Woensdag 29 Julie 2015

Blousyselbos - Vergeet-my-nie (Plumbago)

Daar is ’n koel kalmte aan die massas floksieagtige, sagte blou blommetjies van Plumbago auriculata (blousyselbos) wat wild oor grensdrade en oor mure spoel. Kan daar ’n mooier heiningplant of meer ontspanne struik wees wat so geil blom in ’n warm somer tuin?


Een van my gunsteling plante, die Blousyselbos (Plumbago auriculata) in sy blou vorm, wat ek nie meer het nie, hierdie foto is in my vorige tuin geneem. Dis ‘n bosserige struik en blom vanaf laat-lente tot herfs en maak ’n uitstekende heiningplant. Dit groei beste in ’n sonnige tot semi-skaduposisie en is baie ’water wise’ en voëlvriendelik. Dit word ook gereeld besoek deur skoenlappers en is een van die gasteplante vir die gewone Blou Skoenlapper (Cyclyrius pirithous). Hulle sê die plant weerstaan semi-koue en is ryp-gehard, maar my ondervinding was dat die ryp dit elke jaar tot die grond afgemaai het. Gelukkig herstel dit gou en het elke jaar net groter en groter geword.

Daai stekelrige en harerige gedeeltes wat jy daar sien tussen die blomme is verskriklik taai en hemel verhoed dat jy tussen dit deurkruip (soos ek baie maal gedoen het om die ou gedeeltes uit te snoei), want jy kom daaruit met omtrent die hele bos wat aan jou vassit!

Die Blousyselbos is inheems aan Suid Afrika en kom voor in die Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal asook in Gauteng en aanliggende dele van die Vrystaat en NoordWes Provinsie. Was voorheen bekend as Plumbago Capensis.

As informele heiningplante vir groot tuine is hulle beslis ’n goeie keuse. Die struike sal sonder inmenging van ’n tuinier met groot gemak ’n volwasse hoogte van meer as 3m bereik en 3m breed word. Met minder ruimte en ’n skerp snoeiskêr kan jy die lieflike inheemse blousyselbos ook in klein tuine plant en ’n lae skerp geknipte heining kweek, ’n netjiese spesimen-struik vorm wat ’n onooglike plekkie moet afskerm, of jou selfs oorgee aan die siersnoeikuns en hulle oplei in die vorm van hoogstamboompies. Hulle is ewe mooi in potte as hulle netjies gesnoei word, gereeld met ’n vloeibare misstof bemes word en baie water kry wanneer dit warm is.

Die plant se loof is fyn en saggroen. Die blomme is poeierblou of wit en herinner aan die outydse, suikersoet en taai floksies in Ouma se somertuin waarvan ons as kinders altyd die soet nektar uitgesuig het en oorbelle gemaak het.


DIE BLOM
Ons weet almal van ’n tuin v-o-l blomme,
elkeen sy eie kleur, sy eie geur.
Nou, ons elkeen soek die perfekte blom,
maar ken jy die een,
wat saam met jou huis toe kom?
Sagkens soek,
ek moet versigtig wees ek sien jou raak,
dit moet! jy wees.
Alles wat ek in ’n blom kon kry vind ek in jou,
kom saam my! Doudruppeltjies klein,
en druppeltjies fyn op jou blare,
mooipraat, pyn.
Om jou wortels met my hande gegrawe jou losgemaak,
uit die aarde,
outhede begrawe.
In ’n pot goud jou weer geplant.
Altyd!, sal ek jou water gee vir wind en onkruid,
sal ek sê nee!
Want in ’n huis van glas is waar jy sal bly
vir ewig en altyd, ek en jy!
- Jan Allerman


.

Vrydag 17 Julie 2015

Bloedrooi die aalwyn in winter

W&N waterverf van 'n aalwyn in my tuin

Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.


En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!

Foto vanaf die internet

::

Sondag 03 Mei 2015

Om ‘n tuin te plant is om te glo daar is ‘n môre…


 …Blomme laat hul geur na op die hand wat hulle kos gee!


… en my tuin glo definitief daar is ‘n môre! Alles wat groei het nou klaar saad geskiet; die Kappertjies, albei die Wit en Swart Karee's, die Chondropetalum tectorum (large Cape Rush, een van die Restios) en selfs van die kaktusse – soos die blommetjies van die Rattail-kaktus wat naderhand kwyn en in ‘n saadjie verander en deur die wind in die tuin versprei word.

  Rattail-kaktus in volle blom

  Chondropetalum tectorum

Desember en Januarie, met hul lang sonnige dae, word beskou as midsomer. Dit is wanneer die laaste vroeg somerskleur van beddingplante, jaarplante, struike en rankplante wyk voor die geharde helderkleurige somerblomme en loofplante wat die hitte kan weerstaan en die tuin tot in die herfs kan deursien.


Daar is altyd baie tuinwerk – swaar reëns in ons somermaande kan grond wegspoel of laat vaspak so nou is die tyd om dit liggies met ‘n vurk los te maak en te bedek met ‘n los deklaag.

Die beddings is mooi reg gemaak en kompos bygevoeg 

Februarie is die tyd wanneer ek kyk of daar muskiete in die dam, tussen die Varings, ander grootblaar plante en die hoenderhok is. ‘n Paar druppeltjies paraffien of olie tussen die plante sal hulle weghou en niks aan die plante doen nie. Vir die hoenderhok spuit ek ‘n eko-vriendelike muskietdoder.


Om van muskiete in my dammetjie ontslae te raak is ‘n ander saak. Ek kan nie paraffien of diesel gebruik nie, want ek het baie insekte soos Waterskerpioene, Naaldekokers en Waterkewers wat sal omkom as ek die water op hierdie manier behandel. So al genade is om ‘n paar maal ‘n jaar die hele dam leeg te maak, te skrop en vol te maak met vars water. Alle paddas word gevang, in emmers geplaas en later weer terug gesit. Ongelukkig word baie van die Waterskerpioene en -kewers ook uitgespoel, maar vind gewoonlik hul pad weer terug water toe. Die Naaldekoker-nimf is ook darem behulpsaam om die muskietplaag onder beheer te hou.

Geniet jou herfs en winter tuin-takies, maar moenie vergeet om jou tuin te geniet nie!

.

Woensdag 29 April 2015

My eie stukkie paradys


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is...

Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.

Jy sou lag as jy dit moet sien, dis glad nie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.

Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.

Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings.

Vol lewe. Selfs in winter.

Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...


.

Saterdag 25 April 2015

Jou wintertuin


Junie is ‘n luilekker maand in die tuin. Jy kan ontspan en konsentreer om die lewegewende sonstrale toe te laat om jou winterlyf salig op te warm. Daar is minder om te doen as gewoonlik, so geniet die anderse skoonheid van hierdie koue maand. ‘n Tuin is egter ‘n lewende organisme wat steeds sekere onderhoudstake verg. Gebruik die rusfase tot jou voordeel deur juis nou geharde en semi-geharde plante te plant. Met die flouerige sonnetjie word waterverlies tot ‘n minimum beperk, asook oorplantingskok. Net so is dit nou die tyd om plante wat op die verkeerde plek geplant is, te verplant.

Dit is ook die perfekte tyd om onwettige indringerplante in jou tuin te identifiseer en uit te roei. Neem voorbeelde na jou tuinsentrum vir identifikasie en doen navraag oor moontlike inheemse plaasvervangers.

Kleur is ‘n onderwerp wat altyd hierdie tyd van die jaar na vore kom en gewoonlik in die vorm van ‘n gekerm oor die vaal, kleurlose en droewige winter. Ons almal sit en wag met reuse verwagting op die lente, want dan gaan ons beter voel. Alles wat die winter ‘n wonderlike, spesiale tyd maak word vernietig deur die onjuiste siening dat dit vaal en dood is.


Aalwyne is ongetwyfeld dié plante wat die meeste aandag in die winter trek. Hulle kan die rol vervul van statige fokusplante, potplante of kleurvolle grondbedekkers. Die verskeidenheid is groot en met hul stylvolle, argitektoniese voorkoms is daar plek in van die modernste kontemporêre ontwerpe tot inheemse natuurtuine. Aalwyne is gehard en bestand teen droogte.

 Petunias (P. × atkinsiana, ook bekend as P. hybrida)

Gesiggies - (Familie Violaceae, genus Viola)

Viooltjies (Familie Violaceae, genus Viola)
Petunias kan in massas in warm sonnige beddings geplant word. Hulle floreer in die kouer, droër maande en blom so sterk dat hul blare nie eers sigbaar is nie. Gesiggies en viooltjies is gemaak vir nou. Hulle is dankbaar, gehard en veelsydig.


Die Agapant is ongetwyfeld een van ons inheemse botaniese skatte. Dit is na alle uithoeke van die aarde uitgevoer, maar kom net in Suider-Afrika in die natuur voor, waar dit wild groei in al ons provinsies, behalwe die Noord-Kaap, sowel as in Lesotho, Swaziland en Mosambiek. Plant hulle nou en hulle sal jou die hele somer lank beloon met hul pragtige blomme.


BUDDLEJA SALVIFOLIA/SALIEHOUT/SAGEWOOD
Immergroen boom tot 8m hoog met grys blare. Trosse pers/wit blomme in die laatwinter wanneer daar niks anders is nie. Dit lok geweldig baie insekte, voëƒls en skoenlappers. Vra nie baie water nie, groei goed in son of skadu. NB: aggressiewe wortelstelsel, plant ver van geboue en plaveisels.


Plant ’n confettibos (Coleonema pulchellum)
Mei tot September is ’n ideale tyd om die confetti-bos (Coleonema pulchellum) met sy pragtige pastelblomme te plant. Die nektar lok skoenlappers, bye en ander klein insekte, wat op hul beurt dan ook allerhande pragtige voëltjies lok. Confettibosse weerstaan ligte tot matige ryp en die herfs is die beste tyd om hulle te plant. Kies 'n sonnige plek waar die grond goed dreineer.

.