Woensdag 29 April 2015

My eie stukkie paradys


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is...

Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.

Jy sou lag as jy dit moet sien, dis glad nie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.

Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.

Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings.

Vol lewe. Selfs in winter.

Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...


.

Saterdag 25 April 2015

Jou wintertuin


Junie is ‘n luilekker maand in die tuin. Jy kan ontspan en konsentreer om die lewegewende sonstrale toe te laat om jou winterlyf salig op te warm. Daar is minder om te doen as gewoonlik, so geniet die anderse skoonheid van hierdie koue maand. ‘n Tuin is egter ‘n lewende organisme wat steeds sekere onderhoudstake verg. Gebruik die rusfase tot jou voordeel deur juis nou geharde en semi-geharde plante te plant. Met die flouerige sonnetjie word waterverlies tot ‘n minimum beperk, asook oorplantingskok. Net so is dit nou die tyd om plante wat op die verkeerde plek geplant is, te verplant.

Dit is ook die perfekte tyd om onwettige indringerplante in jou tuin te identifiseer en uit te roei. Neem voorbeelde na jou tuinsentrum vir identifikasie en doen navraag oor moontlike inheemse plaasvervangers.

Kleur is ‘n onderwerp wat altyd hierdie tyd van die jaar na vore kom en gewoonlik in die vorm van ‘n gekerm oor die vaal, kleurlose en droewige winter. Ons almal sit en wag met reuse verwagting op die lente, want dan gaan ons beter voel. Alles wat die winter ‘n wonderlike, spesiale tyd maak word vernietig deur die onjuiste siening dat dit vaal en dood is.


Aalwyne is ongetwyfeld dié plante wat die meeste aandag in die winter trek. Hulle kan die rol vervul van statige fokusplante, potplante of kleurvolle grondbedekkers. Die verskeidenheid is groot en met hul stylvolle, argitektoniese voorkoms is daar plek in van die modernste kontemporêre ontwerpe tot inheemse natuurtuine. Aalwyne is gehard en bestand teen droogte.

 Petunias (P. × atkinsiana, ook bekend as P. hybrida)

Gesiggies - (Familie Violaceae, genus Viola)

Viooltjies (Familie Violaceae, genus Viola)
Petunias kan in massas in warm sonnige beddings geplant word. Hulle floreer in die kouer, droër maande en blom so sterk dat hul blare nie eers sigbaar is nie. Gesiggies en viooltjies is gemaak vir nou. Hulle is dankbaar, gehard en veelsydig.


Die Agapant is ongetwyfeld een van ons inheemse botaniese skatte. Dit is na alle uithoeke van die aarde uitgevoer, maar kom net in Suider-Afrika in die natuur voor, waar dit wild groei in al ons provinsies, behalwe die Noord-Kaap, sowel as in Lesotho, Swaziland en Mosambiek. Plant hulle nou en hulle sal jou die hele somer lank beloon met hul pragtige blomme.


BUDDLEJA SALVIFOLIA/SALIEHOUT/SAGEWOOD
Immergroen boom tot 8m hoog met grys blare. Trosse pers/wit blomme in die laatwinter wanneer daar niks anders is nie. Dit lok geweldig baie insekte, voëƒls en skoenlappers. Vra nie baie water nie, groei goed in son of skadu. NB: aggressiewe wortelstelsel, plant ver van geboue en plaveisels.


Plant ’n confettibos (Coleonema pulchellum)
Mei tot September is ’n ideale tyd om die confetti-bos (Coleonema pulchellum) met sy pragtige pastelblomme te plant. Die nektar lok skoenlappers, bye en ander klein insekte, wat op hul beurt dan ook allerhande pragtige voëltjies lok. Confettibosse weerstaan ligte tot matige ryp en die herfs is die beste tyd om hulle te plant. Kies 'n sonnige plek waar die grond goed dreineer.

.

Dinsdag 21 April 2015

'n Vrugbare tuin met erdwurms


In Suid Afrika is ongeveer 80% van die woonhuise se tuine glad nie geskik om die natuur se siklus te kan onderhou nie. Onder andere bestaan die volgende algemene probleme:
  • Die tuine en meer spesifiek die beddings se vog persentasie is te laag.
  • Die blare, takkies en bas wat van die plante af val, word nie in die tuine se grond ingewerk nie, dit word eerder uit die tuine verwyder of dit is nie voldoende nie.
  • Die grasperke en beddings beskik oor min of selfs geen erdwurms nie. 
Deur onder andere die ondergenoemde aanpassings in jou tuin aan te bring, kan jy jou tuin se vrugbaarheid dramaties verhoog:
  • ‘n Konstante toediening van voldoende water om die plante te onderhou. 
  • Wanneer daar afval plantmateriaal in jou beddings beland, kan jy dit in jou beddings inwerk.
Jy kan erdwurms in jou beddings plaas om die afbreking van plantmateriaal te doen. Die voginhoud moet voldoende wees vir die erdwurms om deur die grond te kan beweeg. Die beddings moet nie so veel water ontvang dat dit letterlik opdam nie. Jy kan eerder minder hoeveelheid water, maar meer gereeld water toedien. Wanneer ek in my tuin spit en op 'n erdwurm afkom, sal ek hom versigtig in die sagte grond terug sit wanneer ek klaar is. Ek het gister reeds die hengelwinkel besoek om nog erdwurms te koop  om in die beddings te plaas.

Probeer om skadu oor die beddings te verkry deur middel van die plante soos bv grondbedekkers of bome. Dit sal die vog in die grond beskerm. Indien jou beddings baie sanderig is, sal dit help om organiese kompos in die beddings in te werk. Sanderige grond hou nie vog goed nie en dit het ook baie min voedingswaarde.


Die erdwurm tipe wat die beste geskik is vir hierdie doel is beslis nie die Karibawurms nie. Die geskikste wurm is die “Slangwurm of wildewurm” (Amynthas Corticis) soos wat dit algemeen in Suid Afrika bekend is. Dit staan ook bekend as “Snake Worms, Black Wriggler or Crazy Worms”.

‘n Baie belangrike aspek van erdwurms wat jy altyd moet in gedagte hou is dat hulle uiters lig sensitief is. Dus is dit baie goed om skadu oor jou beddings te hê en dat die bolaag van die grond bedek word met dooie plantmateriaal. Om die taak van die erdwurms moontlik te maak, is dit noodsaaklik dat die dooiemateriaal vogtig gehou word.

Dus, as deel van die proses om jou tuin se plante, struike en bome tot volle potensial te kry is dit noodsaaklik om die grond in die tuin voortdurend van voedingswaarde te voorsien.

.

Vrydag 17 April 2015

'n Binnenshuise Wintertuin


Aan die begin van elke winter word meeste van my geliefde vwtplantjies binne toe gedra, 'n jaarlikse winter-gebeurtenis wat my waskamer in 'n blommekamer verander. Tussen wasmasjiene en tuimeldroërs en opgevoude wasgoed geniet hulle 'n plekkie in die son. En daar bly hulle en gesels ons met mekaar tot Lente haar kop uitsteek en almal weer uitgedra word na hulle respektiewe plekkies buite op die stoep of in die tuin.



Sympervivums, 'n geskenk van 'n geliefde vriendin





Sedum rubrotinctum


::

Maandag 13 April 2015

Natuurbewaring



Jagters, wat is jul beleid?
Kry jul regtig nie spyt?
Om ons wild so af te maai?
Trofeë jagters laat net met horing en tande waai.

Ons velde word kaal gestroop,
van wilde diere wat het daar geloop.
Kyk na ons trotse sierlike Koedoe bul,
met horings wat na die hemel opkrul.

Ons groottand vlakvark, stert in die lug,
pragtig, maar wat vir sy lewe moet vlug.
Die sierlike gemsbok met sy swart-wit bles,
jagter se prooi, doodskoot of gekwes.

Ou Vlap-oor, ‘n pragberg van ‘n olifant
die trofeë jagter skiet hom net vir ‘n tand.
Stadig stap ons ou Kraagmannetjie leeu,
wat, spaar my! met sy donderbrul skreeu.

Kalahari-springbok wat kromrug pronk,
sê jul kinders geniet ons al’s hul nog jonk.
Ja jy, wie se geld jou pla,
ons diere vra net vir jou gena.

Skenk eerder geld vir bewaring,
en bring jou uitroei hart tot bedaring.
Dankie vir jou reuse aandeel,
dat ons ook vir jou nageslag kan aanteel.
- Onbekend

::
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...