Saterdag 25 April 2015

Jou wintertuin


Junie is ‘n luilekker maand in die tuin. Jy kan ontspan en konsentreer om die lewegewende sonstrale toe te laat om jou winterlyf salig op te warm. Daar is minder om te doen as gewoonlik, so geniet die anderse skoonheid van hierdie koue maand. ‘n Tuin is egter ‘n lewende organisme wat steeds sekere onderhoudstake verg. Gebruik die rusfase tot jou voordeel deur juis nou geharde en semi-geharde plante te plant. Met die flouerige sonnetjie word waterverlies tot ‘n minimum beperk, asook oorplantingskok. Net so is dit nou die tyd om plante wat op die verkeerde plek geplant is, te verplant.

Dit is ook die perfekte tyd om onwettige indringerplante in jou tuin te identifiseer en uit te roei. Neem voorbeelde na jou tuinsentrum vir identifikasie en doen navraag oor moontlike inheemse plaasvervangers.

Kleur is ‘n onderwerp wat altyd hierdie tyd van die jaar na vore kom en gewoonlik in die vorm van ‘n gekerm oor die vaal, kleurlose en droewige winter. Ons almal sit en wag met reuse verwagting op die lente, want dan gaan ons beter voel. Alles wat die winter ‘n wonderlike, spesiale tyd maak word vernietig deur die onjuiste siening dat dit vaal en dood is.


Aalwyne is ongetwyfeld dié plante wat die meeste aandag in die winter trek. Hulle kan die rol vervul van statige fokusplante, potplante of kleurvolle grondbedekkers. Die verskeidenheid is groot en met hul stylvolle, argitektoniese voorkoms is daar plek in van die modernste kontemporêre ontwerpe tot inheemse natuurtuine. Aalwyne is gehard en bestand teen droogte.

 Petunias (P. × atkinsiana, ook bekend as P. hybrida)

Gesiggies - (Familie Violaceae, genus Viola)

Viooltjies (Familie Violaceae, genus Viola)
Petunias kan in massas in warm sonnige beddings geplant word. Hulle floreer in die kouer, droër maande en blom so sterk dat hul blare nie eers sigbaar is nie. Gesiggies en viooltjies is gemaak vir nou. Hulle is dankbaar, gehard en veelsydig.


Die Agapant is ongetwyfeld een van ons inheemse botaniese skatte. Dit is na alle uithoeke van die aarde uitgevoer, maar kom net in Suider-Afrika in die natuur voor, waar dit wild groei in al ons provinsies, behalwe die Noord-Kaap, sowel as in Lesotho, Swaziland en Mosambiek. Plant hulle nou en hulle sal jou die hele somer lank beloon met hul pragtige blomme.


BUDDLEJA SALVIFOLIA/SALIEHOUT/SAGEWOOD
Immergroen boom tot 8m hoog met grys blare. Trosse pers/wit blomme in die laatwinter wanneer daar niks anders is nie. Dit lok geweldig baie insekte, voëƒls en skoenlappers. Vra nie baie water nie, groei goed in son of skadu. NB: aggressiewe wortelstelsel, plant ver van geboue en plaveisels.


Plant ’n confettibos (Coleonema pulchellum)
Mei tot September is ’n ideale tyd om die confetti-bos (Coleonema pulchellum) met sy pragtige pastelblomme te plant. Die nektar lok skoenlappers, bye en ander klein insekte, wat op hul beurt dan ook allerhande pragtige voëltjies lok. Confettibosse weerstaan ligte tot matige ryp en die herfs is die beste tyd om hulle te plant. Kies 'n sonnige plek waar die grond goed dreineer.

.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...