Sondag 06 Januarie 2019

Swart Suikerbekkie (Chalcomitra amethystina)

Al ooit gesien hoe ’n glinsterende suikerbekkie ’n dowwe winterveld kan laat sprankel? As alles stof-bruin en vaal is, skitter suikerbekkies in ’n kaleidoskopiese vertoning in die son. En dit alles te dankie aan Vuurpyle (Red Hot Poker - Kniphofia) in jou tuin. Wanneer jy Vuurpyle plant, verseker jy pragtige kleur in jou tuin en kos vir die voëltjies gedurende daai tyd van die jaar wanneer hulle dit die nodigste het, winter.



Suikerbekkies is nou wel klein, maar hulle is sekerlik van die kleurvolste voëltjies in ons tuine. Baie algemeen in my tuin, is die Swart Suikerbekkie (voorheen bekend as Black Sunbird en nou Amethyst Sunbird). Sy naam sê hoe hy op ‘n afstand lyk – oënskynlik pikswart. As die son op ‘n helder dag reg val – en beter nog, as jy van naby of deur ‘n verkyker na hom kyk - sal jy egter sien dat daar die mooiste kleure op die mannetjie se kroon en onder sy keel “weggesteek” is. Die vere op sy kroon is ‘n helder glansgroen en hy het ‘n pragtige glanspers keel.


My Swart Suikerbekkies is verskriklik skaam en versigtig -- ek het nog nooit die perfekte foto van hulle gekry nie. En die mannetjie is meer ontwykend as die vroutjie -- sy vlieg nie so gou weg soos hy nie.

Die wyfie is vaal-grys met spikkels en 'n swart keel. Onvolwassenes lyk soos die wyfie.

Plant struike wat blomme met nektar het as jy suikerbekkies na jou tuin wil lok. Jy sal veral gereelde besoekers kry as jy plante het wat gedurende die winter blom (bv. wilde dagga; aalwyn; kanferfoelie, vuurpyle). En dan weet ons almal dat suikerbekkies lief is vir nektar, maar moenie verbaas wees as jy, teen die verwagting in, een sien wat ‘n vlieënde insek uit die lug vang en vreet nie. Hulle is selfs lief vir spinnekop se kind en sal hom uit sy web haal en vreet. Hul roep is 'n mengsel van 'tsjiek'-note in vlug; dit gee 'n 'tit tit tit'-alarmroep en sing 'n vinnige, tjirpende lied.


::

Donderdag 03 Januarie 2019

Ek en die Mynahs

Elke tuin het dierelewe wat daar ingetrek het, dit hulle tuiste gemaak het en daar leef nes jy in jou huis. Hulle bou hul nessies, tooi dit tot dit net reg is en maak kort-kort huis skoon nes ons. 'n Tuin sonder diertjies, insekte en voëls is soos 'n huis sonder mense. En nes elke huishouding, is daar daagliks drama toneeltjies wat afspeel in jou tuin en as jy mooi kyk, sal jy gou sien dis soos 'n TV sepie wat elke dag vervolg.

Die jongste Mynah-baba (van die Starling-familie - Sturnidae) van drie wat hierdie week in my tuin uitgebroei het.

Ek het hierdie haat/liefde-verhouding met die Mynahs in my tuin. Hulle is groot moeilikheid makers in dié sin dat hulle ander voëls in die tuin se eiers eet en babatjies doodmaak. Ek het ook al hulpeloos gestaan en kyk hoe hulle 'n Rooiborsduifie karnuffel en probeer doodmaak. En in hul pogings van nes maak, verwoes hulle alles wat hulle teëkom. Soos die grasdakkie by ons ingang hek. Ons het nou al 4 maal die dakkie laat regmaak en hierdie jaar, weer dieselfde storie - al die gras uit gepluk om nes te maak onder die nok van die dakkie.



Ook bekend as die Indiese Spreeu (Acridotheres tristis). Die eerste Indiese spreeus in Suid-Afrika dateer terug na 1902 toe voëls uit aanhouding ontsnap het. In die komende jare is meer en meer voëls vrygelaat om te help met die bestryding van insekte, onder andere sprinkane en kewers. Verskeie voëls het verder ook uit aanhouding ontsnap in die noord ooste van die land. Die bevolking en verspreiding van die voëls het teen ‘n geweldige spoed toegeneem en voëls is al so ver as die Wes-Kaap waargeneem. Daar is ook bewyse dat Mynahs 330km en meer kan aflê binne ‘n jaar. Hierdie “trek” eienskap van die Mynah (ook bekend as die Indiese spreeu) het veroorsaak dat dit teen 1987 reeds feitlik die hele Noordelike en Noord-Oos Suid-Afrika en selfs die Suid-weste van Botswana beset het, en die bevolking is steeds besig om eksponensieël te vermeerder en vinnig  te versprei. Die Indiese spreeu is inheems aan Suidelike en suidoos Asië, maar kom deesdae regoor die wêreld voor en is in verskeie lande reeds as pes verklaar.


Mai in my Studio

Maar ek ken ook die ander kant van hierdie intelligente voëltjies. (Het jy geweet dat hulle ook kan praat?) 'n Paar jaar gelede het ek 'n klein babatjie in die straat opgetel en huistoe gevat en dit was die begin van 'n groot liefdes-verhouding tussen ons twee. Ek het haar eers in my baadjie se sak rond gedra, toe in 'n mandjie en later, toe sy bietjie groter was, het sy haar eie hokkie in my studio gehad. Maar die hek was permanent oop en sy het gekom en gegaan soos sy wou.



Eers het sy die hele wêreld plat geloop (Mynahs is verskriklik nuuskierig en niks nuuts in die omgewing ontsnap hulle aandag nie) en toe sy begin vlieg het, het sy my buitentoe na die tuin gevolg, maar altyd vinnig na my skouer terug gekeer as iets in die tuin haar nie aangestaan het nie.

Mai in my studio terwyl sy dophou waarheen ek die 'gemclips' skuif wat sy so graag uit die houertjie uit trek!

Baie nuuskierig wil Mai weet wat onder hierdie plantjie is!



Wanneer ek koffie gedrink het of iets geëet het, het Mai altyd nader gekom vir haar stukkie (hier sit sy op my knie) - hulle dieet is baie divers, enige iets van vleis na vrugte, brood, gekookte groente, eiers (rou of gekook) en gemors-kos soos Simba tjips was een van haar gunstelinge! Die selfoon wat daar so gevaarlik naby lê, moes ek al menigmaal red of sy het al wat 'n knoppie is verwyder. Sy het selfs haar eie speelgoed gehad - 'soft toys', ou selfone, gemclips en 'n speelding met 'n klokkie binne, wat nie lank gehou het nie, die klokkie MOES net verwyder word!



Mynahs is baie skoon voëls. Mai kon vir ure sit en haar vere skoonmaak en regpak. Een van haar daaglikse roetines was haar oggend bad. Hier bo bekyk sy een van die voëlbaddens in die tuin om te sien of die water skoon genoeg is.


En dan inspring!


Bene in die lug!


Goed afskud om droog te word!


... en dan 'n rukkie in die warm sonnetjie



Sodra sy klaar was, is ons terug studio toe, waar sy dan 'n dutjie gevang het op my rekenaar se luidspreker



Maar sy het ook daarvan gehou om saam met my te bad. Dan het sy op my knie gesit, wat net onder die water was, en te heerlik gespartel in die warm water. Wanneer sy genoeg gehad het, het sy opgevlieg na die muurtjie agter die bad om af te droog.



Mai was vreeslik lief vir mense en het op enigeen wat die studio binne gekom het, se skouer gaan sit. Een dag het ek 'n motorkar by die hek gehoor (Mai was buite in die tuin), maar toe ek gaan kyk om te sien wie dit was, was hulle klaar weg. En Mai was ook weg. My hart was gebreek. Al wat ek kan dink is dat sy na hulle toe gegaan het en dat hulle haar gevat het en weg gery het. Eers wou ek hulle vloek en laat toor, maar al wat ek kan hoop is dat hulle haar 'n goeie huis en baie liefde aangebied het en nie in 'n hok aangehou het nie.

Dinsdag 01 Januarie 2019

’n Vreugdevolle 2019


Wanneer ons alleen droom is dit alleenlik ’n droom. 
Wanneer ons saam met ander droom, is dit die begin van ’n nuwe realiteit.

'n Mens kan nie glo hoe vinnig die jaar verbygesnel het nie! Die gevaar bestaan egter dat ’n mens die nuwe jaar instorm en bly voortjaag. Daarom is dit noodsaaklik dat ’n mens stil word om na te dink oor hoe om die nuwe jaar meer verrykend te maak. En die beste plek om stilte en vrede te vind, is in die tuin. 
Hiermee wens ek almal ’n vreugdevolle 2019 toe, gevul met LIEFDE en INSPIRASIE.

Saterdag 29 Desember 2018

Wouter en Antionette se Kwikstertjie - 'n mooi verhaal

Die jaar staan einde se kant toe en ek het gedink dis van pas om die jaar af te sluit met 'n pragtige verhaal oor Wouter en Antionette se Kwikstertjie. Geniet!

Kyk net die oulike dingetjie!

In Februarie 2017 het ek 'n ePos van "Wouter" gekry, waarin hy vertel van 'n Kwikstertjie (Motacilla capensis) wat hy en sy vrou Antionette, groot gemaak het en hul worsteling oor wat om met die pragtige dingetjie te doen. Dis 'n storie wat ek al te goed ken - dis hartverskeurend om 'n wilde voëltjie in 'n hok te sien hunker na vryheid, maar die gedagte van om hom te laat gaan, is net so 'n hartseer gedagte. Hier is Wouter se storie :

"Goeiemôre Maree

Ek het so 2 maande gelede ‘n babatjie kwikkie gevang wat tussen ons voordeur en veiligheidsdeur kom skuil het. Dit was laat die aand na ‘n erge storm en hy (sy?) moes uit die nes geval het. Ons het hom grootgemaak en hy is te pragtig. Hy gaan elke dag saam met Antionette werk toe en hy is te dierbaar.

Ons kan hom nie vrylaat nie, want hy sal verseker nie oorleef nie. So lief as wat ons vir hom is wonder ons of hy nie beter af sal wees buite in ‘n groot hok saam met ander kwikkies nie.

Jy weet nie dalk van iemand wat kwikkies aanhou en hom sal aanneem nie? Dit gaan verskriklik moeilik wees, maar dit is dalk die regte ding om te doen.    

PS: Ons het 2 African Greys wat dink hulle is mense, die huis behoort aan hulle en ons is net daar om hulle te versorg en te bederf. Buite voer ons al die ander “aangenome” kinders – mossies, hadida’s, kwikkies, bont houtkappers, mynah’s, vinke, duiwe, tiptolle, pieke….    Ons het al getel dat daar, behalwe vir al die ander voëls, meer as 30 duiwe op ‘n slag kom eet het."



Ek het onmiddellik op die foon gespring en hom gebel (sy telefoonnommer was in die ePos) en ons het lank gesels oor ons liefde vir voëltjies en hoe hulle in ons harte inkruip. "Chippies" (ek dink dis Kwikkie se naam, want hul pappegaai kan 'n lekker happie van hom maak!) vlieg en baljaar heeldag in die geslote slaapkamer rond en spandeer net die nag in sy hokkie. Gaan ook gereeld saam met Antionette werk toe. Wat vir my heeltemal wonderlik klink. 

Kwikkies, en ander wilde voëltjies wat hans groot gemaak is, is heeltemal kapabel om na hulself om te sien indien hulle vry gelaat word, maar Wouter se bekommernis is dat Chippies mak is, nie bang vir mense is nie, en aangesien die bure so naby is (met honde en katte!), is hy bang Chippies sal in hul tuin land en opgevreet word. Wat heel waarskynlik wel sal gebeur. 

My raad aan Wouter is om Kwikkie te hou en dinge net te los soos dit is. Dis al lewe wat Kwikkie ken. Om buite in 'n hok te gaan met ander voëls is veel erger as vrylaat (en dis teen die wet om ons inheemse voëlsoorte in hokke aan te hou); dis nie 'n lewe vir 'n voëltjie nie. Binnenshuis het hy tenminste 'n bietjie vryheid en Wouter en Antionette se geselskap. 'n Ander alternatief is die dieretuin. Dalk het hulle groot voëlhokke of, as hy daar vrygelaat word, is dit 'n groter spasie waar daar tenminste nie honde of katte is nie. 

Ons is almal geneig om die 'toekoms' van 'n diertjie te wil bepaal, maar partymaal is dit goed om net te vertrou dat hul 'n gelukkige, al is dit dalk kort, vry lewe gehad het.

Sterkte met jul besluit Wouter!
 
(PS : Ek weet van iemand met 'n wildsplaas nie ver van julle nie, dis dalk ook iets om in gedagte te hou. Laat net weet, ek gee jou Louis se telefoonnommer.)



Dinsdag 25 Desember 2018

Kersfees in Afrika 2018


Kleinglansspreeu aan Tweeti die Kokketiel, "Het jy gehoor, Tweeti? Maree het vir ons presente gekoop! Maalvleis, mealworms (is dit graanwurms...?) wilde voëltjiesaad, gemengde saad, appels, piesangs en grondboontjiebotter!"

Tweeti: "Nou kom dan, laat ons begin!"

  • 'n Geseënde Kersfees en 'n wonderlike 2018 vir al my blog-vriende!