Maandag 17 Junie 2019

Wag nog 'n bietjie...

Ek het nog nie 'n nuwe tuin nie... 


Dit is nou 18 maande sedert ons uit Gauteng Natal toe verhuis het waar ons tydelik by my dogter in Ballito woon (totdat ons kan besluit of ons hier wil posvat of nie) en ek het tot dusver nog nie veel met my hande in die aarde gevroetel nie, behalwe om 'n paar steggies vetplante te leen, steel en persent te kry nie. Potjies kan ek darem saam met my vat wanneer ons trek (hopelik binnekort!), aangesien ons tog besluit het om ons hier op hierdie pragtige Noordkus te vestig.

Strelitzia reginae

Strelitzia nicolai

'n ry Koorsbome met ons straat af - Fever Tree (Vachellia xanthophloea)

En alles is vreemd vir my - die voëls, die plante, die blomme en die bome-sonder-name. Tog herken ek baie bekendes wat ek al telkemale in my Gauteng-tuin probeer groei het, sonder sukses, soos die Koorsboom (Fever tree), Strelitzia nicolai en Strelitzia reginae en die Natal fig (Ficus natalensis). Van gras is daar geen sprake hier nie - die grasperke is kol-kol kalerig en glad nie weelderig soos Gauteng se kikuyu gras nie, wat hier heeltemal verbode is, want omtrent alles wat hier groei of geplant word is inheems.


Nou wat doen ek dan heeldag, hoor ek jou vra? Soggens word ek gegroet deur 'n pragtige uitsig oor die see. Na ek gebad en aangetrek het, is dit tyd vir ontbyt of middag-ete by een van die talle wonderlike restaurante hier in Ballito, 'n paar nodige inkopies by Woollies of die Spar en dan terug huis toe.



 Die koffie-winkel in ons plaaslike Spar


Op 'n hittige somers-dag (en in die winter!) is dit heerlik om in of langs die swembad te ontspan en dan bietjie later binnenshuis by die lugverfrisser met 'n spannende boek. Ek het by die biblioteek aangesluit en is vinnig besig om hulle Afrikaanse seksie heeltemal deur te lees!

Umhlali biblioteek in Salt Rock 

 
'n Gunsteling plekkie vir 'n heerlike ete en iets koels om te drink is die Salt Rock Hotel met sy pragtige tuine en uitsig oor die see. Hier kan ek vir ure rondstap en na al die verskillende soorte plante kyk en navraag doen by die tuinier wat altyd daar êrens rond besig is.


En alhoewel die Bougainvilleas nie inheems aan ons land is nie, groei hierdie subtropiese plant hier by die kus in kleure van diep pers deur rooi deur oranje en salm pienk dat die stof so staan!



En so twee of drie maal 'n week stap ek en my man op die strand of die promenade saam met ons hondjie Jacko


en ek kan vir ure op die rotse sit en kyk na die golwe en dolfyne wat verby baljaar. In November is dit ook Walvis-tyd dan is almal op die uitkyk vir hierdie wonderlike besoekers aan ons strande.


Rolbal by Umhlali Country Club is volgende op die spyskaart net sodra ons in ons nuwe plekkie ingetrek het. Ek weet eintlik nie hoekom ek wag nie, want noudat dit winter is, en heelwat koeler is, is dit die perfekte tyd om daarmee te begin. Ek moet bieg dat somer hier op die Noordkus vir my gans te warm is en ek bring dan baie tyd binne by die lugverfrisser deur!



Vrydag 31 Mei 2019

'n Vroeë wintersoggend in die tuin


Vroeg-oggend en al die voëltjies wag geduldig vir die eerste strale van die son, asook vir die kostafels om vol gemaak te word, 'n daaglikse wintersoggend gebeurtenis. Gister was daar nie soveel van hulle nie, party oggende het ek tot 50 getel voordat ek telling verloor het. Hulle is meesal Vinke, Rooiborsduifies, Mossies en Rooivinke met een of twee Bottergatjies.

Woensdag 06 Februarie 2019

Tuinmaak is terapie


Tuinmaak is my soort terapie. Vir my is die tuin 'n liefdeslied en ek glo, as jy altyd leeftyd gelukkig wil wees, moet jy `n tuinier wees. Dis waar lewe begin, dis waar niemand jou kritiseer as jy 'n fout maak nie. Kappertjies sal nie kla as jy hulle langs Krismisrose plant nie en die insekte sal hul dank bewys deur gereeld jou blomme te besoek en te bestuif, verniet, sonder dat hulle enige beloning verwag. En 'n ekstra beloning is vuil hande, hande vol grond en modder, want die lewe is te kort om skoon vingernaels te hê!

Vrydag 01 Februarie 2019

Daar is nuwe lewe in die tuin!


Dis vroeg-somer en al wat 'n hoender en 'n voël is, is broeis! Kiep sit al vir twee weke op 'n kamma-eier (ek verwyder al die eiers aangesien ek nie nog hoenders wil hê nie en gee vir hulle 'n golfbal wanneer broeisgeit hulle tref!)


'n Paar weke terug het ek opgelet dat die Fiskaallaksman op haar nes sit en hierdie keer het ek die nes  fyn dop gehou om te sien wanneer die die kleintjies uitkom. 'n Week of so terug het ek uiteindelik die kleintjies gesien. Eintlik meer gehoor as gesien, die geraas wat hulle maak om gevoer te word is oordowend! En Mama Fiskaal het haar hande vol hierdie seisoen, sy het sommer drie!

Lekker rustig na 'n vet sprinkaan, gee hierdie enetjie glad nie om dat ek so naby is nie!

Magie vol, ogies toe!


My Janfrederik (Cape Robin-chat - (Cossypha caffra) het laat-September 2 eiers gelê en vanoggend was ek vreeslik opgewonde toe ek sien sy dra maalvleis wat ek op die voertafel sit aan na die nes. Terwyl sy weg was, het ek gou nader gesluip en 'n paar foto's geneem en daasy! twee van die pragtigste, kleinste Janfrederikkies!


Nou's dit net 'n geval van hoop die Fiskaallaksman sien nie die kleintjies nie, maar gelukkig voorsien ek genoeg kos vir haar en haar kleintjies and hopelik het sy nie nodig om in enige neste te gaan rondkrap nie!


Die Lyster (Karoo Thrush) is ook besig om grasse op te dra na die takke in die Wit Karee en die Mynahs sit ook op eiers binne in die nok van die grasdakkie bo-oor my hek - 'n doring in my vlees, want hulle verwyder al die gras, maak gate oral en bowendien rand hulle al wat 'n klein voëltjie is in die tuin aan. Volgende op my lys is om die grasdakkie te laat regmaak en toe te span met ogiesdraad, hopelik sal hulle trek en 'n nuwe tuiste vind!



My twee Bosduiwe (Speckled pigeon - Columba guinea of African rock pigeon) het alreeds laat-winter twee kleintjies gehad en hulle is nog steeds hier rond saam met die ouers maar sal binnekort vertrek en hul eie area gaan uitsoek. Meer as een paartjie in 'n tuin is moeilikheid soek - hulle is uiters morsige voëls, soos alle duiwe, en dis 'n daaglikse taak om die stoep skoon te maak. Maar ek voel vreeslik geseënd dat ek twee het wat my tuin (eintlik my dak!) gekies het en hier bly.
 

Maandag 28 Januarie 2019

Janfiskaal (Lanius collaris)

W&N waterverf in my Natuurjoernaal – Janfiskaal in my tuin (Tarlton, Gauteng, Suid Afrika)

Janfiskaal, Laksman of Karnalliebyter – al drie name verwys na een en dieselfde swart en wit voëltjie, wat ondanks sy kleinte ’n grootte aanneem wat buite verhouding met die werklikheid is!

Baie mense hou glad nie van hierdie voëltjie in hul tuine nie. Dit is wel so dat janfiskaal af en toe ander kleiner voëlspesies, soos lemoenduifies en mossies, jaag en vang. Die prooi word blitsig van agter af ingevlieg en agter die kop doodgebyt.

Maar janfiskaal vang nie sommer elke dag vir homself ’n voël nie. Dit is eintlik net wanneer daar rasend-honger kleintjies in die nes is dat dit gebeur. En wie kan ’n dier of voël veroordeel wat goed vir sy kleintjies sorg? Ek self was baie kwaad vir my Laksmannetjie nadat sy my Janfrederik se kleintjies uit die nes gesteel het, maar met vier kleintjies wat sy so groot gesukkel het om gevoer te kry, het ek eintlik heeltemal verstaan en het haar baie gehelp deur stukkies maalvleis vir haar op die voertafels te sit. Die hele kroos het naderhand geweet dat, as ek verskyn, gaan hulle gevoer word!

Donderdag 24 Januarie 2019

'n Bottergat in my Moeraseik


’n Bottergat (Blackeyed Bulbul - Pycnonotus barbatus) in my Moeraseik (Quercus palustris) – hierdie oulike tuinvoëls word gevind vanaf Arabië tot in die Kaap, Suid Afrika, en hulle is deel van my tuin soos my plante self – sonder hulle gereelde geselsery sal dit maar stil wees hier rond. Hulle is ook een van die heel eerstes wat my vroeg-oggend uit die bed jaag en aankondig dat ’n nuwe dag begin het.


En die dag as 'n klomp van hulle almal skree en kwetter kan jy verseker weet daar is iets in die tuin wat nie hulle goedkeuring wegdra nie, soos dalk 'n slang. Menigmaal is ek gewaarsku dat daar 'n Rinkhals is of sommer net Mollie, 'n Molslang wat gereeld my tuin besoek. Hulle het ook nie veel van my skilpad, Torti, gehou nie en het gereeld op 'n tak bokant haar plaas geneem en hulle onvergenoegdheid uitgespreek deur heen en weer te spring, van tak tot tak, om almal te laat weet alles is nie wel nie. Hulle hou ook niks van die Mynah's nie, en sal almal ook waarsku dat hierdie kwaadwillige kerjakkers ook nou in die tuin is.

'n Nuuskierige Bottergat wat my dophou om te sien wat ek op die voertafels sit.

Die paartjie in my tuin het al 'n paar seisoene kleintjies in my tuin groot gemaak en die jonges bly langer by die ouers as bv. Jan Fiskaal se kinders, so soms is daar sommer 6 of 10 Bottergatjies in my tuin, almal besig om te bad of te raas of om die voertafels te besoek.
 

Sondag 20 Januarie 2019

Hoe wonderlik!


om ...

vanoggend by die venster uit te kyk.
die duifies te hoor koer.
buite te loop en die son op my gesig te voel.
iemand 'n lief-drukkie te gee.
te glimlag vir 'n vreemdeling.
iets gaafs en onverwags te doen.
te luister.
diep asem te haal.
geduldig te wees.
in die donker te sit en die Kersboom te geniet.
geskenke toe te draai met liefde in plaas van ongeduld.
te gee.
meer te gee.

Nie geskenke nie, liefde.
 

Woensdag 16 Januarie 2019

Ontmoet my girltjies


Hierdie is Micky, een van my vier vryloop henne, wat bedoel hulle is nie in 'n hok toegesluit nie, maar spandeer heeldag buite in my tuin, besig om te doen wat hoenders doen - die sonskyn te geniet, sandbaddens te neem (en my tuin te verniel totdat dit lyk of Chrissie met die tuinvurk alles omgedolwe het!), sprinkane te jaag, saam geharkte blare weer deurmekaar te krap, nuwe saailinge op te eet of sommer net in die koelte onder die plante te rus op 'n snikhete dag. Eintlik weet ek nie hoe op aarde ek nog 'n tuin het nie - ses hoenders (dis nou saam met Peeps en Mr. Brown, die twee hane) is nie ideaal as jou mikpunt 'n pragtige en ordelike tuin is nie!

Mr. Brown, wat ek uit die asblik gered het. Jy kan meer daaromtrent hier lees.

Peeps - Sy ma het hom op 'n week oud verlaat, net so gelos om terug te gaan na haar haan. Vir drie dae het ek na sy hartverskeurende geroep geluister totdat ek dit nie meer kon vat nie en hom binne gebring het. Peeps het saam met Snoodles, ook uit die asblik gered, in my ateljee groot geword.

Peeps, hier al drie weke oud, in my ateljee

As mens eers hoenders in jou lewe gehad het, kyk jy anders na hierdie geveerde vriende van ons. Sedert ek my girltjies so diep leer ken het, kan ek glad nie meer hoendervleis eet nie. Elkeen het 'n persoonlikheid van sy eie en hul intelligensie is verstommend. Kom wanneer 'n mens roep, verlaat die kamer (hulle kom almal gereeld die huis in!) wanneer jy met jou vinger buitentoe wys en spring op jou skoot as jy dit aandui. Hulle lief om geliefkoos te word en die heerlikste gevoel is wanneer 'n sagte hoender haar kop in jou nek indruk.


Kiep, hier bo, het ook van kleins af in my ateljee groot geword. Op my skoot gesit wanneer ek blog of skilder, in my lessenaar laai geslaap en my ateljee heeltemal haar tuiste gemaak. Toe sy so ses weke oud was, het sy by die ander hoenders in die tuin aangesluit en toe dit tyd was vir haar eerste eier toe sy so 19 weke oud was, het sy my ateljee gekies om 'n nes te maak en daarna elke dag ingekom om ontbyt af te lewer! Dit was omtrent 'n storie om haar te leer dat die nesbokse in die hok perfek is, maar sy het dit gou gesnap. Nie dat dit haar stop om kort-kort nou nog, op die ouderdom van 5 jaar, in my ateljee in te stap nie en 'n plek te soek om 'n eier te lê nie!

Snoodles, my "chick met attitude", wat ook een van die asblik babies was - haar het ek uit die eier gehaal en dit was liefde met die eerste oogopslag toe haar ogies myne vir die eerste maal ontmoet het. Sy en Peeps het saam in my ateljee groot geword en hulle is nou sielemaats.


Hettie is wild! Heeltemal wild! Lank, lank terug toe sy nog jonk was, is sy gejaag om gevang te word (het jy al ooit probeer om 'n hoender te vang wat nie gevang wil word nie?) en sy het dit nog nooit vergeet nie. Dis nog 'n ding, hul geheue is soos dié van 'n olifant. Doen iets aan 'n hoender en hul vergeet dit nooit nie. Eendag het sy vir my so 'n bietjie siek gelyk, maar ek moes wag tot dit donker was en almal op hulle stokke was voordat ek haar kon vang om bietjie medisyne te gee. Sy het ook 'n skerp oog vir gevaar en is altyd eerste om al die ander te waarsku oor enige waarneembare gevaar, miskien 'n kraai in die tuin of 'n valk hoog bo die bome.

Totdat jy 'n hoender lief gehad het, is deel van jou siel nog dood.
 

Vrydag 11 Januarie 2019

Ietsie vir Vrydag


Dae lank dreig dit nou al om te reën,
wolke hang swaar en somber aan die hemelruim,
daar is ‘n gevoel van beklemming en verwagting.

Teen aand skemer duik en swenk die swaeltjies
deur die grys lug
en blom die poulelies wit
as ‘n belofte dat dit gaan reën.

As die donder rammel in die verte
en ons ‘n lug vertoning aanskou,
is dit asof dit ‘n agtergrond is
vir die konsert van die Jan Frederik
waar hy op die tuinmuur dans
en met sy lyfie wikkel en bewe
as die eerste groot druppels plonsend val.
 

Sondag 06 Januarie 2019

Swart Suikerbekkie (Chalcomitra amethystina)

Al ooit gesien hoe ’n glinsterende suikerbekkie ’n dowwe winterveld kan laat sprankel? As alles stof-bruin en vaal is, skitter suikerbekkies in ’n kaleidoskopiese vertoning in die son. En dit alles te dankie aan Vuurpyle (Red Hot Poker - Kniphofia) in jou tuin. Wanneer jy Vuurpyle plant, verseker jy pragtige kleur in jou tuin en kos vir die voëltjies gedurende daai tyd van die jaar wanneer hulle dit die nodigste het, winter.



Suikerbekkies is nou wel klein, maar hulle is sekerlik van die kleurvolste voëltjies in ons tuine. Baie algemeen in my tuin, is die Swart Suikerbekkie (voorheen bekend as Black Sunbird en nou Amethyst Sunbird). Sy naam sê hoe hy op ‘n afstand lyk – oënskynlik pikswart. As die son op ‘n helder dag reg val – en beter nog, as jy van naby of deur ‘n verkyker na hom kyk - sal jy egter sien dat daar die mooiste kleure op die mannetjie se kroon en onder sy keel “weggesteek” is. Die vere op sy kroon is ‘n helder glansgroen en hy het ‘n pragtige glanspers keel.


My Swart Suikerbekkies is verskriklik skaam en versigtig -- ek het nog nooit die perfekte foto van hulle gekry nie. En die mannetjie is meer ontwykend as die vroutjie -- sy vlieg nie so gou weg soos hy nie.

Die wyfie is vaal-grys met spikkels en 'n swart keel. Onvolwassenes lyk soos die wyfie.

Plant struike wat blomme met nektar het as jy suikerbekkies na jou tuin wil lok. Jy sal veral gereelde besoekers kry as jy plante het wat gedurende die winter blom (bv. wilde dagga; aalwyn; kanferfoelie, vuurpyle). En dan weet ons almal dat suikerbekkies lief is vir nektar, maar moenie verbaas wees as jy, teen die verwagting in, een sien wat ‘n vlieënde insek uit die lug vang en vreet nie. Hulle is selfs lief vir spinnekop se kind en sal hom uit sy web haal en vreet. Hul roep is 'n mengsel van 'tsjiek'-note in vlug; dit gee 'n 'tit tit tit'-alarmroep en sing 'n vinnige, tjirpende lied.


::

Donderdag 03 Januarie 2019

Ek en die Mynahs

Elke tuin het dierelewe wat daar ingetrek het, dit hulle tuiste gemaak het en daar leef nes jy in jou huis. Hulle bou hul nessies, tooi dit tot dit net reg is en maak kort-kort huis skoon nes ons. 'n Tuin sonder diertjies, insekte en voëls is soos 'n huis sonder mense. En nes elke huishouding, is daar daagliks drama toneeltjies wat afspeel in jou tuin en as jy mooi kyk, sal jy gou sien dis soos 'n TV sepie wat elke dag vervolg.

Die jongste Mynah-baba (van die Starling-familie - Sturnidae) van drie wat hierdie week in my tuin uitgebroei het.

Ek het hierdie haat/liefde-verhouding met die Mynahs in my tuin. Hulle is groot moeilikheid makers in dié sin dat hulle ander voëls in die tuin se eiers eet en babatjies doodmaak. Ek het ook al hulpeloos gestaan en kyk hoe hulle 'n Rooiborsduifie karnuffel en probeer doodmaak. En in hul pogings van nes maak, verwoes hulle alles wat hulle teëkom. Soos die grasdakkie by ons ingang hek. Ons het nou al 4 maal die dakkie laat regmaak en hierdie jaar, weer dieselfde storie - al die gras uit gepluk om nes te maak onder die nok van die dakkie.



Ook bekend as die Indiese Spreeu (Acridotheres tristis). Die eerste Indiese spreeus in Suid-Afrika dateer terug na 1902 toe voëls uit aanhouding ontsnap het. In die komende jare is meer en meer voëls vrygelaat om te help met die bestryding van insekte, onder andere sprinkane en kewers. Verskeie voëls het verder ook uit aanhouding ontsnap in die noord ooste van die land. Die bevolking en verspreiding van die voëls het teen ‘n geweldige spoed toegeneem en voëls is al so ver as die Wes-Kaap waargeneem. Daar is ook bewyse dat Mynahs 330km en meer kan aflê binne ‘n jaar. Hierdie “trek” eienskap van die Mynah (ook bekend as die Indiese spreeu) het veroorsaak dat dit teen 1987 reeds feitlik die hele Noordelike en Noord-Oos Suid-Afrika en selfs die Suid-weste van Botswana beset het, en die bevolking is steeds besig om eksponensieël te vermeerder en vinnig  te versprei. Die Indiese spreeu is inheems aan Suidelike en suidoos Asië, maar kom deesdae regoor die wêreld voor en is in verskeie lande reeds as pes verklaar.


Mai in my Studio

Maar ek ken ook die ander kant van hierdie intelligente voëltjies. (Het jy geweet dat hulle ook kan praat?) 'n Paar jaar gelede het ek 'n klein babatjie in die straat opgetel en huistoe gevat en dit was die begin van 'n groot liefdes-verhouding tussen ons twee. Ek het haar eers in my baadjie se sak rond gedra, toe in 'n mandjie en later, toe sy bietjie groter was, het sy haar eie hokkie in my studio gehad. Maar die hek was permanent oop en sy het gekom en gegaan soos sy wou.



Eers het sy die hele wêreld plat geloop (Mynahs is verskriklik nuuskierig en niks nuuts in die omgewing ontsnap hulle aandag nie) en toe sy begin vlieg het, het sy my buitentoe na die tuin gevolg, maar altyd vinnig na my skouer terug gekeer as iets in die tuin haar nie aangestaan het nie.

Mai in my studio terwyl sy dophou waarheen ek die 'gemclips' skuif wat sy so graag uit die houertjie uit trek!

Baie nuuskierig wil Mai weet wat onder hierdie plantjie is!



Wanneer ek koffie gedrink het of iets geëet het, het Mai altyd nader gekom vir haar stukkie (hier sit sy op my knie) - hulle dieet is baie divers, enige iets van vleis na vrugte, brood, gekookte groente, eiers (rou of gekook) en gemors-kos soos Simba tjips was een van haar gunstelinge! Die selfoon wat daar so gevaarlik naby lê, moes ek al menigmaal red of sy het al wat 'n knoppie is verwyder. Sy het selfs haar eie speelgoed gehad - 'soft toys', ou selfone, gemclips en 'n speelding met 'n klokkie binne, wat nie lank gehou het nie, die klokkie MOES net verwyder word!



Mynahs is baie skoon voëls. Mai kon vir ure sit en haar vere skoonmaak en regpak. Een van haar daaglikse roetines was haar oggend bad. Hier bo bekyk sy een van die voëlbaddens in die tuin om te sien of die water skoon genoeg is.


En dan inspring!


Bene in die lug!


Goed afskud om droog te word!


... en dan 'n rukkie in die warm sonnetjie



Sodra sy klaar was, is ons terug studio toe, waar sy dan 'n dutjie gevang het op my rekenaar se luidspreker



Maar sy het ook daarvan gehou om saam met my te bad. Dan het sy op my knie gesit, wat net onder die water was, en te heerlik gespartel in die warm water. Wanneer sy genoeg gehad het, het sy opgevlieg na die muurtjie agter die bad om af te droog.



Mai was vreeslik lief vir mense en het op enigeen wat die studio binne gekom het, se skouer gaan sit. Een dag het ek 'n motorkar by die hek gehoor (Mai was buite in die tuin), maar toe ek gaan kyk om te sien wie dit was, was hulle klaar weg. En Mai was ook weg. My hart was gebreek. Al wat ek kan dink is dat sy na hulle toe gegaan het en dat hulle haar gevat het en weg gery het. Eers wou ek hulle vloek en laat toor, maar al wat ek kan hoop is dat hulle haar 'n goeie huis en baie liefde aangebied het en nie in 'n hok aangehou het nie.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...