieënde insek uit die lug vang en vreet nie. Hulle is selfs lief vir spinnekop se kind en sal hom uit sy web haal en vreet. Hul roep is 'n mengsel van 'tsjiek'-note in vlug; dit gee 'n 'tit tit tit'-alarmroep en sing 'n vinnige, tjirpende lied.


::