Saterdag 09 September 2017

Afrikaners is plesierig!


En hulle IS werklikwaar plesierig! Hierdie Afrikanertjies in my tuin (Tarlton, Gauteng, Suid Afrika) laat my altyd glimlag wanneer ek tussen hulle rondloop, want daar is g’n onkruid in die omgewing nie!

My pa het nog altyd ’n hand met ’n plant gehad. As kind was ek dikwels om sy voete waar hy gesaai, geplant en gesnoei het. Meesal was dit 'n groentetuin, maar Kappertjies en Afrikaners was 'n moet tussen die groent, want "dit hou die peste weg", het my pa altyd gesê.

Een van my herinneringe uit my kinder­jare is juis saam met hom in die tuin waar hy jaarliks Afrikanertjies so al om die rand van ’n bedding slaai geplant het. Ek moet eerlik wees, dié blommetjies was nie vir my gunstelinge nie, die Krismisrose teen die heining was vir my mooi­er en die statige varkore wat geil naby die kraan, waar dit permanent nat was, geblom het, was van my gunstelinge. Dié helder oranje en geel blom­me­tjies het boonop nie lekker ge­ruik nie en in my kindergemoed was blom­me ver­onderstel om lekker te ruik en lang stele te hê wat jy diep kan afsny om in ’n blompot staan te maak. Wat my wel van afri­ka­ner­tjies gefassineer het, was die lang dun saadjies wat ek aan die einde van elke seisoen saam met my pa uit die af­ge­leef­de blomme bymekaargemaak en in ’n plastieksakkie gebêre het om in die nuwe seisoen te saai.

Vandag is Afrikaners van my heel-gunsteling blomme. Ek is nou lief vir die reuk wanneer ek die blare tussen my vingers kneus en wens ek kon die reuk bottel. Gelukkig hou dit nogal lank as mens dit laat droog word, in a lappie toewerk en dan tussen die vingers kneus. Hou alle vismotte weg, gewaarborg!

Afrikanertjies hou van baie water en son maar sal nie kwaad raak as jy so bietjie van hulle vergeet nie. Hierdie geharde plantjies sal jou nog steeds beloon met hul skoonheid. 'n Ekstra bonus is dat jy nooit weer sonder kleur in jou tuin sal wees nie. Die saadjies wat aan die einde van herfs afval op die grond, beloon jou met pragtige kleur in lente.

 En boonop lok dit skoenlappers en bye na jou tuin! Wat n bonus!

Strooikussing ideaal vir jou tuinstel 


Beskikbaar in Klein, Medium en Groot.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...