Dinsdag 19 Januarie 2016

Maak 'n Reëntuin

Wat is 'n Reëntuin?

'n Reëntuin is 'n aantreklike landskap-ontwerp wat beplant is met meerjarige inheemse plante. Dit is 'n piering-vormige holte en ontwerp om afloop stormwater te absorbeer wat nie kan insink op harde oppervlaktes soos parkeerterreine of sement paadjies nie.

Reëntuine kan klein wees, of formeel, of groot, komplekse bio-retensie tuine of enige iets tussen in.

Voordat Jy Begin ......

Kies die Regte Plek vir Jou Reëntuin
'n Reëntuin is een voorbeeld van 'bio-retensie'—'n sisteem van 'n dammetjie area, grond, plante en grondbedekking wat water sal absorbeer in plaas daarvan dat dit van die eiendom afhardloop (al gaan jou dammetjie meeste van die tyd droog wees.)

So, die basiese dinge is die 'dammetjie' of pieringvormige depressie waarheen die water sal vloei en die tipe grond wat die water sal absorbeer.

Al kom jy dit nie agter nie, jou eiendom het 'n water-aflei patroon en dis gewoonlik die maklikste om daarvan gebruik te maak. Neem notisie van waarheen die water loop en waar dit dan opdam. Wag tot dit reën of gebruik 'n tuinslang om te sien waarheen die water loop. As dit afdraend en weg is van jou huis se fondasies, is dit 'n goeie plek vir jou reëntuin.


As daar 'n gedeelte van die eiendom is waar die water opdam, bedoel dit daar is slegte of min filtrasie. Jy sal dalk dink dis nie die regte plek vir jou reëntuin nie, maar die laagste kolleksie punt is gewoonlik die beste. Indien daar 'n paar plekke is waar die water opdam, kan jy dié kies wat naaste aan die afloop pype is.

Indien die uitleg van jou tuin sulks is dat jy nie van die gekose plek hou nie, grawe dan jou eie afleivoor—enige plek waar jy die water kan kry om te vloei, óf direk óf deur pype te installeer. Indien die grond baie hard is, wil jy dalk 'n kontrakteur met masjinerie inkry om die grouwerk vir jou binne 'n paar uur te doen. Die grond wat uitgegraaf is kan gebruik word op 'n ander plek om 'n interessante landskap te skep.

'n Paar Wenke van Hoe om die Regte Plek te Kies : -
- Moenie die reëntuin te naby aan die fondasies van 'n gebou maak nie; dit kan lei tot vog probleme. Indien moontlik, moet dit tenminste 3 meter van die gebou af wees en ook heelwat laer. Moet dit ook nie naby enige septiese stelsels plaas nie, wat alreeds genoeg water het.

- Wees bewus van ondergrondse pype of kabels. Vermy areas waar daar dalk pype of kabels mag wees, jy wil nie per ongeluk jou telefoonkabels opgrou nie!


Herleiding van die reën—daar is 'n paar kreatiewe en aantreklike oplossings as die reën nie natuurlik na jou gekose plek wil vloei nie.
 
Jy kan ondergrondse pype insit of 'n voor grawe en insluit as deel van jou landskap—soos byvoorbeeld die water deur 'n drom te lei en te laat oorvloei in jou dammetjie in.

Indien jou eiendom baie skuins is, kan jy 'n plat area skep.
Jy kan 'n klein retensie-muur bou en die agterste gedeelte invul. Die water sal in die tuin insink, deur filtreer en uitsyfel deur die muur. Jy kan ook 'n holte in die kant van 'n helling grou vir die reëntuin.

Moenie 'n groot reëntuin onder groot bome maak nie.
Die bome se wortels sal uitgegrou moet word wat dalk sal veroorsaak dat hul doodgaan. Die bome kan ook geaffekteer word deur te veel water. Bome is belangrik vir ons omgewing, so beskerm hulle waar moontlik.

.

Donderdag 24 Desember 2015

’n Geseënde 2015 Kersfees aan alle tuin-liefhebbers!


‘n Bos vol genade toegedraai met Vreugde en gelint met Liefde en Vrede word jul toegewens vir hierdie feesseisoen!

Donderdag 22 Oktober 2015

Skep 'n water-vriendelike tuin


Dit is belangrik om te besef dat ‘n waterwystuin wat nou aangeplant word nie net in die afsienbare toekoms nie, maar ook oor 40 of 50 jaar voordele sal inhou wanneer water selfs nóg skaarser sal wees.

Die uitdaging vir ons almal is om water in ons tuine optimaal te benut as ‘n leefwyse. Die beste manier om dit te doen, is om die reuseverskeidenheid inheemse blomme van ons omgewing tot ons voordeel te benut

Grondwaterretensie is lewensnoodsaaklik vir 'n plant se vermoë om water te gebruik. Probeer om 'n grondbenattingsmiddel te
gebruik om die grond te help om water wat gegee word, te behou en te absorbeer.

Grondvoorbereiding
Grondbedekking en komposverryking hou die volgende voordele in:

bewaar grondvog en verminder die verdamping van water
voorkom gronderosie en water wat wegloop, en behou maksimum water
verminder onkruid en bespaar só water
absorbeer hitte en hou die grond daaronder koel
verminder temperatuurskommelinge
verbeter die grondtoestand en voedingstowwe tydens die verrotting van kompos
Strooi, bassnippers, gruis, klippies, blootgestelde aggregaat, neutdoppe en blare is ook materiaal wat as deklaag vir grond
gebruik kan word.

Gryswater of water wat in die huis weggegooi word, word dikwels gemors. Dit kan liewer in die tuin gebruik word. Baie mense het maniere uitgedink om badwater en reënwater op te vang en dit vir tuingebruik te herwin.

Minder water gaan deur verdamping verlore wanneer tuine vroegoggend natgemaak word. Sekere plante ontwikkel
swamme wanneer dit saans natgemaak word - soos skimmel op rose en jakobregoppe, en roes op grasperke.

Carex ‘Frosted Curls’ is ’n ideale grassie om te koop.  Polle raak so 40 tot 60 cm hoog.  Verkies volson of spikkelskadu en nie te veel water nie, maar moet nooit die plante laat uitdroog nie.  Hierdie grassies maak oulike water-wyse grondbedekkers wat 'n sagte golwende kontras vorm met harde tuin paadjies.  Ook ideale vuller-plante.


Saterdag 10 Oktober 2015

Kaktus- en Vetplantversorging


Al kom vetplante oorspronklik uit dorre streke en gedy oor die algemeen in arm grond, is dit nie te sê dat hulle nie water of voeding moet kry nie. Vetplante is elke tuinier se droom. Elke verskillende plant bied iets besonders: Aan die persoon wat nog moet leer om plante aan die lewe te hou, tot die huiseienaar­ wat water wil bespaar!


Hoe dikwels moet hulle water kry?
Daar is nie ’n antwoord wat in alle gevalle geld nie. Daar is ’n direkte verband tussen water, lig, temperatuur, grondtoestande en vogtigheid. Hoe sterker die lig, hoër die temperatuur en minder die vogtigheid, hoe meer dikwels is water nodig. Die meeste kaktusse en vetplante het ’n aktiewe groeiperiode vir omtrent ’n 1/3 van die jaar. Tydens dié aktiewe periode kan gereeld natgegooi word en moet misstof toegedien word. Die aktiefste tyd vir die meeste kaktusse is in die lente en vroeg-somer.
Wanneer dié periode verby gaan, moet water minder gereeld gegee word soos die winter nader kom. Hulle het baie min water in die koue maande nodig. ’n Goeie natmaak een keer per week in warm weer en een keer per maand in die rusperiode is ’n goeie wegspringplek soos u u plant se behoeftes leer ken. ’n Ander benadering is om dit deeglik nat te maak wanneer die grond heeltemal droog is. As u twyfel, moenie water gee nie.

.
Hoe dikwels moet hulle voeding kry?
Te veel misstof kan slegter wees as glad geen misstof nie. Gebruik ’n misstof wat ’n lae stikstofinhoud het teen omtrent ½ tot ¼ van die aanbevole toediening.
.

Wat is die beste grond vir kaktusse en ander vetplante?
Die meeste potplantgrondmengsels wat in die handel beskikbaar is, is te ryk aan vars organiese materie vir dié plante. Die belangrikste faktor by die kies van ’n plantmedium is dat dit voedingstowwe, water en lug na die wortels moet deurlaat en poreus genoeg is om water te laat dreineer. Baie kaktuskwekers gebruik ’n vermenging van ’n lae veenplantmengsel en puimsteen (50/50). Sand, klein klippies en vermikuliet word ook deur baie suksesvolle kwekers bygevoeg. Eksperimenteer met verskillende kombinasies om die regte kombinasie vir u toestande te verkry. ’n Bolaag van fyngemaakte graniet of fyngruis lyk goed en hou ook voordele in. Dit keer dat die bogrond vinniger as die res van die grond in die pot uitdroog, hou die basis van die plant droog en help met die egalige verspreiding van water.

.
Direkte son en lig is nie dieselfde nie!
Vetplante het lig nodig, maar hulle groei beter as hulle nie in die middagson bak nie. In die natuur sal u jong plante aantref onder ’n bos, boom of iets anders wat gefilterde lig deurlaat. As nuwe groei aan u plant bleekgroen en ekstra lank is, het dit meer lig nodig. As die kant van u plant wat na die ligbron wys, geel, bruin, rooi of ingekeep is, kry dit te veel lig.

.
Vetplante hou nie van dooie lug nie. Voorsien goeie lugsirkulasie vir u plante.


::

Woensdag 23 September 2015

Verbaas en gelukkig!


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is... Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.


Jy sou dalk lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.


Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter. 


Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...



My amper 40-jaar oue perskeboom weier om op te gee - nuwe bloeisels dui op nog baie lewe in hierdie ou dame. Verlede jaar het die regterkantste tak mee gegee onder die gewig van al haar vrugte en dit lyk of sy weer hierdie somer haar bes gaan probeer!

.