Vrydag 21 Junie 2024

Herfsaande

 


Werk jy ooit in die aand in jou tuin? Hier by die kus doen ek dit gereeld, want partymaal is dit gans te warm vir my gedurende die dag, veral in die somer.

Foto vannaand om 7-uur geneem met iPhone 11 Pro

Vannaand, terwyl ek besig was om die tuin bietjie nat te spuit, het dit my opgeval hoe lewenslustig die plante in die aand lyk. Die rede hoekom ek nat gespuit het, is omdat die plante heeltemal verlep gelyk het vanmiddag.  Dit was vandag besonders warm vir 'n Herfs-dag. Maar vannaand het hulle vars gelyk en op aandag gestaan vir die koeler luggie.


Nog 'n rede om in die aande tyd in die tuin te spandeer, is die pragtige geluidw van die krieke en rietpaddas, selfs die vlermuise soos hulle laag oor die tuin swiep. En dis ook die tyd wanneer allerhande snaakse goeters hul verskyning maak, soos die mol wat ek eergisteraand in die tuin rond gejaag het - wou hom nie seermaak nie, wou net hê dat hy moet trek na anderkand my heining! Dis ook 'n goeie tyd om slakke bymekaar te maak en anderkant die heining los te laat.


Aangesien dit al amper einde-Mei is, is dit streng gesproke seker al Winter, maar hier by die kus ken ons mos nie "winter" nie. 'n Paar 20°C dae met warm kouse en dis ons Winter-ondervinding. Selfs die Swaeltjies kies nie die pad in April nie, hulle dans dwarsdeur die jaar oor die suikerriet anderkant my heining. Dis net sekere plante en bome, soos die Koraalboom (Erythrina lysistemonwat Winter aankondig met blaarlose takke en pragtige rooi blomme.




Fotos vanaf Sanbi


Soggens is sagter
en die neute word donkerder
en die bessies het 'n ronder gesig.
Die roos is nie meer in die stad nie.
Maple dra 'n geel sjaal.
Die platteland 'n skarlakenrooi rok,
En ek, om nie te verouder nie,
Ek sal 'n juweel dra.

Die Somer is Verby
--Emily Dickensen


Saterdag 15 Junie 2024

Wanneer laas...?

.
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.
Hier buite was dit effens toegetrek met ‘n ligte en aangename briesie.
.
Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie.
.
Hoekom nie?
.
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?
.
Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons aangaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.
.
Wanneer was die laaste maal dat jy ‘n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe ‘n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel…?
.
 .
.
Hoekom dit nie vandag doen nie?
.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...