Sondag 11 Desember 2022

'n Nuwe ontdekking -- Seweweeksvaring



Gedurende die afgelope winter het 'n pragtige varing ewe skielik haar verskyning in 'n skaduwee-hoekie in my tuin gemaak en ek het sommer besluit om 'n spesiale hoekie met 'n voëlbad te maak vir al my geveerde vriendjies.


Dit was nie lank voor die voëltjies die hoekie ontdek het nie. Hierdie hoekie is reg buite my slaapkamer venster en ek kan ure sit en dophou hoe hulle bad en stry onder mekaar vir die beste plekkie.


Die Gewone waternaeltjie (dalk Pennywort?) het ook vanself tussen die plaveisel opgekom en maak 'n pragtige grondbedekking so tussen die plaveisel.


Die Seweweeksvaring (Rumohra adiantiformis) is 'n varingspesie wat in Suid-Afrika inheems is aan die Wes-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. Dit groei byvoorbeeld op die grond in die woud van Knysna, maar ook in die fynbos en die bosveld

Die plant groei nie hoër as 50cm nie en het 'n voorkeur vir vogtige plekkies. Onder natuurlike groeitoestande ontwikkel die seweweeksvaring slegs beperkte hoeveelhede sori op blare, terwyl groot hoeveelhede sori ontwikkel wanneer die varing onder skadunet verbou word.



Met al die reën wat ons die afgelope weke gehad het, het die varing so baie gegroei dat ek een plaveiselblok moes verwyder om haar meer spasie te gee. En net oorkant hierdie een is daar nog twee varinkies wat pos gevat het. Hopelik kan ek 'n gepaste plekkie vir hulle ook kry.


Wonder hoekom dit juis Seweweeksvaring genoem word ...?


Engels : Leather-leaf Fern


::



Donderdag 07 April 2022

En saggies sluip herfs in...








Herfs hier by die kus is heeltemal anders as op die Hoëveld. Die verskuiwing van kleur is minder merkbaar hier. Daar is nie die geel van herfs-Stinkhoutblare nie, of die diep oranjes van perskeboomblare nie, Palm- en Piesangbome bly heeljaar deur groen, so ook die gras (wat hier op die kus  in elk geval maar nie te watwonders is nie!) en die Koraalbome vervang hulle groen blare met helder rooi blomme.


'n Vroeë Herfsoggend wat belowe om snik-warm te wees.

'n Pragtige Herfs-sonsondergang







Glinster (Tradescantia pallida) ook bekend as "liefde vir die mens", blom te pragtig in die Herfs. Dit is 'n plant wat baie omgewings en situasies goed weerstaan. Nie inheems aan Suid Afrika nie, maar hulle kan bykans by alle soorte klimaat en grond aanpas, solank dit blootgestel word aan direkte lig.


Glinster of Tradescantia pallida in my herfs-tuin.

Maar wees versigtig waar jy hierdie pragtige plant in jou tuin sit, want dit is taamlik indringerig en dit kan die leefruimte van ander plante binnedring. Maar dit is nogal 'n eksotiese dekoratiewe plant wat die moeite werd is om te hê.

:::

Maandag 17 Junie 2019

Wag nog 'n bietjie...

Ek het nog nie 'n nuwe tuin nie... 


Dit is nou 18 maande sedert ons uit Gauteng Natal toe verhuis het waar ons tydelik by my dogter in Ballito woon (totdat ons kan besluit of ons hier wil posvat of nie) en ek het tot dusver nog nie veel met my hande in die aarde gevroetel nie, behalwe om 'n paar steggies vetplante te leen, steel en persent te kry nie. Potjies kan ek darem saam met my vat wanneer ons trek (hopelik binnekort!), aangesien ons tog besluit het om ons hier op hierdie pragtige Noordkus te vestig.

Strelitzia reginae

Strelitzia nicolai

'n ry Koorsbome met ons straat af - Fever Tree (Vachellia xanthophloea)

En alles is vreemd vir my - die voëls, die plante, die blomme en die bome-sonder-name. Tog herken ek baie bekendes wat ek al telkemale in my Gauteng-tuin probeer groei het, sonder sukses, soos die Koorsboom (Fever tree), Strelitzia nicolai en Strelitzia reginae en die Natal fig (Ficus natalensis). Van gras is daar geen sprake hier nie - die grasperke is kol-kol kalerig en glad nie weelderig soos Gauteng se kikuyu gras nie, wat hier heeltemal verbode is, want omtrent alles wat hier groei of geplant word is inheems.


Nou wat doen ek dan heeldag, hoor ek jou vra? Soggens word ek gegroet deur 'n pragtige uitsig oor die see. Na ek gebad en aangetrek het, is dit tyd vir ontbyt of middag-ete by een van die talle wonderlike restaurante hier in Ballito, 'n paar nodige inkopies by Woollies of die Spar en dan terug huis toe.



 Die koffie-winkel in ons plaaslike Spar


Op 'n hittige somers-dag (en in die winter!) is dit heerlik om in of langs die swembad te ontspan en dan bietjie later binnenshuis by die lugverfrisser met 'n spannende boek. Ek het by die biblioteek aangesluit en is vinnig besig om hulle Afrikaanse seksie heeltemal deur te lees!

Umhlali biblioteek in Salt Rock 

 
'n Gunsteling plekkie vir 'n heerlike ete en iets koels om te drink is die Salt Rock Hotel met sy pragtige tuine en uitsig oor die see. Hier kan ek vir ure rondstap en na al die verskillende soorte plante kyk en navraag doen by die tuinier wat altyd daar êrens rond besig is.


En alhoewel die Bougainvilleas nie inheems aan ons land is nie, groei hierdie subtropiese plant hier by die kus in kleure van diep pers deur rooi deur oranje en salm pienk dat die stof so staan!



En so twee of drie maal 'n week stap ek en my man op die strand of die promenade saam met ons hondjie Jacko


en ek kan vir ure op die rotse sit en kyk na die golwe en dolfyne wat verby baljaar. In November is dit ook Walvis-tyd dan is almal op die uitkyk vir hierdie wonderlike besoekers aan ons strande.


Rolbal by Umhlali Country Club is volgende op die spyskaart net sodra ons in ons nuwe plekkie ingetrek het. Ek weet eintlik nie hoekom ek wag nie, want noudat dit winter is, en heelwat koeler is, is dit die perfekte tyd om daarmee te begin. Ek moet bieg dat somer hier op die Noordkus vir my gans te warm is en ek bring dan baie tyd binne by die lugverfrisser deur!



Vrydag 31 Mei 2019

'n Vroeë wintersoggend in die tuin


Vroeg-oggend en al die voëltjies wag geduldig vir die eerste strale van die son, asook vir die kostafels om vol gemaak te word, 'n daaglikse wintersoggend gebeurtenis. Gister was daar nie soveel van hulle nie, party oggende het ek tot 50 getel voordat ek telling verloor het. Hulle is meesal Vinke, Rooiborsduifies, Mossies en Rooivinke met een of twee Bottergatjies.

Woensdag 06 Februarie 2019

Tuinmaak is terapie


Tuinmaak is my soort terapie. Vir my is die tuin 'n liefdeslied en ek glo, as jy altyd leeftyd gelukkig wil wees, moet jy `n tuinier wees. Dis waar lewe begin, dis waar niemand jou kritiseer as jy 'n fout maak nie. Kappertjies sal nie kla as jy hulle langs Krismisrose plant nie en die insekte sal hul dank bewys deur gereeld jou blomme te besoek en te bestuif, verniet, sonder dat hulle enige beloning verwag. En 'n ekstra beloning is vuil hande, hande vol grond en modder, want die lewe is te kort om skoon vingernaels te hê!