Dinsdag 21 April 2015

'n Vrugbare tuin met erdwurms


In Suid Afrika is ongeveer 80% van die woonhuise se tuine glad nie geskik om die natuur se siklus te kan onderhou nie. Onder andere bestaan die volgende algemene probleme:
  • Die tuine en meer spesifiek die beddings se vog persentasie is te laag.
  • Die blare, takkies en bas wat van die plante af val, word nie in die tuine se grond ingewerk nie, dit word eerder uit die tuine verwyder of dit is nie voldoende nie.
  • Die grasperke en beddings beskik oor min of selfs geen erdwurms nie. 
Deur onder andere die ondergenoemde aanpassings in jou tuin aan te bring, kan jy jou tuin se vrugbaarheid dramaties verhoog:
  • ‘n Konstante toediening van voldoende water om die plante te onderhou. 
  • Wanneer daar afval plantmateriaal in jou beddings beland, kan jy dit in jou beddings inwerk.
Jy kan erdwurms in jou beddings plaas om die afbreking van plantmateriaal te doen. Die voginhoud moet voldoende wees vir die erdwurms om deur die grond te kan beweeg. Die beddings moet nie so veel water ontvang dat dit letterlik opdam nie. Jy kan eerder minder hoeveelheid water, maar meer gereeld water toedien. Wanneer ek in my tuin spit en op 'n erdwurm afkom, sal ek hom versigtig in die sagte grond terug sit wanneer ek klaar is. Ek het gister reeds die hengelwinkel besoek om nog erdwurms te koop  om in die beddings te plaas.

Probeer om skadu oor die beddings te verkry deur middel van die plante soos bv grondbedekkers of bome. Dit sal die vog in die grond beskerm. Indien jou beddings baie sanderig is, sal dit help om organiese kompos in die beddings in te werk. Sanderige grond hou nie vog goed nie en dit het ook baie min voedingswaarde.


Die erdwurm tipe wat die beste geskik is vir hierdie doel is beslis nie die Karibawurms nie. Die geskikste wurm is die “Slangwurm of wildewurm” (Amynthas Corticis) soos wat dit algemeen in Suid Afrika bekend is. Dit staan ook bekend as “Snake Worms, Black Wriggler or Crazy Worms”.

‘n Baie belangrike aspek van erdwurms wat jy altyd moet in gedagte hou is dat hulle uiters lig sensitief is. Dus is dit baie goed om skadu oor jou beddings te hê en dat die bolaag van die grond bedek word met dooie plantmateriaal. Om die taak van die erdwurms moontlik te maak, is dit noodsaaklik dat die dooiemateriaal vogtig gehou word.

Dus, as deel van die proses om jou tuin se plante, struike en bome tot volle potensial te kry is dit noodsaaklik om die grond in die tuin voortdurend van voedingswaarde te voorsien.

.

Vrydag 17 April 2015

'n Binnenshuise Wintertuin


Aan die begin van elke winter word meeste van my geliefde vwtplantjies binne toe gedra, 'n jaarlikse winter-gebeurtenis wat my waskamer in 'n blommekamer verander. Tussen wasmasjiene en tuimeldroërs en opgevoude wasgoed geniet hulle 'n plekkie in die son. En daar bly hulle en gesels ons met mekaar tot Lente haar kop uitsteek en almal weer uitgedra word na hulle respektiewe plekkies buite op die stoep of in die tuin.



Sympervivums, 'n geskenk van 'n geliefde vriendin





Sedum rubrotinctum


::

Maandag 13 April 2015

Natuurbewaring



Jagters, wat is jul beleid?
Kry jul regtig nie spyt?
Om ons wild so af te maai?
Trofeë jagters laat net met horing en tande waai.

Ons velde word kaal gestroop,
van wilde diere wat het daar geloop.
Kyk na ons trotse sierlike Koedoe bul,
met horings wat na die hemel opkrul.

Ons groottand vlakvark, stert in die lug,
pragtig, maar wat vir sy lewe moet vlug.
Die sierlike gemsbok met sy swart-wit bles,
jagter se prooi, doodskoot of gekwes.

Ou Vlap-oor, ‘n pragberg van ‘n olifant
die trofeë jagter skiet hom net vir ‘n tand.
Stadig stap ons ou Kraagmannetjie leeu,
wat, spaar my! met sy donderbrul skreeu.

Kalahari-springbok wat kromrug pronk,
sê jul kinders geniet ons al’s hul nog jonk.
Ja jy, wie se geld jou pla,
ons diere vra net vir jou gena.

Skenk eerder geld vir bewaring,
en bring jou uitroei hart tot bedaring.
Dankie vir jou reuse aandeel,
dat ons ook vir jou nageslag kan aanteel.
- Onbekend

::

Maandag 30 Maart 2015

Afrikanertjies en baie reën in herfs


As jy kleur vir jou tuin soek, tot diep in herfs, plant hierdie "plesierige" Afrikanertjies. Hulle beloon jou met oneindige  kleur en genot en hoe meer jy pluk, hoe meer blom hulle. Afrikanertjies is die langasems van die blomme-, kruie-, of groentetuin. Lank na die tuin leeg is van somerblomme, skyn Afrikanertjies se helder geel en oranje gesiggies nog oral.


Dit word gesê dat Afrikanertjies (ook bekend as Marigolds) goggas weghou van plante in jou groentetuin en ek strooi opgesnipperde blomme en blare gereeld in my hoenderhok om insekte weg te hou en wanneer mens daarop trap, gee dit die heerlikste geur af. Die blomme en blare maak 'n wonderlike potpourri wanneer jy dit uitdroog. Prop sakkies vol en hang in jou hangkas.

Maar het jy geweet Afrikanertjies is ook eetbaar? Die blomblare is heerlik in 'n kasserol, brode en omelette en is baie kleurvol en smaakvol in rys en sop. Die blomblare gee ook wonderlike kleur aan slaaie.




Afrikanertjies hou van baie water en son maar sal nie kwaad raak as jy so bietjie van hulle vergeet nie. Hierdie geharde plantjies sal jou nog steeds beloon met hul skoonheid. 'n Ekstra bonus is dat jy nooit weer sonder kleur in jou tuin sal wees nie. Die saadjies wat aan die einde van herfs afval op die grond, beloon jou met pragtige kleur in lente. Jy kan ook al die saadknoppies afpluk en in 'n bottel hou om weer te saai net waar jy dit wil hê in die lente.








.

Vrydag 30 Januarie 2015

Medisyne uit jou tuin - Aloe ferox


Aloe ferox, die Kaapse aalwyn, is ‘n inheemse plant van Suider Afrika. Dit word in die Suid Kaap, Oos Kaap en suidelike gedeelstes van KwaZulu/Natal, Vrystaat en Lesotho aangetref.

Die blaar van die Aloe ferox plant bevat twee verskillende sappe, nl. geel bitter sap en wit aalwynjel. Albei die sappe is heilsaam vir die liggaam en word uitwendig sowel as inwendig gebruik. Die bitter sap is direk onder die groen skil geleë en is in werklikheid nog deel van die skil. Wanneer ‘n blaar van die plant afgesny word vloei hierdie geel bitter sap spontaan uit die blaar uit.  Wanneer die bitter sap gekonsentreer word, word bitter kristalle of bitter poeier gevorm. Die binneste vlesige deel van die blaar is jellierig en bestaan uit ‘n wit slymerige sap wat aalwynjel genoem word. Aalwynjel is nie bitter nie.

In Suid Afrika blom die aalwyne in die winter. 'n Interessante feit is dat hul geneties ingestel is om in die Noordelike Halfrond gedurende hulle somer blom, wat dan natuurlik winter is hier in Suid Afrika.


Talle mense gebruik aalwyn vir spysverterings klagtes soos bv. sooibrand, spastiese dikderm, koliek, maagsere, hardlywigheid ens., blaasontsteking, chroniese moegheidsindroom, diabetes, geelsig, hoë bloeddruk, hoofpyn, kanker, lewerontsteking, oor-, neus-, en keelontstekings, lusteloosheid, mondsere, onreëlmatige menstruasie, ontsteking van die prostaat, psoriase, slaaploosheid, tandvleisontsteking, vaginale ontsteking, depressie, asma, brongitis, emfiseem, sonbrand, hooikoors, aknee, hepatitis, sinusitis, krampe in bene, swaminfeksies soos bv. atleetvoet, onderaktiewe skildklier, artritis, rekmerke, dermatitis, hitte uitslag, brandboudjies, absesse, insekbyte, aambeie, skaafplekke, gordelroos, lewervlekke, skilfers, haarverlies, waterpokkies, littekens, vratjies, verstuitings en verrekkings, cholesterol en nog vele meer.



Aloe ferox is nie toksies of gewoonte vormend nie.

Geen nadelige newe-effekte is bekend nie. Uitsonderlike gevalle van allergie kom wel voor.
Aloe ferox jel is VEILIG vir swanger vroue, sogende moeders, babas (wat al vrugtesap drink) en persone met ingewandsirritasies.



Aalwyne word in die veld geoes. Daar in die veld word ‘n gat in die grond gemaak. Hierdie gat word met ‘n plastiek vel uitgevoer. Vier tot agt onderste blare van ‘n volwasse plant word naby die stam afgesny. Twee tot driehonderd blare word in ‘n sirkel om die gat opgestapel. Die afgesnyde kante van die blare word binnewaarts gerig sodat die geel bitter sap wat uit die blare vloei, in die gat opgevang word. Na ‘n paar uur word verskeie sulke opgaargate se inhoud versamel. Om bitter kristalle te verkry, word die bitter sap in ‘n metaal drom gegiet. Die drom word oor ‘n oop vuur verhit. Die sap word voortdurend geroer terwyl dit verhit word, totdat die volume daarvan as gevolg van verdamping gehalveer het. Die warm sap word dan in ‘n tinblik oorgegiet waar dit tot ‘n soliede kristal stol waar dit afkoel. Hierdie soliede harde blok kan dan in kleiner kristalle van die verskeie groottes gebreek en gesplinter word. Die bitter sap kan ook gedroog word om ‘n geel fyn bitter poeier te verkry.
(Inligting vanaf 'Aloe ferox Africa'



Aalwyne het groot, dik, blare wat wissel in kleur van grys tot heldergroen. Die blare het 'n wasagtige tekstuur en is goed aangepas vir die dorre klimaat waarin aalwyne aangetref word. Die klein, buisagtige blomme van die aalwyn is geel, oranje of rooi en groei in groepe.

Die aalwyn of alwee (Aloe) is 'n eensaadlobbige vetplant en die saad word maklik deur voëls en die wind versprei. Ek het 'n hele paar wat sommer vanself langs een van die paadjies in my tuin opgekom het.







Hierdie aalwyn vertoon ook mooi as 'n aksentplant in die somer.

.