Maandag 08 Julie 2024

Hoekom het ek nie rose in my tuin nie?


Blomme vorm 'n belangrike deel van plantlewe en bly nog een van die groot wonders van die natuur. Rose is een van daardie mooi, romantiese blomsoorte wat baie gewild is en wat harte reg oor die wêreld daagliks verbly. Selfs 'n siek mens kan liries raak oor rose, want die geure en kleure is baie besonders.

"Icebergs" uit my vorige tuin

'n Vriendin van my het verlede winter die pragtigste rose in haar tuin gehad. Ek het ook eens op 'n tyd rose in my tuin gehad. Hoekom het ek nie nou rose in my tuin nie? Ek weet dis 'n besluit wat ek op een of ander tyd geneem het, maar kan nou skaars onthou hoekom...


Ek verkies 'standaard' of 'floribunda' rose, soos Icebergs. Dit het minimale versorging nodig, anders as die 'T-hybrids', wat 'n hele ander storie van versorging is. Icebergs is Suid Afrika se mees populêre roos omdat hule so prolifies blom. Daar is selfs variateite wat net met 'n paar uur son 'n dag kan klaarkom. Iceberg is 'n floribunda rooskultivaar ontwikkel in Duitsland in 1958. Dis ook bekend as 'Korbin', Fée des Neiges en Schneewittchen.

"Johannesburg Gold" uit my vorige tuin

Ek het wel van die T-hybrids gehad en ek onthou al die gesnoeiery en versorging elke lente. Al die gesprei vir luise en allerhande rooi roes. Dalk is dit een van die redes waarom ek besluit het om nie meer rose te plant nie...

Ek het selfs 'n paar Johannesburg Gold's gehad, wat baie raar en vreeslik gewild was in die 70's toe dit net uitgekom het. Maar as dit nie genoeg water kry nie, val die blare sommer af, iets wat my nie veel aangestaan het nie!

'n Pienk Floribunda uit my vorige tuin

O ja, nou onthou ek hoekom ek nie rose in hierdie tuin van my geplant het nie - ek het besluit op alleenlik inheemse plante en bome. En alhoewel ek aanneem daar is dalk inheemse rose, ek weet regtig nie genoeg omtrent rose om daarop te kommentaar nie, so ek het besluit aalwyne, vygies en Spekbome is vir my!



Nieteenstaande die feit dat Spekbome droogtebestand is, kom hulle tot hulle volle reg wanneer hulle genoeg water kry.

::



.

Dinsdag 02 Julie 2024

Die geluid van liefde in die lug



Wanneer daar insekte en voëltjies in jou tuin is, is daar liefde in die lug! In die insekwêreld word klanke en geure dikwels gebruik om ’n maat te vind—wat nie ’n maklike taak is as jou lewensduur net ’n paar weke is en daar maar min voornemende maats in die omgewing is nie.

Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei.

Wyfiepouoogmotte vind ’n maat deur ’n reuk af te skei wat so sterk is dat ’n mannetjie byna 11 kilometer daarvandaan die wyfie kan vind. Sy sensitiewe voelers kan ’n enkele molekule van die reuk waarneem.
Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak!

Drolpeer - Dombeya rotundifolia - foto vanaf Veldwagter

Halleria lucida langs 'n ou stomp en Vuurpyle

Maar dit gaan nie net oor die gebruik van gifstowwe nie. Ons kan heelwat doen om ons tuine meer aanloklik vir die veervolk te maak. Daar is heelwat plante wat veral skoenlappers kan terug lok tuin toe, soos die Koraalboom (Erythrina lystemon), die Notsung, ook genoem Fuschia, (Halleria lucida), en die Drolpeer (Dombeya rotundifolia). 

‘n Goeie keuse vir tussen klippe of op ‘n rotstuin is die Crassula perfoliata. Ander plante is die Sonbekkiebos (Metarungia longistrobus), Fynblaarrooihout (Ochna serrulata), en die Wilde-pynappel (Eucomis Comosa, Eucomis autumnalis en die Eucomis humilis).


Al die vuurpyle (Kniphofia) variëteite, Makhaya bella, Freylinia tropica, Juncus effesus en selfs die Varkoor hou van skaduwee en baie water.


En water in jou tuin is absoluut noodsaaklik vir die insekte en voëls om hulle daaglikse takies te doen, soos jou grond omskoffel, oorvloedige blaartjies op te vreet en sommer maar net baie lewe in jou tuin te skep!

Geniet die skoenlappers wat terugkom en onthou -- ‘n ruspe is net ‘n skoenlapper wat nog nie vlerke gekry het nie!

- Sommige van die inligting vanaf 'Kormorant' 

.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...