Sondag 05 Augustus 2018

Inheemse Blou

Gladiolus carinatus
Blou Afrikaner 
(foto vanaf Mahendran Moodley)

Inheems aan Suid Afrika, meesal langs die kus vanaf sentrale Namaqualand (Noord-Kaap) suidwaarts tot Kaapstad en vanaf daar ooswaarts to by Knysna omgewing. Dit kom ook voor in berggebiede binnelands  vanaf die Weskus. Groei meesal in goed gedreineerde, sanderige grond. Ook bekend as Sandpypie of Blou pypie.

Vrydag 08 Desember 2017

Totsiens aan my Gauteng se reën


Hoor daar, buite val dit.

Een, twee, ewe skielik

Alomvattend neerslag;

Spat vinnig en egalig.

Druppels trippel op die teerpad,

Somersblareblare nat,

Vloei af met strate na

Verstopte dreingate.

Tip-tap teen die dakke.

Druppend van ‘n boom se takke.

Nat, pap, water tap,

Trap jy in die sop.

By my heers die lus om maar net

By die huis te bly en dus

By niemand hoef te maak of ek

By hulle tuis voel nie.

Binne is dit droog, sug

Voor die kaggelvuur, sit

Net vir ‘n ruk en tuur

En hoor hoe kraak die hout.

Die motreën is aanhoudend, word

Soms onderskat, pla sommiges,

Maar bied vir my ten minste

‘n Verskoning om te rus.

Die reënweer bring ook mense nader:

Onder sambrele, afdakke

Of komberse, rondom vure,

‘n Kans vir nader skuur.

My Gauteng se reën stel

My nooit teleur om, as

My gedagtes wandel,

My gemoedsvure te blus.


Vir my is dit totsiens aan Gauteng se wonderlike somerreëns. Ons het ons kleinhoewe verkoop na 42 jaar en verhuis na die Noordkus (KwaZulu Natal, Suid Afrika) in so 'n week of wat. Dit was moeilik vir my om vaarwel aan my tuin te sê,  maar daar lê nou wonderlike moontlikhede voor my om iets nuuts te leer - Natal se bome, veld-grasse, blomme, diertjies en Natal se voëls - ek sien uit na ure se voëls kyk, op die strand loop en ek sal soveel as moontlik foto's neem om te wys. Sien julle later!

Dinsdag 03 Oktober 2017

Tolbos | Tumbleweed


Ground Lily, Tumbleweed, Karoo Lily (Boophone disticha)
Order: Asparagales.
Familie: Amaryllidaceae

Kom voor dwarsdeur die Karoo en die somer reënval gebiede van Suid Afrika, die Oos Kaap, Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, Noord Cape, Noord Wes en die Wes Kaap.Blomtyd is gedurende November tot Desember.

‘n Tolbos is ‘n strukturele part van die bo-grondse anatomie van ‘n klomp spesies of plante, ‘n diaspoor wat, as dit volgroei en droog is, vanself loskom van die wortel of stam en dan rol dit weg in die wind. Hierdie rond-waaiende tolbossies het meeste van ons al gesien oral in ons land.



Tolbossies kom gewoonlik voor in droë gedeeltes en vlaktes waar daar baie wind is. Daarom kan hulle so heerlik voortrol en dit bly tog maar eintlik mooi. Behalwe die saad en wortelstelsel van die tolbossie is die weefselstruktuur dood. Hierdie dooie weefsel is nodig vir die struktuur om te degradeer en dan te skei sodat die tolbos “blom” kan ontsnap en die sade dan kan versprei gedurende die rond waai in die wind. Die saad wat so ontsnap ontkiem vinnig sodra dit in ‘n vogtige, nat gebied val.

Baie tolbos spesies is baie wild en ru en is ‘n onkruid. Tolbossies is in verskeie families geklassifiseer selfs onder die Amaranthaccae, Amaryllidaceae, Asteraceae en vele meer. In sommige van hierdie families kom pragtige tolbossies voor wat regtig in verskillende ligte kleure te sien is. Gewoonlik is dit wit, roospienk tot ligte pers. Die tolbossie is vol speke met klein blommetjies op die punte.

Sommige spesies het lang lelie-agtige, spiesvormige, harde regopstaande blare, met die steel van die tolbos wat in die middel van die twee rye blare verskyn. Die steel van die tolbossie is kort en redelik dik. Daar is ook spesies wat lyk of hulle sulke gekrulde blare vanuit die grond maak en ook sekere vorms wat lyk soos ‘n voëltjienessie (net groot).

Foto vanaf Wikipedia

In sekere droë gebiede van die wêreld is tolbossies ‘n verklaarde onkruid want van hulle gebruik tot 167 liters water uit die grond en is tolbosse ‘n kompetisie vir koring. Sommige tolbossies groei in barste wat in sement voorkom en dis moeilik om hulle weer uit te roei. Al is die tolbossie ook so mooi om na te kyk en eintlik so ‘n wonderlike ronde harde speekbal vol klein blommetjies, is dit nogtans ‘n plant wat nie saam met gesaaides akkordeer nie.
- Die Vryburger


Saterdag 09 September 2017

Afrikaners is plesierig!


En hulle IS werklikwaar plesierig! Hierdie Afrikanertjies in my tuin (Tarlton, Gauteng, Suid Afrika) laat my altyd glimlag wanneer ek tussen hulle rondloop, want daar is g’n onkruid in die omgewing nie!

My pa het nog altyd ’n hand met ’n plant gehad. As kind was ek dikwels om sy voete waar hy gesaai, geplant en gesnoei het. Meesal was dit 'n groentetuin, maar Kappertjies en Afrikaners was 'n moet tussen die groent, want "dit hou die peste weg", het my pa altyd gesê.

Een van my herinneringe uit my kinder­jare is juis saam met hom in die tuin waar hy jaarliks Afrikanertjies so al om die rand van ’n bedding slaai geplant het. Ek moet eerlik wees, dié blommetjies was nie vir my gunstelinge nie, die Krismisrose teen die heining was vir my mooi­er en die statige varkore wat geil naby die kraan, waar dit permanent nat was, geblom het, was van my gunstelinge. Dié helder oranje en geel blom­me­tjies het boonop nie lekker ge­ruik nie en in my kindergemoed was blom­me ver­onderstel om lekker te ruik en lang stele te hê wat jy diep kan afsny om in ’n blompot staan te maak. Wat my wel van afri­ka­ner­tjies gefassineer het, was die lang dun saadjies wat ek aan die einde van elke seisoen saam met my pa uit die af­ge­leef­de blomme bymekaargemaak en in ’n plastieksakkie gebêre het om in die nuwe seisoen te saai.

Vandag is Afrikaners van my heel-gunsteling blomme. Ek is nou lief vir die reuk wanneer ek die blare tussen my vingers kneus en wens ek kon die reuk bottel. Gelukkig hou dit nogal lank as mens dit laat droog word, in a lappie toewerk en dan tussen die vingers kneus. Hou alle vismotte weg, gewaarborg!

Afrikanertjies hou van baie water en son maar sal nie kwaad raak as jy so bietjie van hulle vergeet nie. Hierdie geharde plantjies sal jou nog steeds beloon met hul skoonheid. 'n Ekstra bonus is dat jy nooit weer sonder kleur in jou tuin sal wees nie. Die saadjies wat aan die einde van herfs afval op die grond, beloon jou met pragtige kleur in lente.

 En boonop lok dit skoenlappers en bye na jou tuin! Wat n bonus!

Strooikussing ideaal vir jou tuinstel 


Beskikbaar in Klein, Medium en Groot.

Dinsdag 18 Julie 2017

Nentabos (Kalanchoe rotundifolia)


Dis winter. Geen ekskuus nie, ek weet, maar die enigste blomme in my tuin op die oomblik is my Nenta-bosse (Kalanchoe rotundifolia) - dit blyk hulle hou van die koue, my hele tuin is vol blommende Nenta-bossies.


Kalanchoe rodundifolia is inheems aan Suider Afrika en kom wydverspreid voor in Suid Afrika en Zimbabwe. Dit groeie beste in ligte skaduwee en alhoewel hulle droogte-bestand is, blom hulle mooier as hulle meer water kry.

Die pragtige blomme van die Nentabos

Nentabos met Echeverias in die agtergrond

Propagasie van die Nentabos is besonders maklik. Dit kan óf gedoen word deur die saad óf deur stoksnysels of van die blare in potjies of direk in die grond te steek. Die sade is verskriklik fyn so moet bymekaar gemaak word voordat deur die wind versprei word waar hulle onmiddellik posvat en honderde plantjies uitstoot. 

Die sade van die Nentabos

My moederplant waarvan ek al vele voortplantings gedoen het. Pluk net 'n paar blaartjies of sny 'n stokkie af en druk in die grond. Deur die plant gereeld te snoei veroorsaak ook dat dit meer van 'n bos vorm. Hulle kan tot 1m hoog word en neig om om te val as daar baie blomme is.

'n Paar nuwe steggies en blare sal binnekort gereed wees om in die tuin te plant.

Stuur 'n Groetekaartjie of 'n

Poskaart aan 'n vetplantliefhebber!