Wys tans plasings met die etiket hoenders. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket hoenders. Wys alle plasings

Woensdag 16 Januarie 2019

Ontmoet my girltjies


Hierdie is Micky, een van my vier vryloop henne, wat bedoel hulle is nie in 'n hok toegesluit nie, maar spandeer heeldag buite in my tuin, besig om te doen wat hoenders doen - die sonskyn te geniet, sandbaddens te neem (en my tuin te verniel totdat dit lyk of Chrissie met die tuinvurk alles omgedolwe het!), sprinkane te jaag, saam geharkte blare weer deurmekaar te krap, nuwe saailinge op te eet of sommer net in die koelte onder die plante te rus op 'n snikhete dag. Eintlik weet ek nie hoe op aarde ek nog 'n tuin het nie - ses hoenders (dis nou saam met Peeps en Mr. Brown, die twee hane) is nie ideaal as jou mikpunt 'n pragtige en ordelike tuin is nie!

Mr. Brown, wat ek uit die asblik gered het. Jy kan meer daaromtrent hier lees.

Peeps - Sy ma het hom op 'n week oud verlaat, net so gelos om terug te gaan na haar haan. Vir drie dae het ek na sy hartverskeurende geroep geluister totdat ek dit nie meer kon vat nie en hom binne gebring het. Peeps het saam met Snoodles, ook uit die asblik gered, in my ateljee groot geword.

Peeps, hier al drie weke oud, in my ateljee

As mens eers hoenders in jou lewe gehad het, kyk jy anders na hierdie geveerde vriende van ons. Sedert ek my girltjies so diep leer ken het, kan ek glad nie meer hoendervleis eet nie. Elkeen het 'n persoonlikheid van sy eie en hul intelligensie is verstommend. Kom wanneer 'n mens roep, verlaat die kamer (hulle kom almal gereeld die huis in!) wanneer jy met jou vinger buitentoe wys en spring op jou skoot as jy dit aandui. Hulle lief om geliefkoos te word en die heerlikste gevoel is wanneer 'n sagte hoender haar kop in jou nek indruk.


Kiep, hier bo, het ook van kleins af in my ateljee groot geword. Op my skoot gesit wanneer ek blog of skilder, in my lessenaar laai geslaap en my ateljee heeltemal haar tuiste gemaak. Toe sy so ses weke oud was, het sy by die ander hoenders in die tuin aangesluit en toe dit tyd was vir haar eerste eier toe sy so 19 weke oud was, het sy my ateljee gekies om 'n nes te maak en daarna elke dag ingekom om ontbyt af te lewer! Dit was omtrent 'n storie om haar te leer dat die nesbokse in die hok perfek is, maar sy het dit gou gesnap. Nie dat dit haar stop om kort-kort nou nog, op die ouderdom van 5 jaar, in my ateljee in te stap nie en 'n plek te soek om 'n eier te lê nie!

Snoodles, my "chick met attitude", wat ook een van die asblik babies was - haar het ek uit die eier gehaal en dit was liefde met die eerste oogopslag toe haar ogies myne vir die eerste maal ontmoet het. Sy en Peeps het saam in my ateljee groot geword en hulle is nou sielemaats.


Hettie is wild! Heeltemal wild! Lank, lank terug toe sy nog jonk was, is sy gejaag om gevang te word (het jy al ooit probeer om 'n hoender te vang wat nie gevang wil word nie?) en sy het dit nog nooit vergeet nie. Dis nog 'n ding, hul geheue is soos dié van 'n olifant. Doen iets aan 'n hoender en hul vergeet dit nooit nie. Eendag het sy vir my so 'n bietjie siek gelyk, maar ek moes wag tot dit donker was en almal op hulle stokke was voordat ek haar kon vang om bietjie medisyne te gee. Sy het ook 'n skerp oog vir gevaar en is altyd eerste om al die ander te waarsku oor enige waarneembare gevaar, miskien 'n kraai in die tuin of 'n valk hoog bo die bome.

Totdat jy 'n hoender lief gehad het, is deel van jou siel nog dood.
 

Vrydag 23 Januarie 2015

Eet uit die tuin



Hoogsomer is amper oor die wal maar die dae is nog vol sonskyn. Heerlike reën het die landskap met die pragtigste groen getooi en die veld rondom ons plot is in volle blom met allerhande veldblommetjies.


So gepraat van blommetjies - wat is jou gunsteling dis om voor te berei op 'n warm somersdag? Myne is 'n heerlike slaai met Kappertjie-blommetjies en vars-gekapte kruie-botter, sowel vir die eet as vir die mooi. Kappertjieblare het 'n ietwat peperige smaak en het tien maal soveel Vitamien-C as blaarslaai. Die blomme is eetbaar maar 'n bietjie smaakloos maar gee wonderlike dramatiese kleur aan die slaai.


Natuurlik is hoenders en 'n groentetuin 'n moet vir enige tuinliefhebber - daar is niks beter as varsgeplukte slaai en eiers vars uit die nes nie!



Nog 'n gunsteling is eierslaai. Ek kry tussen 5 en 8 eiers 'n dag van my hoenders, so ek het al allerhande dinge met eiers probeer! My gunsteling eierslaairesep het ek vanaf Sarie-tydskrif gekry :

4 hardgekookte eiers 
2 huisies vars knoffel, fyngedruk 
2 koppe botterblaarslaai (ek gebruik gewone blaarslaai)
100 ml olyfolie 
30 ml suurlemoensap 
100 g Parmesaan-kaas, gerasper 

Gooi sout en vars gemaalde swartpeper na eie smaak oor. Was die blaarslaai goed af. Droog die blare deeglik af met kombuispapier. Druk die eiers met ’n vurk fyn. Sit die blare in ’n groot slaaibak en strooi die Parmesaan-kaas oor. Voeg die eier by en meng deur. Klits die olie, suurlemoensap en knoffel saam. Gooi die slaaisous oor die blare net voor jy dit opskep (die blare sal pap word as dit staan). Onthou, die kaas bevat reeds heelwat sout; hou jou hand lig met die soutpot. Smaail! En Kappertjieblomme lyk net so mooi in hierdie slaai.


Twinings het 'n paar heerlike vrugte- en kruievermengings bekend gestel wat jou dors op 'n warm somersdag dag kan les. Hulle kombineer sappige vrugtegeure soos pomelo, lemoen, swartbessie en framboos met aromatiese kruie vir 'n strelende kaffeíenvrye tee wat enige tyd van die dag of nag gedrink kan word of dit heerlik stomend is of met ys op 'n somerdag. My gunsteling is Ginseng & Vanilla; ek kan Vanielje in ENIGE iets drink of eet!

Jy kan natuurlik ook jou eie tee voorberei met 'n paar plante uit jou tuin soos kruisement, Bee Balm (Monarda didyma) en Lemon Balm, ook van die kruisement familie en roosblare en sonneblomsaad.

 
Foto vanaf Wikipedia

Het jy geweet vanielje is van die orgidee-familie? Dit groei meesal in tropiese lande, en die grootste produsente sluit in Madagaskar, Indonesië, Sjina, Mexiko, die VSA (Florida) en verskeie state in Sentraal-en Suid-Amerika. Die kriteria vir die kwaliteit van vanielje is die lengte van die peule - hoe langer, hoe duurder. En Vanielje is die tweede duurste spesery na Saffraan.

Saffraan (waarvan ek NIKS hou nie), is 'n spesery van die blom van die Saffraankrokus, en is inheems aan Suidwes-Asië. Ek het g'n idee waarvoor dit gebruik word nie en is ook nie juis van plan om dit OOIT te gebruik nie!


.