Saterdag 03 Januarie 2015

Balsemkopiva - Bulbine frutescens


‘n Inheemse en pragtige en vrolike plant vir jou tuin wat oulike randplante asook houer plante maak is Bulbine frutescens of Balsemkopiva. Die plantjie groei maklik en alhoewel ek myne as saailinge gekoop het, kan jy eenvoudig ‘n stukkie in die grond druk en omtrent drie weke later het jy ‘n nuwe plantjie.


Balsemkopiva plantjies benodig nie baie water nie, hulle is waterslim plante en hulle oorleef ook taamlike swaar ryp redelik maklik. Hulle kan oorleef op baie droë gebiede en hou van vol son. Boonop lok hulle baie bye en skoenlappers na jou tuin. 


Dis ‘n eg Suid Afrikaanse plantjie met baie medisinale waarde. Die blaarsap word gebruik vir onder andere sere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope en insek bytplekke. Met tuinwerk is dit onvermydelik om soms skrape en steke op te doen, dan pluk ek sommer 'n blaartjie (of stengel) en smeer die sap aan die wond.


Daar is nie nóg ’n medisinale plant wat so veeldoelig soos die kopieva (Bulbine frutescens) is nie. Geen huishouding behoort daarsonder te wees nie. Dié krui is ’n ongelooflike kuur vir enige velkwaal. Dit kan gebruik word om velkwale soos ekseem, byt- en steekplekke, sproete, aknee, velvlekkies, liddorings, bloublasie-wonde, brandwonde, sonbrand, gebarste lippe en bedsere te behandel. Dit bevat ook antibiotika en dien as bloedstelpmiddel en ligte ontsmettingsmiddel. Selfs wintershande en bruin vlekkies op die hande kan met bulbine-produkte behandel word.

Die pragtige blomme van Bulbine


Balsemkopiva vertoon pragtig in enige pot solank as dit in vol son is. Alhoewel droogte-bestand, groei Balsemkopiva baie weliger as dit baie water kry.

 Bulbine vertoon pragtig teen 'n aftergrond van Afrikaners 

Kappertjies groei welig sommer so tussen die Bulbine 

As jy bulbine wil plant, koop ’n plantjie by jou naaste kwekery. Maar dit is vreeslik maklik om te plant en as jy 'n steggie van 'n vriendin kan kry, steek dit in 'n pot of in jou tuin in 'n sonnige plekkie en jy sal nooit weer daarsonder wees nie! Dit stoot gereeld klein plantjies uit en binnekort sal jou plant 'n groot bos wees, sommer so 'n halwe meter in omtrek.

.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...